Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat is God se beskouing van alkohol?

Wat is God se beskouing van alkohol?

Wat is God se beskouing van alkohol?

ONS Skepper, wat die beste vir ons wil hê, verbied nie die matige gebruik van alkohol nie. a Inteendeel, hy het die mens “wyn [gegee] om hom gelukkig te maak, olyfolie om hom vrolik te maak en brood om hom krag te gee” (Psalm 104:15, Today’s English Version). By een geleentheid het Jesus Christus tot die genot van ’n huweliksfees bygedra deur water in “die beste wyn” te verander.—Johannes 2:3-10, New Jerusalem Bible.

Dit spreek vanself dat die Skepper presies weet watter uitwerking alkohol op die werking van die liggaam en die brein het. Deur middel van die Bybel leer ons hemelse Vader ons ‘om onsself te bevoordeel’, en hy waarsku ons ernstig teen die misbruik van sterk drank (Jesaja 48:17). Let op hierdie reguit waarskuwings:

“Moenie dronk word van wyn, waarin daar losbandigheid is nie” (Efesiërs 5:18). “Dronkaards . . . sal nooit die koninkryk van God beërf nie” (1 Korintiërs 6:9-11, Jerusalem Bible). God se Woord veroordeel “dronkenskap, wilde partytjies en soortgelyke dinge”.—Galasiërs 5:19-21, Byington.

Kom ons ondersoek nou party van die gevare van oormatige alkoholinname.

Die gevare van oormatige drinkery

Hoewel alkohol voordele kan hê, bevat dit kragtige bestanddele wat die werking van die verstand en die liggaam kan aantas. Alkoholmisbruik kan enige van die volgende probleme veroorsaak:

Strawwe drinkery belemmer die drinker se oordeel sodat hy ‘nie helder sal kan dink nie’. (Spreuke 23:33, TEV). Allen, die strawwe drinker wat in die vorige artikel genoem is, verduidelik: “Alkoholisme is nie net ’n siekte wat die liggaam aantas nie; dit is ’n siekte wat jou denke en gesindhede aantas. Jy ignoreer die pyn wat dit vir ander veroorsaak.”

Te veel alkohol kan ook ’n persoon se inhibisies verlaag. Die Skrif waarsku: “Wyn en soet wyn neem die goeie beweegrede weg” (Hosea 4:11). Hoe so? Onder die bedrieglike invloed van alkohol kan gedagtes en begeertes wat ons gewoonlik onderdruk, heel aanvaarbaar—of selfs aanloklik—begin lyk. Dit kan ons vasbeslotenheid om te bly by wat reg is, ondermyn. Alkohol kan ons sedelike weerstand verswak, wat geestelik rampspoedig sal wees.

John het byvoorbeeld ná ’n rusie met sy vrou uitgestorm na ’n kroeg. Hy het reeds ’n paar drankies weggeslaan om te kalmeer toe ’n vrou na hom toe kom. Ná nog ’n paar drankies is John saam met haar daar weg en het hy egbreuk gepleeg. Agterna was John bitter spyt dat hy iets gedoen het wat hy nooit eens sou oorweeg het as alkohol nie sy inhibisies verlaag het nie.

Oormatige drinkery kan tot onbeheerste woorde en dade lei. “Wie is altyd in die moeilikheid? Wie stry en baklei?” vra die Bybel. “Elkeen wat laat opbly om nog net een drankie te drink” (Spreuke 23:29, 30, Contemporary English Version). Oormatige drinkery kan jou laat “voel asof jy op die oseaan is, seesiek is en hoog bo in die takelwerk van ’n skommelende skip heen en weer swaai” (Spreuke 23:34, TEV). Iemand wat te veel gedrink het, kan wakker word “vol kneusplekke, sonder dat hy eens onthou hoe dit alles gebeur het”.—Spreuke 23:35, CEV.

Oormatige drinkery kan ’n persoon se fisiese gesondheid benadeel. “Op die ou end byt [alkohol] soos ’n slang en vergiftig dit [jou] soos ’n adder” (Spreuke 23:32, New International Version). Die mediese wetenskap het die wysheid van hierdie ou spreuk bevestig. Alkohol in groot hoeveelhede is ’n potensieel dodelike gifstof wat kan lei tot verskeie kankers, alkoholverwante hepatitis, lewersirrose, pankreatitis, lae bloedsuiker by diabete, fetale alkoholsindroom, beroerte of hartversaking—om maar net ’n paar gevolge te noem. En selfs net een geval van oormatige drinkery of fuifdrinkery kan ’n koma of die dood tot gevolg hê. Maar die ernstigste gevolge van oormatige drinkery word nie in mediese handboeke beskryf nie.

Die grootste gevaar. Al word ’n persoon dalk nie dronk nie, hou oormatige drinkery geestelike gevare in. Die Bybel sê duidelik: “Wee dié wat vroeg in die oggend opstaan sodat hulle net sterk drank kan soek, wat tot laat in die aandskemering draal sodat die wyn hulle verhit!” Waarom? Jesaja verduidelik wat die geestelike gevolge van oormatige drinkery is: “Na die dade van Jehovah kyk hulle nie, en die werk van sy hande het hulle nie gesien nie.”—Jesaja 5:11, 12.

God se Woord maan ons om nie “onder die wynsuipers [te] wees” nie (Spreuke 23:20). Bejaarde vroue word gewaarsku om nie “aan baie wyn verslaaf [te] wees nie” (Titus 2:3). Waarom nie? Geleidelik—dikwels sonder dat hulle dit agterkom—begin mense al hoe gereelder ’n bietjie meer alkohol gebruik. Op die ou end sal die drinker dalk “wakker lê en vra: ‘Wanneer sal die oggend kom sodat ek nog kan drink?’” (Spreuke 23:35, CEV). Drinkers tree oor ’n gevaarlike grens wanneer hulle in die oggend na ’n regmakertjie smag, ’n drankie om hulle van die vorige aand se drinkery te help herstel.

Die Bybel waarsku dat diegene wat hulle skuldig maak aan “oordadighede met wyn, swelgerye [en] drinkpartye . . . , rekenskap [sal] gee aan die een wat gereed is om die lewendes en die dooies te oordeel” (1 Petrus 4:3, 5). En aangaande die kritieke tye waarin ons lewe, het Jesus gewaarsku: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en [Jehovah se] dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie.”—Lukas 21:34, 35.

Maar wat kan persone wat te veel drink, doen sodat hulle nie ‘beswaar word met strawwe drinkery’ nie?

[Voetnoot]

a In hierdie artikel verwys “alkohol” en “drank” oor die algemeen na bier, wyn en ander sterk drank.

[Prente op bladsy 4, 5]

Alkoholmisbruik kan tot baie probleme lei