Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waak daarteen om bedrieg te word

Waak daarteen om bedrieg te word

Waak daarteen om bedrieg te word

DON QUICHOT is ’n beroemde fiktiewe karakter wat geskep is deur die 16de-eeuse Spaanse skrywer Miguel de Cervantes in sy klassieke roman met daardie naam. In hierdie roman vul Don Quichot sy gedagtes met legendes en fabels oor dapper ridders in glinsterende pantsers wat tot die redding kom van jong vroue wat in nood verkeer. Kort voor lank begin hy glo dat hy ook ’n edele ridder is. In een bekende episode val hy ’n klomp windmeule aan wat hy vir ’n groep gevaarlike reuse aansien. Hy is daarvan oortuig dat hy God se belange bevorder deur daardie reuse dood te maak, en op die ou end maak hy ’n groot gek van homself.

Don Quichot is natuurlik net denkbeeldig, maar om bedrieg te word, is selde iets om oor te lag. Dink byvoorbeeld aan die alkoholis wat glo dat hy kan drink net soveel hy wil, maar wat uiteindelik sy gesondheid skaad en sy gesinslewe verwoes. Of dink aan die arme siel wat aan anoreksie ly en glo dat sy goed gevoed en gesond is, maar wat haarself in werklikheid tot die dood toe uithonger.

Kan enigeen van ons in die strik gevang word om bedrieg te word? Ongelukkig is die antwoord ja. Om die waarheid te sê, ons almal loop hierdie gevaar. En dit sluit die moontlikheid in om bedrieg te word wat ons gekoesterde godsdiensopvattings betref—met potensieel rampspoedige gevolge. Waarom is dit die geval? Hoe kan ons daarteen waak om bedrieg te word?

Die gevare daarvan om bedrieg te word

Om bedrieg te word, sê een woordeboek, beteken “om iemand te laat glo dat iets wat vals of ongeldig is, waar of geldig is”. Dit impliseer ook “om ’n valse idee of opvatting te bevorder wat onkunde, verwarring of hulpeloosheid veroorsaak”. Die basiese idee van die woord, sowel as soortgelyke woorde soos “mislei” en “wysmaak”, is om iemand op slinkse wyse op ’n dwaalspoor te bring. Iemand wat nie daarvan bewus is dat hy of sy in ’n toestand van “onkunde, verwarring of hulpeloosheid” gehou word omdat hy doelbewus verkeerd ingelig word nie, verkeer beslis in ernstige gevaar.

Wat werklik hartseer is, is dat die persoon wat bedrieg of mislei word, heel dikwels geneig is om vas te hou aan sy opvatting ten spyte van kragtige getuienis wat die teendeel bewys. Dalk raak hy so verknog aan sy opvatting dat hy eenvoudig sy oë en ore sluit vir enige getuienis wat dit betwis.

Verkeer ons in gevaar?

‘Is dit nie ’n oordrywing om te sê dat ons almal in gevaar verkeer om bedrieg te word wat ons godsdiensopvattings betref nie?’ vra jy dalk. Nee, dit is nie. Satan die Duiwel, vir wie Jesus “die vader van die leuen” genoem het, is daarop uit om ons almal te bedrieg en te mislei (Johannes 8:44). Satan word ook in die Bybel as “die god van hierdie stelsel van dinge” beskryf. Deur die geskiedenis heen het hy miljoene mense se ‘verstande verblind’ (2 Korintiërs 4:4). En vandag nog ‘mislei hy die hele bewoonde aarde’.—Openbaring 12:9.

Satan het mense reg aan die begin van die mensegeskiedenis begin bedrieg. Hy het Eva byvoorbeeld wysgemaak dat sy haar nie aan die wette van haar Skepper hoef te onderwerp nie en dat sy “soos God [kon] word deur goed en kwaad te ken”, dit wil sê dat sy self kon besluit wat goed is en wat kwaad is (Genesis 3:1-5). Dit was die eerste geval van groot bedrog, want al is mense die vryheid gegee om te kies wat hulle wil doen, is hulle nie geskep met die vermoë om self te bepaal wat reg en wat verkeerd is nie. Net God, as die Skepper en Soewerein, het die reg en gesag om dit te doen (Jeremia 10:23; Openbaring 4:11). Watter selfbedrog is dit tog om te glo dat die reg om tussen goed en kwaad te kies, dieselfde is as die reg om te bepaal wat goed is en wat kwaad is! Ongelukkig word ons as onvolmaakte mense maklik in hierdie strik gevang.

Kan dit met jou gebeur?

Jou gekoesterde godsdiensopvattings bestaan dalk al eeue lank en is moontlik van geslag tot geslag oorgedra. Maar dit beteken nie noodwendig dat dit waar is nie. Waarom nie? Wel, die Bybelverslag toon dat bedrieglike manne kort ná die dood van Christus se apostels in die Christengemeente opgestaan het en “verdraaide dinge [geleer het] om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (Handelinge 20:29, 30). Hulle het mense op uiters bedrewe wyse mislei “met oorredende argumente” sowel as “deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense”.—Kolossense 2:4, 8.

Is dinge vandag enigsins anders? Nie juis nie, want die apostel Paulus het gewaarsku dat dinge sou vererger in “die laaste dae”, die tyd waarin ons nou lewe. “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger”, het hy geskryf, “terwyl hulle mislei en mislei word [of, “ander bedrieg en hulleself bedrieg”, Phillips].”—2 Timoteus 3:1, 13.

Dit is dus verstandig om die apostel Paulus se waarskuwing ernstig op te neem: “Wie dink dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Korintiërs 10:12). Paulus het natuurlik gepraat van ’n persoon se posisie voor God. Maar om te dink dat Satan jou nooit kan bedrieg nie, is inderdaad selfbedrog. Absoluut niemand is immuun teen Satan se “listige dade” nie (Efesiërs 6:11, voetnoot in NW). Daarom het die apostel in verband met sy mede-Christene gesê: “Ek is bang dat, soos die slang Eva deur sy listigheid verlei het, julle verstande op die een of ander wyse verderf sal word, weg van die opregtheid en die kuisheid wat die Christus toekom.”—2 Korintiërs 11:3.

Hoe kan jy daarteen waak om bedrieg te word?

Hoe kan jy dan daarteen waak om deur Satan bedrieg te word? Hoe kan jy seker maak dat jy God “met gees en waarheid aanbid”? (Johannes 4:24). Gebruik wat Jehovah God jou gegee het. Eerstens het hy jou “intellektuele vermoë” gegee sodat jy tussen waarheid en leuens kan onderskei (1 Johannes 5:20). Hy het dit ook vir jou moontlik gemaak om Satan se planne te identifiseer (2 Korintiërs 2:11). Trouens, hy het jou alles gegee wat jy nodig het om Satan se pogings om jou te mislei, te weerstaan.—Spreuke 3:1-6; Efesiërs 6:10-18.

Bowenal het God jou voorsien van ’n onfeilbare middel waarmee jy jou kan beskerm. Wat is dit? Dieselfde middel waarop die apostel Paulus sy metgesel Timoteus aangespoor het om te vertrou wanneer dit by godsdiensopvattings kom. Nadat hy die waarskuwing oor “goddelose mense en bedrieërs” gegee het, het die apostel Paulus vir Timoteus gesê om hulle te weerstaan deur alles wat hy glo, te baseer op “die heilige geskrifte”—dit wil sê op God se heilige Woord, die Bybel.—2 Timoteus 3:15.

Natuurlik sal party dalk sê dat enigiemand wat in God glo en die Bybel as Sy geïnspireerde Woord aanvaar, mislei is. Maar in werklikheid is diegene wat mislei is, dié wat hardkoppig al die getuienis ignoreer wat bewys dat ’n Skepper bestaan en dat die Bybel werklik God se geïnspireerde Woord is. aRomeine 1:18-25; 2 Timoteus 3:16, 17; 2 Petrus 1:19-21.

Moet jou nie deur “sogenaamde ‘kennis’” laat bedrieg nie, maar gebruik eerder God se Woord om te bepaal wat die waarheid is (1 Timoteus 6:20, 21). Wees soos die edelmoedige manne en vroue vir wie die apostel Paulus in Berea gepreek het. Hulle “het die woord met die grootste gretigheid van verstand ontvang”. Hulle het nie net gretig aanvaar wat die apostel Paulus hulle geleer het nie, maar het ook “die Skrif elke dag sorgvuldig ondersoek of hierdie dinge so was”.—Handelinge 17:11.

Jy hoef nie bang te wees om jou opvattings op dié manier te ondersoek nie. Trouens, die Bybel moedig jou aan om ‘seker te maak van alles’ voordat jy dit as die waarheid aanvaar (1 Tessalonisense 5:21). Teen die einde van die eerste eeu HJ het die apostel Johannes sy mede-Christene aangespoor: “Geliefdes, moenie elke geïnspireerde uiting glo nie, maar stel die geïnspireerde uitinge op die proef om te sien of hulle hulle oorsprong by God het” (1 Johannes 4:1). Ja, selfs al lyk ’n sekere godsdienslering of dit ‘geïnspireer’ is—of van God af kom—is dit nog steeds verstandig om die Skrif te ondersoek om daarvan seker te maak voordat jy dit as die waarheid aanvaar.—Johannes 8:31, 32.

Pas toe wat jy leer

Maar dit is nie al wat vereis word nie. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself met valse redenering bedrieg nie” (Jakobus 1:22). Dit is nie genoeg om net te weet wat die Bybel leer nie. Jy moet dit toepas. Hoe? Deur te doen wat God jou beveel om te doen en nie die dinge te doen wat hy verbied nie.

Kyk byvoorbeeld na die sedelike verval oral om ons. Toon dit nie hoe suksesvol Satan daarin is om mense wys te maak dat hulle God se sedelike wette kan ignoreer sonder om enige skadelike gevolge te ly nie? Om dié rede het die apostel Paulus hierdie reguit waarskuwing aan Christene gegee: “Moenie mislei word nie: God laat hom nie bespot nie. Want wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai.”—Galasiërs 6:7.

Moenie soos die “dwase man” wees, wat Jesus gesê het sy woorde “hoor” en “dit nie doen nie”. Soos Cervantes se Don Quichot, wat deur sy eie lewendige verbeelding bedrieg is, is daardie man bedrieg deur te dink dat hy ’n stewige, veilige huis op ’n wankelrige, onstabiele fondament van sand kon bou. Wees eerder soos die man wat “sy huis op die rots gebou het”. Jesus het gesê dat hierdie man ‘verstandig’ is omdat hy Jesus se woorde hoor “en dit doen”.—Matteus 7:24-27.

[Voetnoot]

a Vir verdere besonderhede, sien die boeke Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? en Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster/Prent op bladsy 12, 13]

Sien jy dinge soos dit werklik is?

In die 1930’s het die Sweedse kunstenaar Oscar Reutersvärd ’n reeks tekeninge gepubliseer wat as onmoontlike figure bekend geword het. ’n Moderne voorbeeld hiervan verskyn links. Met die eerste oogopslag laat hierdie tekeninge iets wat duidelik alle wette van logika verbreek, geloofwaardig lyk. Maar ná noukeurige ondersoek kan ’n mens sien dat dit illusies is wat deur die kunstenaar geskep is om die oog en verstand van die waarnemer te verwar of te bedrieg.

Onmoontlike figure is nie die enigste dinge wat anders voorkom as wat dit werklik is nie. Sowat tweeduisend jaar gelede het die Bybel gewaarsku: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie.”—Kolossense 2:8.

Hierdie waarskuwing word versterk deur die feit dat die skrywer van hierdie woorde self ’n slagoffer van bedrog was. Aangesien hy aan die voete van een van die beroemdste godsdiensonderrigters van sy tyd opgevoed is en betrekkinge met hooggeplaastes gehad het, sou ’n mens nie gedink het dat hy ooit bedrieg sou kon word nie.—Handelinge 22:3.

Hierdie man—Saulus van Tarsus—is wysgemaak dat enigiemand wat nie dieselfde godsdiensoorleweringe en -gebruike as hy het nie, veroordeel staan. Op gesag van die Joodse godsdiensleiers het hy dit as sy godgegewe plig beskou om enigiemand te vervolg wat geweier het om die Christelike geloof te versaak. Hy het selfs die moord gesteun van een van sy landgenote wat valslik aangekla is van godslastering.—Handelinge 22:4, 5, 20.

Saulus is mettertyd gehelp om die onderskeid te sien tussen wat reg en wat verkeerd is, wat God goedkeur en wat Hy afkeur. Toe Saulus besef het dat hy verkeerd is, het hierdie ywerige man sy weë verander en bekend geword as Paulus, ’n apostel van Jesus Christus. Paulus was nie meer ’n slagoffer van bedrog nie, maar het die regte weg van aanbidding gevind.—Handelinge 22:6-16; Romeine 1:1.

Soos Paulus, was baie opregtes van hart voorheen mislei deur leringe wat met onmoontlike figure vergelyk kan word—opvattings wat geloofwaardig lyk, maar nie op God se Woord gebaseer is nie (Spreuke 14:12; Romeine 10:2, 3). Toe is hulle gehelp om die opvattings en die vrugte van hulle godsdiens te sien soos dit werklik is (Matteus 7:15-20). Namate hulle juiste kennis van die Bybel ingeneem het, het hulle veranderinge in hulle opvattings en lewenswyse aangebring sodat hulle God se goedkeuring kon geniet.

Sal jy bereid wees om die voorbeeld van die apostel Paulus te volg en jou opvattings in die lig van God se Woord, die Bybel, te ondersoek? Jehovah se Getuies sal jou met graagte help.

[Foto-erkenning op bladsy 10]

Engravings by Doré