Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Deeglike soektog

’n Deeglike soektog

’n Brief uit Ierland

’n Deeglike soektog

DIT was weer eens ’n triestige dag. ’n Aanhoudende motreëntjie het waterdruppels op die voorruit laat vorm en my ’n wasige uitsig op die landskap gegee. Nadat ek 16 kilometer gery het, het ek die top van die heuwel bereik wat uitkyk oor Westport, ’n kusdorpie in die weste van Ierland. Die son het uiteindelik die mis verdryf sodat tientalle eilandjies oral in die baai sigbaar geword het—so pragtig soos smaragde op blou fluweel. Min word bewoon, maar plaaslike boere neem hulle vee met ’n pont om op party eilande te wei.

Al met die kus langs lê daar ’n heuwelreeks wat tot in die weste strek. Die heuwels, wat met adelaarsvarings, turfgrond en heide bedek is, het soos gepoleerde koper in die middagson gelyk. Croagh Patrick, die keëlvormige piek wat plaaslik die Reek genoem word, het die toneel oorheers. Ek het my pad gevind deur Westport se besige, nou strate, verby die Reek, en toe verder gery na ’n gebied wat selde deur Jehovah se Getuies besoek word.

Die man na wie toe ek op pad was, het nie geweet dat ek vandag kom nie. Ek het ’n brief ontvang wat gesê het dat hy onlangs hiernatoe getrek het en sy Bybelbesprekings met die Getuies wou voortsit. Ek het gewonder: ‘Hoe oud is hy? Is hy getroud of ongetroud? Waarin stel hy belang?’ Ek het vlugtig afgekyk na my sak en in my gedagtes weer seker gemaak dat ek ’n Bybel en ’n verskeidenheid Bybelpublikasies by my het. Ek het gedink aan wat ek kan sê om sy belangstelling in die Koninkryksboodskap verder te ontwikkel.

Die Reek het nou agter my gelê. Gestapelde klipmure, waarvan baie gedurende die Groot Hongersnood van die 19de eeu gebou is, het ’n lappieskombers van oop velde omsoom wat tot onder by die see gestrek het. ’n Eensame seemeeu het moeiteloos in die lug gesweef. Op die horison was daar groepies meidoring- en sleedoringbome, gebuig en kromgetrek soos ou manne met hulle rug na die wind.

Daar is geen huisnommers of straatname in hierdie landelike gebied nie. Die man se adres het bestaan uit ’n huisnaam en die dorpswyk. a My eerste doelwit was egter om die persoon te kry wat ongetwyfeld sal weet waar almal bly—die posman. Dertig minute later het ek die poskantoor gevind, ’n vertrek in ’n terrashuis wat vir dié doel verander is. Die teken op die deur het “Toe” gesê. Ek het my nie van stryk laat bring nie en het by ’n plaaslike winkel navraag gedoen, waar ek aanwysings gekry het na ’n deel van die dorpswyk.

Nadat ek nog agt kilometer gery het, het ek gevind waarna ek gesoek het—’n skerp draai na regs met ’n nou pad wat links gaan. Ek het aan die deur van ’n huis daar naby geklop. ’n Bejaarde dame het die deur oopgemaak en trots vir my vertel dat sy al haar hele lewe lank daar bly, maar sy het baie teleurgesteld erken dat sy nie weet waar die man woon na wie ek soek nie. Sy het gesê dat sy ’n oproep sou maak en het my ingenooi.

Terwyl sy gepraat het, het sy in my rigting bly kyk, ongetwyfeld omdat sy gewonder het wie ek is en wat ek wou hê. Ek het ’n beeldjie van die Maagd Maria by die deur gesien, en daar was ’n groot prent van Christus teen die muur. ’n Bidsnoer het op die kombuistafel gelê. Om haar gerus te stel, het ek eenvoudig vir haar gesê: “Ek het ’n belangrike boodskap vir hom van vriende af.”

Haar man het by ons aangesluit en vir my die geskiedenis van die gebied begin vertel. Intussen kon die vrou tydens haar eerste telefoonoproep niks uitvind nie, en sy het daarop aangedring dat ek wag terwyl sy nog mense bel. Dit het gelyk of nog niemand van die man of die huis gehoor het nie. Ek het op my horlosie gekyk. Dit was al laat in die dag. Ek het besef dat ek weer by ’n ander geleentheid sal moet probeer. Ek het hulle albei bedank vir hulle hulp, in my kar geklim en die lang terugreis begin.

Die volgende week het ek teruggegaan. Hierdie keer het ek die posman ontmoet en duidelike aanwysings gekry. Vyftien minute later het ek die kruispad gevind wat hy beskryf het. Ek het links gedraai en ’n paar keer in die nou pad op en af gery, op soek na die volgende baken, ’n ou klipbruggie. Ek kon dit nie kry nie. Uiteindelik het ek op die laaste baken afgekom, en daar, op die top van die heuwel, was die huis waarna ek so lank en hard gesoek het.

Ek het ’n oomblik lank nagedink oor hoe ek die goeie nuus sou aanbied. ’n Bejaarde man het die deur oopgemaak. “Jammer”, het hy gesê, “maar die huis waarna jy soek, is dáár.” Hy het na ’n huis gewys wat agter bome versteek was. Ek het vol verwagting soontoe geloop en aan die deur geklop. Terwyl ek gewag het, het ek na die Atlantiese Oseaan, net ’n paar honderd meter daarvandaan, gekyk. Die wind het sterker gewaai, en wit branders het gebreek oor die ongeskonde strand wat kilometers ver strek. Daar was niemand in sig nie, en daar was ook niemand by die huis nie.

Ek het nog twee keer daarheen gery voordat ek ’n jong man ontmoet het. “Dit is die regte huis”, het hy gesê, “maar die vorige huurder, die man na wie jy soek, het getrek, en ek weet nie waarheen hy is nie.” Ek het verduidelik waarom ek gekom het en uitgevind dat hierdie jong man nog nooit tevore met Jehovah se Getuies gepraat het nie. Hy is in die verlede beroof en het gewonder waarom God toelaat dat dít asook ander onregte gebeur. Hy het die jongste Wagtoring en Ontwaak!, wat juis oor hierdie onderwerp gehandel het, met graagte geneem.

Die Skrif beveel ons om deeglik te soek na skaapgeaarde persone. Ongelukkig het ek nie die man gevind na wie ek gesoek het nie. Nogtans meen ek geensins dat dit ’n vermorsing van tyd was nie. Baie mense in Ierland is gretig om van die Koninkryksboodskap te leer, en met Jehovah se seën sal die saadjies van waarheid wat in hierdie jong man se hart gesaai is, dalk eendag vrug dra.

[Voetnoot]

a In Ierland is ’n dorpswyk (townland) ’n geografiese grondgebied wat in die 11de eeu vasgestel is. Dorpswyke verskil in grootte, en party sluit honderde huise in. Die name van die dorpswyke word in die Ierse posstelsel gebruik.