Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou alkohol op sy plek

Hou alkohol op sy plek

Hou alkohol op sy plek

TONY, wat in die eerste artikel genoem is, kon ’n heeltemal ander lewe geniet het—as hy sy drankprobleem net onder die oë gesien het. Maar omdat hy blykbaar baie kon drink sonder enige opvallende simptome, het hy gedink dat hy in beheer is van sy lewe. Waarom was sy selfbeoordeling so foutief?

Sy oordeel is belemmer deur oormatige alkoholgebruik. Hetsy Tony dit besef het of nie, die einste orgaan wat sy fisiese, verstandelike en emosionele toestand gemonitor het—sy brein—het nie reg gefunksioneer wanneer dit met alkohol oorlaai is nie. Hoe meer hy gedrink het, hoe minder was sy brein in staat om sy toestand akkuraat te beoordeel.

’n Tweede rede vir Tony se foutiewe selfbeoordeling was sy oorweldigende drang om sy drinkpatroon te behou. Allen, wat in die vorige artikels genoem is, het aanvanklik ontken dat hy ’n alkoholprobleem het. “Ek het my drankprobleem weggesteek”, erken hy, “en ek het verskonings gemaak en my oormatige drinkery probeer wegpraat. Ek het een oogmerk gehad—om my drinkery te beskerm.” Hoewel ander kon sien dat alkohol Tony en Allen begin beheer het, het albei vir hulleself bly sê dat alles normaal is. Albei mans moes daadwerklik optree om hulle drinkery onder beheer te kry. Maar wat moes hulle doen?

Tree op!

Baie wat opgehou het om alkohol te misbruik, het in ooreenstemming met Jesus se woorde opgetree: “As daardie regteroog van jou jou dan nou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg. Want dit is vir jou voordeliger dat een van jou lede verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna gewerp word.”—Matteus 5:29.

Jesus het natuurlik nie selfverminking voorgestaan nie. Hy het eerder deur middel van ’n metafoor beklemtoon dat ons bereid moet wees om enigiets wat geestelik skadelik is, uit ons lewe te verwyder. Hierdie optrede kan inderdaad baie pynlik wees. Maar dit sal ons beskerm teen die soort denke en situasies wat tot alkoholmisbruik kan lei. As ander kommer uitspreek omdat hulle meen dat jy te veel alkohol begin drink, moet jy dus stappe doen om dit te beheer. a As dit duidelik is dat jy jou drinkery nie kan beheer nie, moet jy bereid wees om dit heeltemal uit jou lewe uit te sny. Ongeag hoe pynlik dit dalk is, dit is nie naastenby so pynlik soos ’n verwoeste lewe nie.

Is jy geneig om te veel te drink, al is jy nie ’n alkoholis nie? Indien wel, watter praktiese stappe sal jou help om alkohol op sy plek te hou?

Waar om hulp te kry

1. Stel geloof in die krag van gereelde, hartgrondige gebed. Die Bybel gee hierdie raad aan almal wat Jehovah God wil behaag: “Laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). Waaroor kan jy bid om hierdie gemoedsrus te verkry?

Erken eerlik dat jy ’n alkoholprobleem het, ’n probleem waarvoor jý verantwoordelikheid moet aanvaar. As jy vir God vertel wat jy daaromtrent wil doen, sal hy jou pogings seën om ’n oplossing te vind en om ernstiger probleme te vermy. “Hy wat sy oortredings bedek, sal nie sukses behaal nie, maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid bewys word” (Spreuke 28:13). Jesus het ook gesê dat ons kan bid: “Bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van wat boos is” (Matteus 6:13; voetnoot in NW). Maar hoe kan jy in ooreenstemming met sulke gebede optree, en waar kan jy die antwoorde op jou smekinge vind?

2. Put krag uit God se Woord. “Die woord van God is lewend en oefen krag uit . . . en kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei” (Hebreërs 4:12). Baie wat voorheen strawwe drinkers was, het gevind dat dit help om elke dag Bybelverse te lees en daaroor te peins. “Gelukkig is die man wat nie in die raad van die goddeloses gewandel het [nie]”, het ’n godvresende psalmis geskryf, “maar sy behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon. . . . Alles wat hy doen, sal suksesvol wees.”—Psalm 1:1-3.

Allen, wat uit sy Bybelstudie met Jehovah se Getuies die krag geput het om alkoholmisbruik te oorkom, sê: “Ek is oortuig dat ek al dood sou gewees het as dit nie was vir die Bybel en Bybelbeginsels wat my gehelp het om op te hou drink nie.”

3. Kweek selfbeheersing aan. Die Bybel sê dat voormalige dronkaards in die Christengemeente skoon gewas is “met die gees van ons God” (1 Korintiërs 6:9-11). Hoe? Om maar een ding te noem, hulle is gehelp om dronkenskap en swelgerye op te gee deur selfbeheersing aan te kweek, ’n eienskap wat met behulp van God se heilige gees ontwikkel word. “Moenie dronk word van wyn, waarin daar losbandigheid is nie, maar word voortdurend met gees vervul” (Efesiërs 5:18; Galasiërs 5:21-23). Jesus Christus het belowe dat “die Vader in die hemel heilige gees [sal] gee aan dié wat hom vra”. “Hou [dus] aan vra, en vir julle sal gegee word.”—Lukas 11:9, 13.

Diegene wat Jehovah op aanneemlike wyse wil aanbid, kan selfbeheersing aankweek deur die Bybel te lees en te bestudeer en deur dikwels en uit die hart te bid. Moenie voor ontmoediging swig nie, maar stel eerder geloof in hierdie belofte in God se Woord: “Hy wat met die oog op die gees saai, sal ewige lewe uit die gees maai. Laat ons derhalwe nie ophou om te doen wat goed is nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie moeg word nie.”—Galasiërs 6:8, 9

4. Kies opbouende metgeselle. “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spreuke 13:20). Vertel jou vriende van jou vasbeslotenheid om jou alkoholgebruik onder beheer te hou. Maar God se Woord waarsku jou vooraf dat party van jou vorige metgeselle ‘dit vreemd sal vind en sal aanhou om jou te smaad’ wanneer jy “oordadighede met wyn, swelgerye [en] drinkpartye” opgee (1 Petrus 4:3, 4). Wees bereid om op te hou assosieer met diegene wat jou besluit om jou drinkery te beheer, ondermyn.

5. Stel besliste perke. “Moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie, maar word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle kan seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). As jy toelaat dat die beginsels van God se Woord jou help om jou persoonlike perke te stel eerder as om toe te laat dat jou metgeselle of “hierdie stelsel van dinge” dit doen, sal jy ’n lewenswyse geniet wat vir God aanneemlik sal wees. Maar hoe kan jy bepaal wat vir jou ’n veilige perk is?

Enige hoeveelheid alkohol wat jou oordeel en jou denkvermoë belemmer, is te veel vir jou. As jy besluit om te drink, is dit dus nie verstandig om ’n vae perk te stel wat êrens tussen nugterheid en dronkenskap is nie. Moenie toelaat dat ontkenning jou eerlike oordeel van jou drinkery ondermyn nie. Stel ’n besliste, risikovrye perk wat goed binne die grense van matigheid lê—een wat jou nie sal toelaat om in oormatige drankgebruik te verval nie.

6. Leer om nee te sê. “Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken, julle Nee, Nee” (Matteus 5:37). Leer om beleefd nee te sê vir ’n vriendelike maar onbedagsame gasheer wat vir jou alkohol bly aanbied. “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”—Kolossense 4:6.

7. Vra persoonlike hulp. Vra die hulp van ondersteunende vriende wat jou besluit kan versterk om jou drinkery te beheer en geestelike hulp kan voorsien. “Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle harde werk. Want as een van hulle val, kan die ander sy metgesel ophelp” (Prediker 4:9, 10; Jakobus 5:14, 16). Die Nasionale Instituut vir Alkoholmisbruik en Alkoholisme in die Verenigde State gee eweneens hierdie raad: “Dit is soms moeilik om minder te drink. Vra jou gesinslede en vriende om jou te ondersteun sodat jy jou doelwit kan bereik.”

8. Bly by jou besluit. “Word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself met valse redenering bedrieg nie. Maar hy wat diep kyk in die volmaakte wet wat tot vryheid behoort en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder nie maar ’n dader van die werk geword het, gelukkig wees deurdat hy dit doen.”—Jakobus 1:22, 25.

Breek los van verslawing

Nie almal wat te veel drink, word ’n alkoholis nie. Maar party begin soveel—of so dikwels—drink dat hulle aan alkohol verslaaf raak. Omdat alkoholverslawing fisiese en sielkundige afhanklikheid van ’n kragtige middel insluit, sal sulke mense moontlik meer as wilskrag en geestelike hulp nodig hê om alkoholisme te oorkom. “Terwyl ek alkohol probeer opgee het”, vertel Allen, “was die fisiese pyn weens die onttrekkingsimptome verskriklik. Toe het ek besef dat ek mediese behandeling nodig het bo en behalwe die geestelike hulp wat ek ontvang.”

Baie drinkers het mediese behandeling nodig om hulle te versterk in hulle geestelike stryd om los te breek en weg te bly van alkoholmisbruik. b Party moet in die hospitaal opgeneem word om hewige onttrekkingsimptome te kan verduur of om medikasie te ontvang om die intense drang na alkohol te onderdruk en hulle te help om hulle daarvan te onthou. Die Seun van God, wat wonderwerke verrig het, het gesê: “Dié wat sterk is, het nie ’n geneesheer nodig nie, maar dié wat siek is, het wel.”—Markus 2:17.

Die voordele van gehoorsaamheid aan goddelike onderrigting

Die Bybel se wyse raad oor alkohol kom van die ware God, wat die beste vir ons wil hê—nie net sodat ons nou die lewe kan geniet nie, maar ook sodat ons ewige voordele kan ondervind. Vier-en-twintig jaar nadat Allen alkohol opgegee het, sê hy: “Dit was wonderlik om te weet dat ek anders kan wees, om te leer dat Jehovah my wou help om my reg te ruk, dat hy . . . ” Allen bly vir ’n oomblik stil en veg teen die trane terwyl herinneringe hom oorweldig. “H’m, . . . om te weet dat Jehovah verstaan en omgee en die nodige hulp voorsien—dit is ongelooflik.”

As jy in die greep van alkoholmisbruik of -verslawing is, moet jy dus nie gou tot die slotsom kom dat jy nie kán verander of dat daar geen hoop is nie. Allen en tallose ander mense was al in jou situasie en het óf minder alkohol begin drink óf dit heeltemal gelos. Hulle is glad nie spyt nie; en jy sal ook nie wees nie.

Hetsy jy besluit om alkohol matig te gebruik of glad nie, slaan ag op God se liefdevolle versoek: “Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word, en jou regverdigheid soos die golwe van die see.”—Jesaja 48:18.

[Voetnote]

a Sien die venster  “Neem alkohol beheer oor?” op bladsy 8.

b Daar is baie behandelingsentrums, hospitale en rehabilitasieprogramme wat hulp kan voorsien. Die Wagtoring staan nie enige spesifieke behandeling voor nie. Elke individu moet behandelingsopsies noukeurig oorweeg en dan ’n persoonlike besluit neem wat nie in stryd is met Bybelbeginsels nie.

[Venster/Prent op bladsy 8]

 Neem alkohol beheer oor?

Jy kan jou afvra:

• Drink ek meer alkohol as tevore?

• Drink ek meer dikwels as tevore?

• Drink ek sterker drankies?

• Gebruik ek alkohol om stres te verwerk of om probleme te ontvlug?

• Het ’n vriend of gesinslid kommer oor my drinkery uitgespreek?

• Het drank al vir my probleme by die huis, by die werk of op reis veroorsaak?

• Is dit moeilik om ’n week sonder alkohol te bly?

• Voel ek ongemaklik wanneer ander hulle van alkohol onthou?

• Steek ek vir ander weg hoeveel alkohol ek drink?

As jou antwoord op een of meer van hierdie vrae ja is, moet jy moontlik stappe doen om jou drinkery te beheer.

[Venster/Prent op bladsy 9]

Neem wyse besluite oor alkohol

Oorweeg die volgende voordat jy alkohol drink:

Is dit vir my raadsaam om alkohol te drink, of moet ek my daarvan onthou?

Aanbeveling: As jy nie kan beperk hoeveel jy drink nie, moet jy jou van alkohol onthou.

Hoeveel moet ek drink?

Aanbeveling: Stel jou perk voordat alkohol jou oordeel belemmer.

Wanneer sal ek drink?

Aanbevelings: Nie voordat jy bestuur of aan bedrywighede deelneem wat vereis dat jy wakker moet wees nie; nie voordat jy aan godsdiensbedrywighede deelneem nie; nie gedurende swangerskap nie; nie saam met sekere medisyne nie.

Waar sal ek drink?

Aanbevelings: In ’n heilsame milieu; nie in die geheim om jou drinkery weg te steek nie; nie voor mense wat aanstoot sal neem as jy drink nie.

Saam met wie sal ek drink?

Aanbevelings: Saam met opbouende vriende of familie; nie saam met probleemdrinkers nie.

[Venster/Prent op bladsy 10]

God se Woord help ’n voormalige dronkaard

Supot, in Thailand, was ’n strawwe drinker. Eers het hy net in die aand gedrink. Mettertyd het hy in die oggend begin drink en toe ook gedurende middagete. Hy het dikwels gedrink net om dronk te raak. Maar toe het hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Supot het geleer dat dronkenskap nie vir Jehovah God aanneemlik is nie en het opgehou drink. Maar ná ’n rukkie het hy teruggeval in sy ou drinkgewoontes. Sy gesin was verpletter.

Supot was egter nog lief vir Jehovah en wou hom op die regte manier aanbid. Supot se vriende het voortgegaan om hom te help en het sy gesin aangespoor om meer tyd saam met hom deur te bring en nie moed op te gee nie. Op dié stadium het die reguit woorde in 1 Korintiërs 6:10 dat ‘dronkaards nie God se koninkryk sal beërf nie’, Supot gehelp om die erns van sy situasie in te sien. Hy het besef dat hy alles in sy vermoë moet doen om sy drankprobleem te oorkom.

Hierdie keer was Supot vasbeslote om alkohol heeltemal te los. Met die krag van God se heilige gees, die leiding van God se Woord en die hulp van sy gesin en die gemeente het Supot uiteindelik die geestelike krag verkry en sy drang na alkohol oorkom. Sy gesin was verheug toe hy sy toewyding aan God deur doop gesimboliseer het. Supot geniet nou die hegte verhouding met God waarna hy altyd gesmag het, en hy gebruik sy tyd om ander geestelik te help.