Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom het Satan ’n slang gebruik om met Eva te praat?

Waarom het Satan ’n slang gebruik om met Eva te praat?

Ons lesers vra . . .

Waarom het Satan ’n slang gebruik om met Eva te praat?

▪ Jy stem dalk saam dat Satan die mag agter die slang was wat met Eva gepraat het, soos op bladsy 8 bespreek is. Dit is beslis wat die Bybel leer. Maar miskien wonder jy: ‘Waarom sou ’n kragtige gees ’n slang gebruik soos ’n buikspreker ’n pop gebruik?’

Die Bybel beskryf Satan se taktiek as “sette”, of “listige dade”, en hierdie voorval staaf die gedagte (Efesiërs 6:11; voetnoot in NW). Wat in Eden gebeur het, is nie ’n sprokie van ’n pratende dier nie; dit is ’n ysingwekkende voorbeeld van ’n slim strategie wat bedoel was om mense van God af weg te lok. Hoe?

Satan het sy teiken sorgvuldig gekies. Eva was die jongste intelligente skepsel in die heelal. Hy was daarop uit om haar te bedrieg en te verlei deur haar onervarenheid uit te buit. Deur agter ’n slang te skuil, wat ’n baie versigtige dier is, het Satan op slinkse wyse sy eie vermetele en ambisieuse oogmerke verberg (Genesis 3:1). Kyk ook na wat hy bereik het deur dit te laat lyk asof die slang praat.

Eerstens, Satan het Eva se aandag getrek en behou. Sy het geweet dat slange nie praat nie; haar man het vir al die diere, ook hierdie een, ’n naam gegee, waarskynlik nadat hy hulle goed bestudeer het (Genesis 2:19). Eva het ongetwyfeld ook hierdie versigtige dier waargeneem. Satan se set het dus Eva se nuuskierigheid gewek; dit het haar laat fokus op die een ding in die hele tuin wat vir haar verbode was. Tweedens, tot watter gevolgtrekking sou dit Eva waarskynlik laat kom het as die slang op ’n tak van die verbode boom gelê het? Sou sy nie miskien geredeneer het dat hierdie eenvoudige, stom dier self van hierdie vrugte geëet het en daarna kon praat nie? As die vrugte soveel vir ’n slang kon doen, wat sou dit dan vir haar kon doen? Ons kan nie met sekerheid sê wat Eva gedink het en of die slang ’n hap van die vrug geneem het nie, maar ons weet wel dat Eva, toe die slang vir haar gesê het dat die vrug haar “soos God” sou maak, bereid was om die leuen te glo.

Satan se woordkeuse openbaar ook baie omtrent hom. Hy het twyfel by Eva gewek deur te kenne te gee dat God iets goeds van haar weerhou en haar vryheid onnodig beperk. Die sukses van Satan se plan het daarvan afgehang dat eiebelang vir Eva swaarder sou weeg as liefde vir die God wat haar alles gegee het wat sy het (Genesis 3:4, 5). Ongelukkig het Satan se set gewerk; nie Eva of Adam het in hulle hart die liefde en waardering aangekweek wat hulle vir Jehovah moes gehad het nie. Bevorder Satan nie vandag dieselfde soort eiebelang en selfregverdiging nie?

Maar wat van Satan se beweegrede? Wat wou hy hê? In Eden het hy probeer om sy identiteit en beweegrede te verberg. Maar hy het hom mettertyd geopenbaar. Toe hy Jesus versoek het, het hy sekerlik geweet dat hy hom nie kon vermom nie. Hy het Jesus dus openlik aangespoor: ‘Val neer en verrig ’n daad van aanbidding teenoor my’ (Matteus 4:9). Dit is duidelik dat Satan al lank aangedryf word deur jaloesie oor die aanbidding wat aan Jehovah God gegee word. Hy sal enigiets doen om hierdie aanbidding van God af te keer of te verdraai. Dit verskaf hom genot om onkreukbaarheid teenoor God te vernietig.

Die Bybel toon duidelik dat Satan ’n dodelike strateeg is in die najaging van sy oogmerke. Gelukkig hoef ons nie soos Eva bedrieg te word nie, “want ons is nie onkundig omtrent sy planne nie”.—2 Korintiërs 2:11.