Keur God veelwywery goed?
Ons lesers vra
Keur God veelwywery goed?
Nee; die standaard wat God in Eden met die eerste huwelik gestel het, was een vrou vir een man. Jesus Christus het later hierdie standaard vir sy volgelinge herbevestig.—Genesis 2:18-24; Matteus 19:4-6.
Maar het manne van voor-Christelike tye, soos Abraham, Jakob, Dawid en Salomo, dan nie meer as een vrou gehad nie? Ja, maar hoe word hierdie reëling in die Bybel uitgebeeld? Dit openbaar dat dié gebruik wrywing en onenigheid in die families van Abraham en Jakob laat ontstaan het (Genesis 16:1-4; 29:18–30:24). Later het God se Wet hierdie voorskrif vir elke koning ingesluit: “Hy mag . . . nie vir hom baie vrouens neem nie, sodat sy hart nie afwyk nie” (Deuteronomium 17:15, 17). Salomo het hierdie voorskrif verontagsaam deur met meer as 700 vrouens te trou! Ongelukkig het Salomo se hart wel van Jehovah afgewyk as gevolg van die slegte invloed van sy talle vrouens (1 Konings 11:1-4). Dit is duidelik dat die Bybel ’n negatiewe prentjie van veelwywery skilder.
Nogtans wonder party miskien waarom God besluit het om veelwywery onder sy volk te duld. Dink hieraan: Het jy al ooit ’n meubelstuk wat vervang moes word, tydelik geduld, dalk omdat jy gemeen het dat dit onprakties of ontwrigtend sou wees om dit op daardie tydstip te verwyder? Ons besef dat God se weë en gedagtes hoër is as ons s’n (Jesaja 55:8, 9). Maar ons kan ’n paar praktiese redes identifiseer waarom hy veelwywery ’n tyd lank geduld het.
Onthou dat Jehovah in Eden ’n “saad” belowe het wat uiteindelik Satan sal vernietig. Later is daar vir Abraham gesê dat hy die vader van ’n groot nasie sou word en dat die voorspelde Saad uit sy geslagslyn sou kom (Genesis 3:15; 22:18). Satan was vasbeslote om te keer dat hierdie Saad sy verskyning maak. Hy het hom dus daarop toegespits om die eertydse nasie Israel te vernietig. Hy het Israel dikwels verlei om te sondig sodat die nasie God se guns en beskerming sou verloor.
Om die aanvalle teë te werk, het Jehovah sy profete keer op keer gestuur om sy volk te waarsku wanneer hulle van regverdige standaarde begin afwyk het. Maar hy het vooruit geweet dat sy volk dikwels aan selfs die mees basiese gebod, soos die een teen afgodediens, ongehoorsaam sou wees (Eksodus 32:9). As hulle sou sukkel om so ’n basiese wet te gehoorsaam, hoe sou hulle dan ’n wet teen veelwywery kon nakom? Met sy volmaakte begrip van die menslike natuur het Jehovah gesien dat dit nog nie die regte tyd was om hierdie gebruik, wat in daardie dae reeds lank gevestig was, te verbied nie. As hy dit gedoen het, sou Satan ’n baie maklike manier gevind het om Israel te verlei om te sondig.
God se tydelike toelating van veelwywery het ander voordele gehad. Dit het die nasie gehelp om vinnig te vermeerder. Die groter bevolking het help verseker dat die nasie tot die tyd van die Messias sou voortbestaan. Veelwywery het moontlik ook ’n mate van beskerming aan party vroue gebied, aangesien hulle in gevaarlike tye beskutting en ’n huisgesin sou hê.
Hou egter in gedagte dat hierdie gebruik nie sy oorsprong by Jehovah gehad het nie. Hy het dit vir ’n beperkte tyd geduld, terwyl hy dit streng beheer het om misbruike te voorkom (Eksodus 21:10, 11; Deuteronomium 21:15-17). Toe Jehovah besluit het om veelwywery onder sy aanbidders af te skaf, het hy sy eie Seun gebruik om die standaard wat in Eden vir die huwelik gestel is, te herbevestig. Jesus het sodoende veelwywery onder sy volgelinge verbied (Markus 10:8). Toe het hierdie waarheid selfs duideliker na vore gekom: Die Wet van Moses was goed terwyl dit van krag was, maar “die wet van die Christus” is selfs beter.—Galasiërs 6:2.