Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Neem God kinders weg om engele in die hemel te word?

Neem God kinders weg om engele in die hemel te word?

Ons lesers vra

Neem God kinders weg om engele in die hemel te word?

Wanneer ’n kind sterf, probeer vriende van die bedroefde gesin hulle dalk troos deur te sê: “God het seker nog ’n engel in die hemel nodig gehad.” Klink dit vir jou redelik?

As dit waar is dat God kinders laat sterf omdat hy nog engele in die hemel nodig het, sal dit impliseer dat hy ongevoelig, selfs wreed, is. Die Bybel sê die teenoorgestelde (Job 34:10). ’n Medelydende vader sal nie ’n kind van sy ouers af wegruk net sodat hy sy eie gesin kan vergroot nie. Geen mensevader het egter groter medelye as Jehovah nie, wie se vernaamste eienskap liefde is (1 Johannes 4:8). Sy groot liefde sal hom nooit toelaat om so harteloos op te tree nie.

Vra jou af: ‘Het God nog engele in die hemel nodig?’ Die Bybel sê dat al God se werke goed en volmaak is (Deuteronomium 32:4). Toe hy miljoene engele regstreeks geskep het, was dit ’n volmaakte skeppingsdaad, en daar was geen tekort nie (Daniël 7:10). Het God hom op die een of ander manier misgis met die aantal engele wat hy nodig gehad het? Onmoontlik! God die Almagtige sal beslis nooit so ’n fout kon maak nie. Jehovah het weliswaar party mense gekies om geesskepsele te word as deel van sy hemelse Koninkryk, maar hulle sou nie kindertjies wees wanneer hulle sterf nie.—Openbaring 5:9, 10.

Nog ’n rede waarom God nie kinders van die aarde sou wegneem om engele in die hemel te word nie, is dat dit nie in ooreenstemming met sy oorspronklike voorneme vir kinders is nie. In die tuin van Eden het God vir Adam en Eva gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit” (Genesis 1:28). Kinders is ’n gawe van God en speel ’n noodsaaklike rol in sy oorspronklike voorneme om die aarde met ’n regverdige mensegesin te vul. Dit was nooit sy voorneme dat kinders se lewe kortgeknip word en dat hulle dan in geesskepsele verander word nie. Die Bybel bevestig dat kinders “’n erfdeel van Jehovah” is (Psalm 127:3). Sal Jehovah, die God van liefde, ’n gawe terugneem wat hy vir ouers gegee het? Beslis nie!

’n Kind se ontydige dood bring groot droefheid, hartseer en pyn mee. Watter hoop het bedroefde ouers dan? Die Bybel belowe dat God tallose miljoene mense in ’n paradys hier op die aarde sal opwek. Stel jou kinders voor—weer met gesonde liggame—wat met hulle geliefdes herenig is (Johannes 5:28, 29). Dit is God se wil dat kinders grootword, die lewe geniet en oor hom en sy voorneme vir die aarde leer. Kinders wat gesterf het, is dus nie engele in die hemel nie, maar wag op ’n opstanding op ’n paradysaarde. Gedurende daardie tyd, onder die liefdevolle sorg van ons Skepper, sal jonk sowel as oud hulle daarin verheug om Jehovah God tot in ewigheid te dien.