Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Leer jou kinders

Het jy al ooit soos ’n buitestander gevoel?

Het jy al ooit soos ’n buitestander gevoel?

’N BUITESTANDER is iemand wat nie deur ander as deel van hulle groep aanvaar word nie. Dit is dalk ’n seun of ’n meisie wie se velkleur, nasionaliteit, manier van praat of dinge doen van ander s’n verskil. Voel jy ooit soos ’n buitestander? *

Kom ons praat oor ’n man wat soos een gevoel het. Sy naam was Mefiboset. Kom ons vind uit wie hy was en waarom hy so gevoel het. As jy ooit soos ’n buitestander voel, kan jy baie by Mefiboset leer.

Mefiboset was die seun van Jonatan, Dawid se geliefde vriend. Voordat Jonatan in ’n oorlog gesterf het, het hy vir Dawid gesê: ‘Wees goed vir my kinders.’ Dawid het koning geword. Jare later het hy Jonatan se woorde onthou, en Mefiboset het nog gelewe. Toe hy nog klein was, het hy ’n ernstige ongeluk gehad. Hy kon vir die res van sy lewe skaars loop. Kan jy sien waarom hy dalk soos ’n buitestander gevoel het?

Dawid wou goed doen aan Jonatan se seun. Hy het dus gereël dat Mefiboset ’n huis naby syne in Jerusalem kry, en ’n plek is aan Dawid se etenstafel vir hom gehou. Die man Siba, sowel as sy seuns en knegte, is aan Mefiboset gegee om hom te dien. Dawid het Jonatan se seun werklik geëer! Weet jy wat toe gebeur het?

Daar het probleme in Dawid se gesin ontstaan. Absalom, een van Dawid se seuns, het teen hom gedraai en het probeer om koning te  word. Dawid moes vir sy lewe vlug. Mefiboset wou saam met Dawid vlug toe baie ander dit gedoen het. Hierdie vriende van Dawid het geweet dat hy die regmatige koning is. Maar Mefiboset kon nie gaan nie, want hy kon skaars loop.

Later het Siba vir Dawid vertel dat Mefiboset agtergebly het omdat hy eintlik koning wou wees. Dawid het daardie leuen geglo! Daarom het hy vir Siba al Mefiboset se eiendom gegee. Kort daarna het Dawid die oorlog teen Absalom gewen en na Jerusalem teruggekeer. Toe het Dawid Mefiboset se kant van die saak gehoor. Dawid het besluit dat Mefiboset en Siba die eiendom moes deel. Wat dink jy het Mefiboset gedoen?

Hy het nie gekla dat Dawid se besluit onregverdig was nie. Mefiboset het geweet dat die koning vrede nodig het om sy werk goed te kan doen. Hy het dus gesê dat Siba al die eiendom kan hou. Wat vir Mefiboset die meeste saak gemaak het, was dat Jehovah se kneg Dawid weer koning in Jerusalem was.

Mefiboset het baie gely. Hy het dikwels soos ’n buitestander gevoel. Maar Jehovah het hom liefgehad en vir hom gesorg. Wat kan ons hieruit leer?— Selfs al doen ons wat reg is, sal party dalk leuens oor ons vertel. Jesus het gesê: “As die wêreld julle haat, weet julle dat dit my gehaat het voor dit julle gehaat het.” Mense het Jesus selfs doodgemaak! Ons kan seker wees dat die ware God, Jehovah, sowel as sy Seun, Jesus, ons sal liefhê as ons doen wat reg is.

^ par. 3 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.