Spring na inhoud

 Leer jou kinders

Mense wat oor Jesus geskryf het

Mense wat oor Jesus geskryf het

HOU jy daarvan as ons oor Jesus lees?— * Party mense is verbaas om uit te vind dat die Bybel niks bevat wat deur Jesus geskryf is nie. Daar is nogtans agt Bybelskrywers wat ons baie oor hom vertel. Hulle het almal gelewe toe Jesus gelewe het, en hulle vertel vir ons wat hy ander geleer het. Kan jy die agt opnoem?— Daar is Matteus, Markus, Lukas en Johannes. Die ander vier is Petrus, Jakobus, Judas en Paulus. Wat weet jy van hierdie skrywers?—

Kom ons praat eers oor die drie skrywers wat ook onder Jesus se 12 apostels was. Ken jy hulle name?— Petrus, Johannes en Matteus. Petrus het twee briewe aan mede-Christene geskryf. Hy het hulle vertel van dinge wat hy geweet het Jesus gedoen en gesê het. Blaai in die Bybel na 2 Petrus 1:16-18 en lees daar Petrus se beskrywing van hoe hy Jehovah God uit die hemel met Jesus hoor praat het.—Matteus 17:5.

Die apostel Johannes het vyf Bybelboeke geskryf. Hy was langs Jesus by die laaste maaltyd wat die dissipels saam met hulle Heer geëet het. Johannes was ook by Jesus toe Hy gesterf het (Johannes 13:23-26; 19:26). Johannes het een van die vier Bybelverslae van Jesus se lewe geskryf wat die Evangelies genoem word. Hy het ook die Openbaring neergeskryf wat Jesus hom gegee het, asook die drie briewe in die Bybel wat na hom vernoem is (Openbaring 1:1). Die derde Bybelskrywer wat ’n apostel van Jesus geword het, was Matteus. Hy was voorheen ’n belastinggaarder.

Twee ander Bybelskrywers het Jesus op ’n spesiale manier geken. Hulle was sy jonger halfbroers, ook kinders van Josef en Maria (Matteus 13:55). Aan die begin was hulle nie dissipels van Jesus nie. Hulle het selfs gedink dat hy ’n bietjie mal was omdat hy so ywerig gepreek het (Markus 3:21). Wie was hierdie broers?— Jakobus is een. Hy het die Bybelboek Jakobus geskryf. Die ander een is Judas. Hy het die Bybelboek Judas geskryf.—Judas 1

Twee ander wat oor Jesus se lewe geskryf het, was Markus en Lukas. Markus se ma, Maria, het ’n groot huis in Jerusalem gehad, waar die vroeë Christene bymekaargekom het, insluitende die apostel Petrus (Handelinge 12:11, 12). Jare vroeër, op die aand toe Jesus die laaste Pasga saam met sy apostels gehou het, was dit waarskynlik Markus wat hulle gevolg het toe hulle na die tuin van Getsemane gegaan het. Toe Jesus in hegtenis geneem is, het die soldate Markus gegryp, maar hy het sonder sy kleed ontsnap.—Markus 14:51, 52.

Lukas was ’n hooggeleerde dokter, wat blykbaar ná Jesus se dood ’n dissipel geword het. Hy het ’n deeglike studie van Jesus se lewe gemaak en het ’n duidelike, akkurate verhaal daaroor geskryf. Later het Lukas saam met die apostel Paulus op  van sy reise gegaan en ook die Bybelboek Handelinge geskryf.—Lukas 1:1-3; Handelinge 1:1.

Paulus is die agtste Bybelskrywer wat oor Jesus geskryf het. Hy het onder die beroemde regsgeleerde Gamaliël gestudeer. Paulus, wat deur die Fariseërs opgelei en geleer is en destyds Saulus genoem was, het Jesus se dissipels gehaat en gehelp om hulle dood te maak (Handelinge 7:58–8:3; 22:1-5; 26:4, 5). Weet jy hoe Paulus die waarheid oor Jesus geleer het?—

Wel, Paulus was op pad na Damaskus om dissipels van Jesus in hegtenis te gaan neem toe hy skielik deur ’n helder lig uit die hemel verblind is. Hy het ’n stem hoor vra: “Saul, Saul, waarom vervolg jy my?” Dit was Jesus se stem! Hy het vir Paulus gesê om na Damaskus toe te gaan. Toe het Jesus vir sy dissipel Ananias gesê om met Paulus te praat, en Paulus het ’n dissipel van Jesus geword (Handelinge 9:1-18). Paulus het 14 boeke van die Bybel geskryf, van Romeine tot Hebreërs.

Het jy al die Bybelboeke oor Jesus begin lees of gevra dat iemand dit vir jou lees?— Een van die beste dinge wat jy ooit in jou lewe kan doen, is om nou, terwyl jy nog jonk is, te begin leer wat die Bybel oor Jesus sê.

^ par. 3 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.