Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal die aarde vergaan?

Sal die aarde vergaan?

Sal die aarde vergaan?

“DIE einde van die wêreld bly ’n gewilde onderwerp, ten minste wat rolprente betref.” Dit is wat die rubriekskrywer John Scalzi gesê het. Waarom word gehore so geboei deur rolprente wat die einde van die wêreld uitbeeld? “Omdat dit oor ons vrese handel”, het Scalzi geredeneer. Sou jy saamstem? Het ons gegronde redes om bevrees te wees oor hoe en wanneer die aarde—en alle lewe daarop—moontlik sal vergaan?

Byna elke dag hoor ons van natuurrampe wat regoor die aarde verwoesting saai. Angswekkende beeldmateriaal van hierdie verwoesting word oor en oor op TV en die Internet vertoon. Wanneer ons gebombardeer word met beelde van werklike mense en werklike plekke wat vernietig word, is dit maklik om die einde van die wêreld as ’n wesenlike bedreiging te beskou en nie net as iets wat in rolprente vertoon word nie.

Wetenskaplikes blaas hierdie vrese aan met teorieë oor hoe die aarde moontlik sal vergaan. Party voorspel selfs ’n sogenaamde vervaldatum vir die aarde. In Maart 2008 het die Monthly Notices of the Royal Astronomical Society berig dat twee sterrekundiges voorspel het dat die son oor sowat 7,59 miljard jaar ons planeet sal verswelg en verbrand.

Sal die aarde werklik eendag vergaan?

Het ons planeet ’n vervaldatum?

Die Bybel verseker ons: “Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan” (Prediker 1:4, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Jehovah God het “die aarde op sy vaste plekke gegrondves” en dit ontwerp om “tot onbepaalde tyd of tot in ewigheid” te bestaan (Psalm 104:5). Klink hierdie geïnspireerde woorde van God te goed om te glo? Waarom moet jy glo dat ons aarde nie sal vergaan nie, al beweer party wetenskaplikes dat die teendeel waar is?

Wel, dink vir ’n oomblik aan die produkte op ’n winkelrak. Op party is daar ’n vervaldatum. Wie het hierdie datum vasgestel? Was dit net ’n ingeligte raaiskoot deur die winkelbestuurder? Natuurlik nie! Die vervaardiger het die vervaldatum vasgestel. Ons vertrou hierdie datum omdat die vervaardiger sy produkte beter ken as enigiemand anders. Hoeveel te meer moet ons dan die Maker van ons planeet vertrou! Sy Woord sê duidelik dat hy “die aarde stewig gevestig” het om vir ewig te bestaan. Daar is geen vervaldatum nie—en daar sal ook nooit een wees nie!—Psalm 119:90.

Maar sal onverantwoordelike mense nie dalk die planeet onherstelbaar verniel nie? Glad nie! In teenstelling met menslike vervaardigers ‘kan Jehovah alles doen’ (Job 42:2). Daarom kan hy ons met vertroue verseker: “My woord . . . wat uit my mond uitgaan . . . , sal beslis sukses behaal” (Jesaja 55:11). Ons kan seker wees dat “ons Maker” nie sal toelaat dat enigiets hom verhinder om sy voorneme vir die aarde te volbring nie (Psalm 95:6). Wat is hierdie voorneme, en hoe sal God dit vervul?

God se Koninkryk sal sy voorneme volbring

God se Woord gee ons nie net die versekering dat die aarde nooit sal vergaan nie, maar dit sê ook vir ons dat hy “dit gevorm het om bewoon te word” (Jesaja 45:18). Hoewel ons aarde al duisende jare lank bewoon word, het dít op sigself nie God se voorneme vervul nie.

Jehovah is ’n “gelukkige God” en “het geregtigheid lief” (1 Timoteus 1:11; Psalm 37:28). Dit is sy voorneme dat alle mense gelukkig moet wees en dat daar geen ongeregtigheid moet wees nie. Om sy voorneme te volbring, het God voorspel dat hy één Koninkryk in die hemel sou oprig wat oor die hele aarde sal regeer (Daniël 2:44). Terwyl Jesus op die aarde was, het hy dikwels van God se Koninkryksregering gepraat. Hy het sy dissipels aangespoor om daarvoor te bid omdat hy geweet het watter seëninge die heerskappy van hierdie Koninkryk vir die aarde sal meebring (Matteus 6:9, 10; 24:14). Wat is party van hierdie seëninge?

Vrede en veiligheid sal heers omdat God belowe om alle oorloë tot ’n einde te bring.—Psalm 46:9.

Daar sal genoeg voedsel vir almal wees.—Psalm 72:16.

Gesondheidsorg sal nie ’n kwessie wees nie, want “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie”.—Jesaja 33:24.

Droefheid sal iets van die verlede wees, want “die dood sal daar nie meer wees nie”.—Openbaring 21:4.

God belowe dat sy volk hulle eie huise sal bou, in veiligheid sal woon en “vir ewig bly” sal wees.—Jesaja 65:17-24.

Jy smag ongetwyfeld na toestande soos dié wat hierbo genoem word. Jehovah het ’n vurige ywer—’n brandende begeerte—om alles te volbring wat hy voorspel het (Jesaja 9:6, 7). Maar jy wonder dalk: ‘Duisende jare het al verloop sedert God se beloftes in die Bybel opgeteken is. Waarom is dit nog nie vervul nie?’

God se geduld lei tot ons redding

Wees verseker dat ‘Jehovah nie traag is met betrekking tot sy belofte nie’. Die Bybel verduidelik dat God op liefdevolle wyse geduldig met ons is. Ons word dus aangespoor: “Beskou die geduld van ons Here as redding” (2 Petrus 3:9, 15). Maar waarom is God se geduld noodsaaklik vir redding?

Om maar een ding te noem, God weet dat hy “die verderwers van die aarde [sal moet] verderf” voordat hy ’n veilige en geseënde tuiste aan regverdige mense kan voorsien (Openbaring 11:18). Maar omdat Jehovah mense liefhet, “wil [hy nie] hê dat enigeen vernietig moet word nie”. Gevolglik probeer ons hemelse Vader geduldig “om die goddelose teen sy goddelose weg te waarsku”. Jehovah sien derhalwe toe dat die boodskap oor sy Koninkryk wêreldwyd verkondig word (Esegiël 3:17, 18). a Almal wat gunstig reageer op God se waarskuwing en hulle lewe in ooreenstemming bring met sy regverdige beginsels, sal redding ontvang en die ewige lewe op ’n paradysaarde geniet.

Wend jou tot God en word gered

Die Bybel het beslis “goeie nuus” vir ons (Matteus 24:14). Dit gee ons God se onfeilbare woord dat ons aarde nooit sal vergaan nie! Wat meer is, volgens Bybelprofesieë kan ons geloof stel in hierdie woorde: “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie.” Binnekort sal net diegene wat in God se oë regverdig is, “die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:9-11, 29; Matteus 5:5; Openbaring 21:3, 4). Tot dan sal God geduldig bly uitroep: “Wend julle tot my en word gered, almal aan die eindes van die aarde” (Jesaja 45:22). Hoe sal jy reageer?

Neem jou gerus voor om jou tot God te wend. Psalm 37:34 spoor ons aan: “Hoop op Jehovah en hou sy weg, en hy sal jou verhef om die aarde in besit te neem.” Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om meer te leer van God se ewige voorneme vir die aarde en hoe jy die verwesenliking van hierdie voorneme kan sien.

[Voetnoot]

a In gehoorsaamheid aan Jesus se bevel in Matteus 28:19, 20 bestee meer as sewemiljoen Getuies van Jehovah in 236 lande elke jaar omtrent een en ’n half miljard uur daaraan om mense van God se wonderlike voorneme vir hierdie aarde te leer.

[Foto-erkenning op bladsy 22]

NASA photo