Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Vervuller van beloftes

’n Vervuller van beloftes

Kom nader aan God

’n Vervuller van beloftes

Josua 23:14

IS DIT vir jou moeilik om ander te vertrou? Ongelukkig lewe ons in ’n wêreld waar vertroue gereeld afgebreek word. As jy seergemaak is deur iemand in wie jy geglo het—dalk weens leuens of verbreekte beloftes—is jou vertroue moontlik verpletter. Daar ís egter iemand wat jy kan vertrou sonder om ooit teleurgestel te word. “Vertrou op Jehovah met jou hele hart”, spoor Spreuke 3:5 ons aan. Waarom verdien Jehovah sulke vertroue? Om dit te beantwoord, kom ons ondersoek die woorde van Josua—’n man wat volle vertroue in Jehovah gestel het—soos opgeteken in Josua 23:14.

Let op die agtergrond. Josua, Moses se opvolger as leier van Israel, is byna 110 jaar oud. Gedurende sy lang lewe het hy persoonlik baie van Jehovah se magtige dade ten behoewe van Israel gesien, insluitende die wonderdadige verlossing deur die Rooisee sowat 60 jaar vroeër. Nou, terwyl Josua terugdink aan sy lewe, roep hy Israel se “ouer manne en sy hoofde en sy regters en sy beamptes” bymekaar (Josua 23:2). Die woorde wat hy nou spreek, openbaar nie net ’n wysheid wat met die jare kom nie, maar ook die bepeinsinge van ’n hart vol geloof.

“Ek gaan vandag die weg van die hele aarde”, verduidelik Josua. Die uitdrukking “die weg van die hele aarde” is ’n idioom vir die dood. Josua sê in werklikheid: “Ek het nie meer lank om te lewe nie.” Omdat hy weet dat hy binnekort gaan sterf, het Josua ongetwyfeld baie ure alleen deurgebring om oor sy lewe na te dink. Watter afskeidswoorde het hy vir sy medeaanbidders?

Josua sê verder: “Nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, [het] onvervuld gebly . . . nie. Alles is vir julle bewaarheid. Nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.” Dit is die woorde van ’n man wat volle vertroue in God het. Waarom? Toe Josua teruggedink het aan alles wat hy gesien het, het dit by hom tuisgebring dat Jehovah altyd Sy beloftes vervul. a Die bedoeling is duidelik: Josua wil hê dat sy mede-Israeliete vaste geloof moet hê dat al Jehovah se beloftes vir hulle toekoms ook bewaarheid sal word.

Met verwysing na Josua 23:14 sê een Bybelnaslaanwerk: “Noem elke belofte in die Bybel; deursoek dan die annale van die wêreld en vra elke skepsel daarin om een enkele geval te vind waar God ’n belofte verbreek of vergeet het.” As dit moontlik was om so ’n ondersoek uit te voer, sou ons tot dieselfde gevolgtrekking kom as Josua—Jehovah se beloftes bly nooit onvervuld nie.—1 Konings 8:56; Jesaja 55:10, 11.

Die Bybel bevat ’n verslag van God se beloftes wat al vervul is, insluitende sommige wat reg voor ons oë vervul word. Dit bevat ook Jehovah se wonderlike beloftes vir ons toekoms. b Ondersoek gerus self hierdie verslag. ’n Studie van die Bybel sal jou moontlik oortuig dat die Vervuller van beloftes jou vertroue waardig is.

[Voetnote]

a Hier is ’n paar van die beloftes, of versekerings, waarvan Josua die vervulling gesien het. Jehovah sou Israel hulle eie land gee. (Vergelyk Genesis 12:7 met Josua 11:23.) Jehovah sou Israel uit Egipte verlos. (Vergelyk Eksodus 3:8 met Eksodus 12:29-32.) Jehovah sou vir sy volk sorg.—Vergelyk Eksodus 16:4, 13-15 met Deuteronomium 8:3, 4.

b Vir meer inligting oor God se beloftes vir ons toekoms, sien hoofstukke 3, 7 en 8 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.