Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kan jy vrede vind in hierdie veelbewoë wêreld?

Kan jy vrede vind in hierdie veelbewoë wêreld?

Kan jy vrede vind in hierdie veelbewoë wêreld?

LEWE jy in vrede? Vir baie mense is die antwoord ’n besliste nee. Hulle woon in gebiede wat deur oorloë, politieke onrus, etniese geweld of terrorisme geteister word. Selfs as jy sulke ellende gespaar is, vind jy moontlik dat jou vrede versteur word deur misdaad, teistering en onenigheid met sakevennote of bure. Ook die gesinskring is dikwels meer soos ’n oorlogsone as ’n vreedsame hawe.

Baie mense smag na innerlike vrede. Hulle soek moontlik daarna in godsdiens of in meditasie- of jogagroepe. Ander hoop om vrede in die natuur te vind—hulle gaan op vakansietoere, staptogte in die berge en wildernisgebiede of besoek natuurlike spa’s. Al lyk dit of sulke persone ’n mate van innerlike vrede vind, kom hulle dalk gou tot die besef dat hierdie vrede oppervlakkig en van korte duur is.

Waar kan jy dus ware vrede vind? Die bron van vrede is ons Skepper, Jehovah God. Waarom? Hy is die “God wat vrede gee” (Romeine 15:33). Onder die heerskappy van sy Koninkryk, wat binnekort sal kom, sal daar ’n “oorvloed van vrede” wees (Psalm 72:7; Matteus 6:9, 10). Dít is baie meer as bloot ’n kragtelose vredesooreenkoms. Sulke ooreenkomste bring dikwels maar net ’n kort onderbreking in vyandelikhede. Maar God se vrede sal al die oorsake van oorlog en konflik verwyder. Trouens, niemand sal meer leer om oorlog te voer nie (Psalm 46:8, 9). Uiteindelik sal daar vir almal ware vrede wees!

Al is dit ’n wonderlike hoop, smag jy dalk nóú al na ’n mate van vrede. Is daar ’n manier waarop jy innerlike vrede kan vind wat jou deur ons veelbewoë tye heen kan help? Gelukkig wys die Bybel vir ons hoe dit moontlik is. Kyk na ’n paar riglyne in die 4de hoofstuk van die apostel Paulus se brief aan die Filippense. Lees gerus verse 4 tot 13 in jou eie Bybel.

“Die vrede van God”

In vers 7 lees ons: “Die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.” Hierdie vrede word nie verkry deur blote meditasie of karakterontwikkeling nie. Dit kom eerder van God. Hierdie vrede is so kragtig dat dit “alle denke te bowe gaan”. Dit oortref beslis al ons sorge, kennis en redenasies. Ons sien miskien geen uitweg uit ons probleme nie, maar God se vrede kan ons met die vaste hoop vervul dat al ons moeilikhede eendag iets van die verlede sal wees.

Onmoontlik? By mense ja; maar “by God is alles moontlik” (Markus 10:27). Geloof en vertroue in God help ons om ons bekommernisse onder beheer te hou. Dink aan ’n jong kind wat in ’n groot winkel verlore raak. Hy weet vir seker dat hy net sy ma moet vind en dat alles dan weer reg sal wees. Soos daardie kind wanneer hy gevind word, kan ons vertrou dat God ons as ’t ware in sy arms sal neem. Hy sal ons vertroos en uiteindelik al ons sorge verdryf.

Baie aanbidders van Jehovah het al die vrede van God tydens uiterste beproewinge ondervind. Beskou die geval van Nadine, wat haar ongebore baba verloor het. Sy vertel: “Ek vind dit moeilik om oor my gevoelens te praat, en ek probeer altyd voorgee dat dit goed gaan. Maar diep binne-in my was my hart gebroke. Ek het byna elke dag my hart in gebed voor Jehovah uitgestort en hom gesmeek om my te help. Ek het die krag van gebed ondervind, want elke keer dat ek op my ergste gevoel en gedink het: ‘Ek kan nie meer aangaan nie’, het ek innerlike kalmte en vrede ondervind. Ek het veilig en geborge gevoel.”

Beskerming vir jou hart en verstand

Kom ons gaan terug na Filippense 4:7. Dit sê dat die vrede van God ons harte en verstandelike vermoëns sal bewaak. Net soos ’n wag ’n plek bewaak, bewaak die vrede van God ons hart sodat materialistiese filosofieë, onnodige sorge en ongodvrugtige waardes nie daar inkom nie. Kyk na ’n voorbeeld.

Baie mense in hierdie veelbewoë wêreld glo dat hulle aansienlike finansiële bates moet hê om gelukkig en veilig te wees. Hulle volg moontlik die raad van deskundiges en belê ’n deel van hulle spaargeld in aandele. Geniet hulle dan werklik innerlike vrede? Nie noodwendig nie. Hulle hou aandeelpryse dalk elke dag angstig dop en wonder of hulle moet verkoop, koop of hou. Wanneer daar ’n afwaartse neiging op die aandelemark is, raak hulle miskien paniekbevange. Die Bybel veroordeel dit beslis nie om beleggings te maak nie, maar dit bied wel hierdie wyse insig: “Iemand wat silwer liefhet, sal nie genoeg kry van silwer nie, ook nie iemand wat rykdom liefhet, van inkomste nie. Ook dit is nietigheid. Soet is die slaap van die een wat dien, of hy nou min of baie eet; maar die oorvloed wat aan die ryke behoort, laat hom nie toe om te slaap nie.”—Prediker 5:10, 12.

Filippense 4:7 sluit af deur te sê dat die vrede van God ons harte en verstandelike vermoëns “deur middel van Christus Jesus” bewaak. Watter verband is daar tussen Christus Jesus en die vrede van God? Jesus speel die sleutelrol in die vervulling van God se voorneme. Jesus het sy lewe gegee sodat ons van sonde en die dood verlos kan word (Johannes 3:16). Hy is ook die gekroonde Koning van God se Koninkryk. As ons weet watter rol Jesus speel, kan dit grootliks bydra tot die vrede wat ons in ons verstand en hart geniet. Hoe so?

As ons opreg berouvol is oor ons sondes en vergifnis op grond van Jesus se offerande vra, sal God ons vergewe, wat tot die vrede in ons verstand en hart bydra (Handelinge 3:19). Wanneer ons besef dat die lewe nie voluit geniet kan word voordat Christus se Koninkryk kom nie, sal ons nie desperaat probeer lewe asof hierdie lewe al is wat daar is nie (1 Timoteus 6:19). Ons kan natuurlik nie alle probleme vryspring nie, maar ons kan vertroosting put uit die vaste hoop dat die beste lewe nog voorlê.

Hoe jy die vrede van God kan vind

Hoe kan jy dus die vrede van God vind? Ons vind ’n paar wenke in Filippense 4:4, 5, waar ons lees: “Verbly julle altyd in die Here. Weer eens sal ek sê: Verbly julle! Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.” Toe Paulus hierdie woorde geskryf het, was hy ten onregte ’n gevangene in Rome (Filippense 1:13). Hy het nie oor sy onregverdige behandeling gekla nie, maar eerder sy medegelowiges aangemoedig om hulle altyd in die Here te verbly. Sy vreugde het ongetwyfeld nie afgehang van sy omstandighede nie, maar van sy verhouding met God. Ons moet ook leer om, ongeag ons omstandighede, ons diens aan God te geniet. Hoe beter ons Jehovah leer ken en hoe meer ons ons daarop toelê om sy wil te doen, hoe meer sal ons dit geniet om hom te dien. En dit sal tot voldoening en innerlike vrede lei.

Ons word daarbenewens aangespoor om redelik te wees. As ons redelikheid aankweek, sal ons nie te veel van onsself verwag nie. Ons weet dat ons nie volmaak is nie; ons kan nie die beste in alles wees nie. Waarom sal ons dan snags wakker lê omdat ons tob oor hoe om volmaak of, ten minste, beter as almal te wees? Ons sal ook nie van ander verwag om volmaak te wees nie. Daarom sal ons kalm kan bly wanneer hulle ons omkrap. ’n Ander vertaling vir die oorspronklike Griekse woord wat met “redelikheid” vertaal word, is “toegewendheid”. As ons toegewend is wanneer dit by ons persoonlike voorkeure kom, vermy ons woordewisselings, wat dikwels geen voordeel inhou nie, maar wat ons ’n tyd lank van ons vrede met ander sowel as van ons innerlike vrede kan beroof.

Dit lyk dalk of die volgende stelling in Filippense 4:5, “die Here is naby”, nie in die konteks pas nie. God sal wel binnekort kom om hierdie ou stelsel van dinge met ’n nuwe onder sy Koninkryk te vervang. Maar hy kan selfs nou al naby enigeen wees wat nader aan hom kom (Handelinge 17:27; Jakobus 4:8). As ons bewus is van sy nabyheid, help dit ons om ons te verbly, om redelik te wees en om ons nie te kwel oor vandag se probleme of die toekoms nie, soos vers 6 toon.

Wanneer ons na verse 6 en 7 kyk, sien ons dat die vrede van God ’n regstreekse gevolg van gebed is. Party beskou gebed bloot as ’n vorm van meditasie en dink dat enige vorm van gebed hulle groter innerlike kalmte kan gee. Die Bybel praat egter van opregte kommunikasie met Jehovah, ’n kommunikasie wat so intiem is soos wanneer ’n kind ’n liefdevolle ouer van sy vreugdes en kwellinge vertel. Hoe gerusstellend is dit tog om te weet dat ons God “in alles” kan nader. Ongeag wat op ons verstand rus of diep in ons hart verberg is, ons kan ons hemelse Vader in ons vertroue neem.

Vers 8 spoor ons aan om op positiewe gedagtes te konsentreer. Maar dit is nie genoeg om net aan positiewe dinge te dink nie. Soos vers 9 verduidelik, moet ons ook die goeie raad van die Bybel toepas. Dít sal ons ’n skoon gewete gee. Hoe waar is die spreekwoord tog: ’n Goeie gewete is ’n sagte kussing!

Ja, jy kan innerlike vrede vind. Dit kom van Jehovah God, wat dit aan diegene gee wat nader aan hom kom en wat sy leiding wil volg. Deur sy Woord, die Bybel, te ondersoek, kan jy sy gedagtes leer ken. Dit is nie noodwendig maklik om sy riglyne te volg nie. Maar dit is werklik die moeite werd, want “die God van vrede sal met [jou] wees”.—Filippense 4:9.

[Lokteks op bladsy 10]

‘Die vrede van God sal julle harte bewaak.’—FILIPPENSE 4:7

[Lokteks op bladsy 12]

Hoe gerusstellend is dit tog om te weet dat ons God “in alles” kan nader