Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal ewige lewe in die Paradys vervelig wees?

Sal ewige lewe in die Paradys vervelig wees?

Ons lesers vra . . . 

Sal ewige lewe in die Paradys vervelig wees?

▪ Die Bybel bied die hoop dat ons vir ewig in die Paradys op aarde kan lewe (Psalm 37:29; Lukas 23:43). Sal eindelose lewe in ’n volmaakte omgewing vervelig word?

Dit is ’n goeie vraag. Navorsers het gevind dat chroniese verveeldheid daartoe kan lei dat ’n mens angstig en depressief kan word en geneig kan raak om risiko’s te neem. Diegene wat geen doel in die lewe sien nie of wat moeg word vir hulle daaglikse roetine kan slagoffers van verveeldheid word. Sal die lewe van dié in die Paradys doelloos wees? Sal die daaglikse roetine eentonig wees?

Hou eerstens in gedagte dat dit Jehovah God, die Outeur van die Bybel, is wat die ewige lewe aanbied (Johannes 3:16; 2 Timoteus 3:16). God se vernaamste eienskap is liefde (1 Johannes 4:8). Jehovah het ons innig lief en het ons al die goeie dinge gegee wat ons nou geniet.—Jakobus 1:17.

Ons Skepper weet dat ons sinvolle werk nodig het om gelukkig te wees (Psalm 139:14-16; Prediker 3:12). In die Paradys sal werkers nie soos onbelangrike ratte in ’n groot masjien voel nie. Die werk wat hulle doen, sal hulle en diegene vir wie hulle lief is, direk tot voordeel strek (Jesaja 65:22-24). Sou die lewe vir jou vervelig wees as jy interessante, stimulerende werk gehad het om voltyds te doen?

Hou ook in gedagte dat Jehovah God nie sommer enigiemand sal toelaat om in die Paradys te lewe nie. Hy bied die ewige lewe slegs aan diegene wat sy Seun, Jesus, navolg (Johannes 17:3). Terwyl Jesus op aarde was, het hy daarin behae geskep om sy Vader se wil te doen. Hy het sy volgelinge deur woord sowel as deur sy voorbeeld geleer dat dit meer tot blywende geluk bydra om te gee as om te ontvang (Handelinge 20:35). In die herstelde Paradys sal almal volgens die twee grootste gebooie lewe—dié wat liefde vir God en liefde vir naaste vereis (Matteus 22:36-40). Stel jou voor dat jy omring is deur onselfsugtige mense wat vir jou en hulle werk lief is! Dink jy dat jy in sulke geselskap verveeld sal raak?

Wat anders sal lewe in die Paradys insluit? Elke dag sal ons iets nuuts oor ons Skepper kan leer. Navorsers het al klaar baie merkwaardige dinge omtrent Jehovah se skeppingswerke ontdek (Romeine 1:20). Maar tot dusver weet ons nog maar bitter min van Jehovah se skeppingswerke. Duisende jare gelede het die getroue man Job hersien wat hy omtrent God se skeppingswerke geweet het en sy gevolgtrekking is nog waar. “Dít is die rande van [God se] weë”, het Job gesê, “en wat ’n fluistering van ’n saak is omtrent hom gehoor! Maar wie kan sy magtige donder verstaan?”—Job 26:14.

Ongeag hoe lank ons leef, ons sal nooit alles omtrent Jehovah God en sy werke uitvind nie. Die Bybel sê dat God die begeerte om vir ewig te lewe in ons harte gesit het. Maar dit sê ook dat ons “nooit die werk wat die ware God gemaak het, van begin tot einde [sal] uitvind nie” (Prediker 3:10, 11). Dink jy dat dit jou ooit sal verveel om nuwe dinge omtrent jou Skepper te leer?

Diegene wat werk doen wat ander tot voordeel strek en God verheerlik, vind nou reeds dat hulle selde verveeld is. Ons kan seker wees dat ons nooit verveeld sal raak as ons aanhou om soortgelyke werk te doen nie—al lewe ons vir ewig.

[Foto-erkennings op bladsy 27]

Aarde: Image Science and Analysis Laboratory, NASA-Johnson Space Center; Sterrestelsel: The Hubble Heritage Team (AURA/STScI/NASA)