Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jesus—Hoe hy gelewe het

Jesus—Hoe hy gelewe het

“My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring.”—JOHANNES 4:34.

DIE agtergrond waarteen Jesus die woorde hierbo gesê het, openbaar baie oor die fokus van sy lewe. Jesus en sy dissipels het die hele oggend deur die heuwelagtige gebied van Samaria geloop (Johannes 4:6, voetnoot in NW). Die dissipels, wat gedink het dat Jesus al honger moet wees, het vir hom kos aangebied (Johannes 4:31-33). In sy antwoord het Jesus opgesom wat sy doel in die lewe is. Vir hom was dit belangriker om God se werk te doen as om te eet. Jesus het in woord en daad getoon dat hy lewe om te doen wat God se wil vir hom is. Wat het dit ingesluit?

Hy het God se Koninkryk verkondig en ander daarvan geleer

Die Bybel verduidelik wat Jesus se lewenswerk was en sê: “Hy [het] deur die hele Galilea rondgegaan en . . . geleer en die goeie nuus van die koninkryk verkondig” (Matteus 4:23). Jesus het God se Koninkryk nie net aan ander verkondig nie. Hy het mense ook geleer—dit wil sê, hy het onderrig, verduidelik en met behulp van grondige redenasies oortuig. Die Koninkryk was die tema van Jesus se boodskap.

Jesus het deur sy hele bediening sy toehoorders geleer wat God se Koninkryk is en wat dit sal doen. Let op die volgende waarhede aangaande die Koninkryk tesame met die teksverwysings wat Jesus se woorde oor die onderwerp bevat.

  • God se Koninkryk is ’n hemelse regering, en Jehovah het Jesus as Koning aangestel.—MATTEUS 4:17; JOHANNES 18:36.

  • Die Koninkryk sal God se naam heilig en sy wil op die aarde, soos in die hemel, laat geskied.—MATTEUS 6:9, 10.

  • Onder die heerskappy van God se Koninkryk sal die hele aarde in ’n paradys omskep word.—LUKAS 23:42, 43.

  • God se Koninkryk sal binnekort kom en God se wil vir die aarde uitvoer. *MATTEUS 24:3, 7-12.

Hy het kragtige werke verrig

Jesus het hoofsaaklik as “Leermeester” bekend gestaan (Johannes 13:13). Maar gedurende sy bediening van drie en ’n half jaar het hy ook ’n aantal kragtige werke verrig. Hierdie werke het ten minste twee dinge bereik. Eerstens, dit het gehelp om te bewys dat hy wel deur God gestuur is (Matteus 11:2-6). Tweedens, dit het ’n voorskou voorsien van wat hy in die toekoms as Koning van God se Koninkryk op selfs groter skaal sal doen. Let op party van die wonderwerke wat hy verrig het.

Stel jou voor hoe die lewe op aarde onder die heerskappy van so ’n magtige Koning sal wees!

Hy het die persoonlikheid van Jehovah God geopenbaar

God se eie Seun, die persoon wat as Jesus Christus bekend geword het, is die mees bevoegde persoon om ander oor Jehovah te leer. As “die eersgeborene van die hele skepping” het Jesus langer as enige ander geesskepsel saam met Jehovah in die hemel gewoon (Kolossense 1:15). Dink aan die geleenthede wat hy gehad het om sy Vader se denke sy eie te maak en om van Sy wil, standaarde en weë te leer.

Jesus kon tereg sê: “Niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader; en niemand weet wie die Vader is nie, behalwe die Seun, en hy aan wie die Seun bereid is om hom te openbaar” (Lukas 10:22). Toe Jesus as ’n mens op die aarde was, was hy gewillig—ja, gretig—om te openbaar watter soort persoon sy Vader is. Jesus het vanuit ’n unieke perspektief gepraat en onderrig; hy het gebruik gemaak van kennis wat hy eerstehands in die geesteryk en in die verhewe teenwoordigheid van die Allerhoogste God opgedoen het.—Johannes 8:28.

Wat Jesus gedoen het om sy Vader te openbaar, kan vergelyk word met wat ’n elektriese transformator doen. So ’n toestel kan elektrisiteit met ’n hoë spanning omsit in elektrisiteit met ’n laer spanning, waardeur dit geskik gemaak word vir die gewone verbruiker. Toe Jesus op aarde was, het hy die dinge wat hy in die hemel oor sy Vader geleer het, aan nietige mense op aarde oorgedra op maniere wat hulle maklik kon begryp en toepas.

Beskou twee belangrike maniere waarop Jesus sy Vader geopenbaar het.

  • In sy leringe het Jesus die waarheid oor Jehovah bekend gemaak—Sy naam, sy voorneme en sy weë.—JOHANNES 3:16; 17:6, 26.

  • Deur sy dade het Jesus talle pragtige aspekte van Jehovah se persoonlikheid geopenbaar. Jesus het sy Vader se persoonlikheid so volmaak weerspieël dat hy as ’t ware kon sê: ‘As julle wil weet watter soort persoon my Vader is, kyk net na my.’—JOHANNES 5:19; 14:9.

Ons verwonder ons oor die manier waarop Jesus gelewe het. Ons kan grootliks daarby baat vind as ons uitvind waarom hy gesterf het en as ons optree in ooreenstemming met wat ons leer.

^ par. 9 Om meer te leer oor God se Koninkryk en hoe ons weet dat dit binnekort sal kom, sien hoofstuk 8, “Wat is God se Koninkryk?”, en hoofstuk 9, “Lewe ons in ‘die laaste dae’?”, van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.