Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom het God oorlog gevoer teen die Kanaäniete?

Waarom het God oorlog gevoer teen die Kanaäniete?

Waarom het God oorlog gevoer teen die Kanaäniete?

“Jy moet al die volke geheel en al vernietig: die Hetiete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Perissiete, die Hewiete en die Jebusiete, soos die HERE jou beveel het om te doen.”—DEUTERONOMIUM 20:17, TODAY’S ENGLISH VERSION.

“Wees . . . vreedsaam teenoor alle mense.”—ROMEINE 12:18.

KLINK hierdie Bybelverse vir jou teenstrydig? Baie mense sukkel om God se bevel dat die Kanaäniete vernietig moet word, te versoen met die Bybel se vermaning om vreedsaam te wees (Jesaja 2:4; 2 Korintiërs 13:11). a Vir hulle lyk hierdie opdragte sedelik onverenigbaar.

Wat sou jy God vra as jy hierdie onderwerp met hom kon bespreek? Kyk na vyf algemene vrae en die Bybel se antwoorde.

1. Waarom is die Kanaäniete verdryf? Die Kanaäniete was in sekere sin plakkers in ’n land wat nie aan hulle behoort het nie. Hoe so? Ongeveer 400 jaar vroeër het God die getroue man Abraham belowe dat sy nakomelinge die land Kanaän sou besit (Genesis 15:18). God het hierdie belofte nagekom toe hy die nasie Israel, wat van Abraham afgestam het, die gebied laat bewoon het. Natuurlik sal party die beswaar opper dat die Kanaäniete reeds daar gewoon het en dus reg gehad het op die land. Maar as die Soewerein van die heelal het God tog sekerlik die reg om te bepaal wie waar sal woon.—Handelinge 17:26; 1 Korintiërs 10:26.

2. Waarom het God die Kanaäniete nie toegelaat om onder die Israeliete te woon nie? “Hulle mag nie in jou land woon nie”, het God aangaande die Kanaäniete gewaarsku, “sodat hulle jou nie teen my laat sondig nie. As jy hulle gode dien, sal dit vir jou ’n strik word” (Eksodus 23:33). Die profeet Moses het later vir Israel gesê: “Dit is weens die goddeloosheid van hierdie nasies dat Jehovah jou God hulle . . . verdryf” (Deuteronomium 9:5). Hoe goddeloos was hierdie nasies nou eintlik?

Onsedelikheid, heidense aanbidding en kinderofferandes was algemeen in Kanaän. Die Bybelgeskiedskrywer Henry H. Halley meld dat argeoloë wat in die gebied opgrawings doen, “’n groot aantal kruike gevind het waarin die oorskot van kinders was wat aan Baäl [’n vername god van die Kanaäniete] geoffer is”. Hy voeg by: “Die hele gebied was ’n begraafplaas vir pasgebore babas. . . . Die Kanaäniete het aanbid deur middel van growwe onsedelikheid, wat as ’n godsdiensritus voor hulle gode beoefen is; en dan deur hulle eersgebore kinders te vermoor, as ’n offerande aan hierdie selfde gode. Dit wil voorkom asof die land Kanaän grotendeels ’n soort Sodom en Gomorra op nasionale skaal geword het. . . . Argeoloë wat in die puin van Kanaänitiese stede opgrawings doen, is verbaas dat God hulle nie vroeër vernietig het nie.”

3. Was daar nie destyds ook ander goddelose mense op aarde nie? Waarom is die Kanaäniete uitgesonder? God het by baie geleenthede op selektiewe wyse oordeel aan sondaars voltrek. Toe ‘die aarde vol geweld geraak het’ in Noag se dag, het God ’n vloed gebring wat almal uitgewis het buiten een gesin—Noag se gesin (Genesis 6:11; 2 Petrus 2:5). God het die stede Sodom en Gomorra vernietig toe die sonde van hulle inwoners “baie swaar” geword het (Genesis 18:20; 2 Petrus 2:6). En hy het oordeel uitgespreek oor die Assiriese hoofstad Nineve, “die stad van bloedvergieting”, hoewel hy hierdie stad gespaar het toe sy inwoners berou getoon het oor hulle slegte weë (Nahum 3:1; Jona 1:1, 2; 3:2, 5-10). Wat die Kanaäniete betref, God het hulle vernietig om Israel, die nasie wat uiteindelik die Messias sou voortbring, te beskerm.—Psalm 132:11, 12.

4. Is die vernietiging van die Kanaäniete nie strydig met God se liefde nie? Op die oog af lyk God se uitroeiing van die Kanaäniete dalk onversoenbaar met sy liefde (1 Johannes 4:8). Maar hierdie liefde word heel duidelik wanneer ons die saak van naderby beskou.

God het lank voor die tyd geweet dat die inwoners van Kanaän op die verkeerde weg is. Tog het hy hulle nie onmiddellik uitgewis nie, maar geduldig toegelaat dat 400 jaar verloop totdat hulle oortreding “tot voltooiing gekom het”.—Genesis 15:16.

Toe die Kanaäniete se sonde ’n punt bereik het waar daar nie meer enige hoop op verbetering was nie, het Jehovah ’n einde aan hulle gemaak. Hy het nogtans nie alle Kanaäniete voor die voet tereggestel nie. Waarom nie? Want nie almal was verstokte sondaars nie. Aan diegene wat bereid was om te verander, soos Ragab en die Gibeoniete, is barmhartigheid bewys.—Josua 9:3-11, 16-27; Hebreërs 11:31.

5. Hoe kan ’n God van liefde enige mense vernietig? Hierdie vraag is te verstane, want die vernietiging van menselewe is ’n onaangename gedagte. Maar dit was in werklikheid God se liefde wat hom beweeg het om so drasties teen die goddeloses op te tree. Ter toeligting: Wanneer ’n pasiënt gangreen ontwikkel, het dokters dikwels geen ander keuse as om die aangetaste ledemaat af te sit nie. Min mense sal dit geniet om so ’n prosedure uit te voer, maar ’n goeie dokter weet dat die alternatief—die verspreiding van die infeksie—erger is. Omdat hy omgee, verrig hy hierdie onaangename taak vir die beswil van sy pasiënt.

Net so het Jehovah dit nie geniet om die Kanaäniete te vernietig nie. Hy sê self: “Ek skep geen behae in die dood van die goddelose nie” (Esegiël 33:11). Dit was egter sy voorneme dat die nasie Israel die Messias voortbring, die een wat die weg tot redding sou baan vir almal wat geloof beoefen (Johannes 3:16). Daarom kon God eenvoudig nie toelaat dat die walglike gebruike van die Kanaäniete Israel besmet nie. Hy het gevolglik beveel dat die Kanaäniete uit die land uitgeroei, of verdryf, word. Sodoende het God uitsonderlike liefde geopenbaar—liefde wat hom beweeg het om ’n onaangename taak tot voordeel van sy getroue aanbidders uit te voer.

Nuttig vir ons

Is die verslag van die Kanaäniete se vernietiging vandag vir ons van enige nut? Ja, want Romeine 15:4 sê: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê.” Hoe onderrig die gebeure in Kanaän ons en hoe gee dit ons hoop?

Ons leer baie uit hierdie verslae. God het byvoorbeeld barmhartigheid aan Ragab en die Gibeoniete bewys deur hulle te spaar toe hulle hulle in geloof tot hom gewend het. Dit herinner ons daaraan dat enigiemand wat God werklik wil behaag, dit kan doen, ongeag sy agtergrond of vorige sondes.—Handelinge 17:30.

Verslae oor die vernietiging in Kanaän gee ons ook hoop deur ’n voorskou te bied van wat God in die nabye toekoms gaan doen. Dit verseker ons dat hy nie sal toelaat dat goedheid heeltemal deur boosheid uitgewis word nie. Trouens, die Bybel bevestig dat hy binnekort alle goddelose mense gaan vernietig, terwyl hy diegene wat hom liefhet, tot in ’n regverdige nuwe wêreld sal bewaar (2 Petrus 2:9; Openbaring 21:3, 4). Dan sal hierdie vertroostende woorde vervul word: “Hoop op Jehovah en hou sy weg, en hy sal jou verhef om die aarde in besit te neem. Wanneer die goddeloses uitgeroei word, sal jy dit sien.”—Psalm 37:34.

[Voetnoot]

a In hierdie artikel verwys die term “Kanaäniete” na al die nasies wat God Israel beveel het om te verdryf.

[Venster op bladsy 14]

Regverdig die Bybel menseoorloë?

Regverdig God se bevel aan Israel om die Kanaäniete te vernietig, hedendaagse menseoorloë? Nee, om ten minste drie redes:

Geen aardse nasie geniet vandag God se spesiale guns nie. Toe die Israeliete Jesus as die Messias verwerp het, het hulle God nie langer in enige amptelike hoedanigheid verteenwoordig nie—ook nie as skerpregters nie (Matteus 21:42, 43). Jehovah het dus die Israeliete en ander nasies oor dieselfde kam geskeer (Levitikus 18:24-28). Van toe af kon geen aardse nasie tereg daarop aanspraak maak dat hulle God se steun in oorlogvoering het nie.

Jehovah gee nie meer vir sy aanbidders enige spesifieke land of geografiese streek nie. Trouens, sy knegte kan in “alle nasies en stamme” van die aarde gevind word.—Openbaring 7:9; Handelinge 10:34, 35.

Jesus het duidelik getoon dat sy volgelinge nie aan oorlogvoering sou deelneem nie. Toe hy sy dissipels oor ’n naderende aanval op Jerusalem gewaarsku het, het hy hulle nie beveel om te bly en te veg nie, maar eerder om te vlug, wat hulle toe gedoen het (Matteus 24:15, 16). Ware Christene neem nie wapens op nie, maar stel eerder hulle volle vertroue in God se Koninkryk, wat binnekort alle goddeloosheid van hierdie aarde af sal verwyder.—Daniël 2:44; Johannes 18:36.

[Prent op bladsy 15]

Ragab se voorbeeld toon dat enigiemand wat God werklik wil behaag, dit kan doen