Mite 5: Maria is die moeder van God
Wat is die oorsprong van die mite?
“Die verering van die moeder van God is grootliks bevorder toe . . . die heidense menigtes die kerk binnegestroom het. . . . Hulle vroomheid en godsdiensbewustheid [dié van heidene wat tot die Christelike godsdiens bekeer is] is duisende jare lank deur die kultus van die ‘groot moeder’-godin en die ‘goddelike maagd’ gevorm.”—The New Encyclopædia Britannica (1988), Deel 16, bladsye 326 en 327.
Wat sê die Bybel?
“Jy sal swanger word en ’n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. . . . Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.”—Ons kursiveer; Lukas 1:31-35, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.
Hierdie Skrifgedeelte sê duidelik dat Maria die moeder was van die “Seun van God”, nie van God self nie. Kon sy die Een wat ‘die hemel nie kan bevat nie’, in haar gedra het? (1 Konings 8:27). Sy het nooit daarop aanspraak gemaak nie. Dit is die leerstelling van die Drie-eenheid wat verwarring oor die identiteit van Maria veroorsaak het. Deur haar tot Theotokos (’n Griekse woord wat “Draer van God” beteken), of “Moeder van God”, te verklaar, het die Konsilie van Efese in 431 HJ die weg gebaan vir Maria-aanbidding. Die stad Efese waar hierdie konsilie gehou is, was eeue lank die middelpunt van afgodediens tot verheerliking van die vrugbaarheidsgodin Artemis.
Dit is hoe baie aspekte van die aanbidding van die beeld van Artemis wat “uit die hemel geval het”, soos optogte, ’n deel van Maria-aanbidding geword het (Handelinge 19:35). Nog ’n gebruik wat in die Christelike leer ingesluip het, was die gebruik van beelde van Maria en ander in aanbidding.
Vergelyk hierdie Bybelverse: Matteus 13:53-56; Markus 3:31-35; Lukas 11:27, 28
FEIT:
Maria was die moeder van die Seun van God, nie van God self nie. Die Drie-eenheidsmite het gelei tot die aanbidding van Maria as die Moeder van God