Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Boom “waarvan die blare nie verwelk nie”

’n Boom “waarvan die blare nie verwelk nie”

’n Boom “waarvan die blare nie verwelk nie”

HET jy al ooit ’n landskap gesien wat oortrek is met blaarryke, groen bome? Jy sal waarskynlik saamstem dat dit ’n pragtige gesig is. Sal jy dink dat daar ’n droogte in die gebied is as jy talle groot, lowerryke bome sien? Nee, jy sal eerder weet dat daar ’n oorvloed water moet wees wat die bome aan die lewe en gesond hou.

Die Bybel vergelyk diegene wat geestelik gesond is, heel gepas met groot, blaarryke bome. Let byvoorbeeld op hierdie pragtige woorde in die eerste drie verse van die eerste Psalm:

“Gelukkig is die man wat nie in die raad van die goddeloses gewandel het en nie op die weg van sondaars gestaan het en nie op die sitplek van spotters gesit het nie. Maar sy behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon. En hy sal beslis word soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, sal suksesvol wees.”

Ons lees ook in Jeremia 17:7, 8: “Geseënd is die man wat op Jehovah vertrou, en wie se vertroue Jehovah geword het. En hy sal beslis word soos ’n boom wat by die water geplant is, wat sy wortels reg by die waterloop uitstoot; en hy sal nie sien wanneer daar hitte kom nie, maar sy blare sal welig wees. En in die jaar van droogte sal hy nie angstig raak nie, en ook sal hy nie ophou om vrugte voort te bring nie.”

In albei tekste word bome gebruik om toe te lig hoe iemand vaar wat doen wat reg is, in God se wette behae skep en ten volle op hom vertrou. Dit laat ons vra: In watter opsigte is so ’n persoon in geestelike sin soos ’n blaarryke boom? Kom ons ondersoek hierdie verse van naderby.

“By waterstrome geplant”

Daar word gesê dat hierdie bome “by waterstrome” of “by die water [Hebreeus, “waters”]” geplant is, nie net by een rivier of stroom nie. Soortgelyke beeldspraak word gevind in Jesaja 44:3, 4, waar Jehovah God gepraat het van hoe hy sou sorg vir berouvolle Jode wat uit gevangenskap in Babilon teruggekeer het. Deur middel van die profeet Jesaja, het Jehovah gesê: “Ek sal water op die dorstige uitgiet, en stroompies op die droë plek. . . . En hulle sal beslis uitspruit soos tussen die groen gras, soos populiere by die watervore.” Hier word daar gesê dat “stroompies” en “watervore” die geseëndes soos blaarryke populiere laat groei.

’n Mens kan ook vandag in landbougebiede watervore en strome sien wat van ’n groot waterbron, soos ’n diep put, ’n rivier, ’n meer of ’n dam af vloei. Gewoonlik is dit deel van ’n besproeiingstelsel vir landerye of plantasies. Soms word die watervore na ’n vrugteboord gelei. In sommige gevalle voorsien die strome water aan landerye aan die een kant asook aan ’n ry blaarryke bome aan die ander kant, wat moontlik die grens van die eiendom aandui.

Hoe vaar bome wat by sulke strome geplant is? Psalm 1:3 praat van ’n boom “wat sy vrugte op sy tyd gee”. In die Bybellande is daar vye-, granaat- en appelbome, sowel as dadelpalms en olyfbome. Hoewel die vyeboom met sy uitgespreide takke tot nege meter hoog kan word, groei die meeste ander vrugtebome nie baie hoog nie. Nogtans kan hulle blaarryk en gesond wees en volop vrugte op die regte tyd gee.

In die ou tyd het groot populierbome al langs die oewers van riviere en strome in Sirië en Palestina gegroei. In die Bybel word populiere gewoonlik saam met waterstrome of ‘stroomvalleie’ gemeld (Levitikus 23:40). Wilgers, wat aan populiere verwant is, het ook gegroei waar daar baie water was (Esegiël 17:5). Hierdie groot, blaarryke bome lig die idee wat die psalmis en Jeremia wou oordra, goed toe: Diegene wat God se wet probeer gehoorsaam en ten volle op hom vertrou, sal geestelik gesond bly, en ‘alles wat hulle doen, sal suksesvol wees’. Is dit nie wat ons wil hê nie—sukses in die lewe?

Skep behae in Jehovah se wet

Vandag probeer mense op baie maniere sukses behaal. Hulle raak diep betrokke by strewes wat vir hulle roem en rykdom kan meebring, maar wat alte dikwels tevergeefs en teleurstellend is. Maar wat kan ware tevredenheid en blywende geluk in die lewe bring? Jesus se woorde in die Bergpredikasie voorsien die antwoord. Hy het gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle” (Matteus 5:3). Ja, ware geluk spruit nie voort uit ’n oorvloed materiële dinge nie, maar eerder daaruit dat ons ons geestelike behoefte erken en bevredig sodat ons geestelik gesond kan wees, soos blaarryke bome wat hulle vrugte op die regte tyd gee. Hoe kan ons geestelik floreer?

Volgens die psalmis moet ons eerstens sekere dinge vermy. Hy het “die raad van die goddeloses”, “die weg van sondaars” en “die sitplek van spotters” gemeld. Om gelukkig te wees, moet ons ons afkeer van diegene wat met God se wette die spot dryf of dit selfs ignoreer.

Tweedens moet ons behae skep in die wet van Jehovah. Wanneer ons in iets of in ’n bedrywigheid behae skep, is ons op die uitkyk na geleenthede om daaraan deel te neem, nie waar nie? Om behae te skep in God se wet, beteken dus dat ons diepe waardering vir God se Woord het, ’n begeerte het om meer daaroor te leer en dit beter te verstaan.

Laastens moet ons dit “dag en nag op gedempte toon” lees. Dit beteken dat ons die Bybel gereeld lees en peins oor wat ons lees. Ons moet oor God se Woord voel soos die psalmis wat gesing het: “Hoe lief het ek u wet tog! Die hele dag oordink ek dit.”—Psalm 119:97.

Ja, wanneer ons juiste kennis en begrip van Jehovah God verkry en volle vertroue in hom en sy beloftes opbou, sal ons beslis geestelik gesond wees. Dán sal ons wees soos die gelukkige man wat deur die psalmis beskryf word—“alles wat hy doen, sal suksesvol wees”.