Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Ons lesers vra . . .

Woon God op een plek?

Woon God op een plek?

Verskillende godsdienste sê dat God alomteenwoordig is, ’n woord wat te kenne gee dat God terselfdertyd op alle plekke woon. Byvoorbeeld, die New Catholic Encyclopedia verwys na God as die een “wat op alle plekke en in alle dinge letterlik teenwoordig is”. John Wesley, stigter van die Metodistekerk, het eweneens ’n preek geskryf met die titel “Oor die alomteenwoordigheid van God” waarin hy gesê het dat “daar nie ’n plek bestaan, hetsy binne of buite die skepping, waar God nie is nie”.

Wat leer die Bybel? Is God alomteenwoordig, met ander woorde, is hy terselfdertyd aanwesig op alle plekke in die hemel, op die aarde en selfs in die mens?

Die Bybel sê in werklikheid dat God ’n vaste woonplek het—die hemel. Dit bevat ’n gebed van koning Salomo waarin hy tot God gebid het: “Mag u luister vanuit die hemel, u vaste woonplek” (1 Konings 8:43). Toe Jesus Christus sy dissipels leer bid het, het hy vir hulle gesê om hulle gebede tot “ons Vader in die hemele” te rig (Matteus 6:9). Ná sy opstanding het Christus ‘in die hemel self ingegaan om nou voor die aangesig van God te verskyn’, sê die Bybel.—Hebreërs 9:24.

Hierdie verse toon duidelik dat Jehovah God nie oral woon nie, maar slegs in die hemel. “Die hemel” in hierdie verse verwys natuurlik nie na die atmosfeer om die aarde of na die eindelose buitenste ruimte nie. Die fisiese hemel kan nie die Skepper van die heelal bevat nie (1 Konings 8:27). Die Bybel sê vir ons dat ‘God ’n Gees is’ (Johannes 4:24). Hy woon in die geestelike hemel, ’n ryk afgeskeie van die fisiese heelal.—1 Korintiërs 15:44.

Maar wat van Bybelgedeeltes wat skynbaar te kenne gee dat God oral teenwoordig is? Soos byvoorbeeld in Psalm 139:7-10 opgeteken is, het Dawid van God gesê: “Waarheen kan ek gaan, weg van u gees af, en waarheen kan ek vlug, weg van u aangesig af? As ek na die hemel sou opklim, sou u daar wees; en as ek my slaapbank in Sjeool sou uitsprei, kyk! u sou daar wees. As ek die vleuels van die dagbreek sou neem, sodat ek in die mees afgeleë see sou kon woon, ook daar sou u hand my lei.” Toon hierdie verse dat God wel alomteenwoordig is en in al hierdie plekke woon?

Let op dat Dawid eers gevra het: “Waarheen kan ek gaan, weg van u gees af?” * Deur middel van sy heilige gees kan God alles sien en sy mag oral uitoefen, sonder om letterlik soontoe te gaan of daar te woon. Ter toeligting: In onlangse jare kon wetenskaplikes grond op die planeet Mars ontleed, wat miljoene kilometers van die aarde af is. Hoe? Nie deur self soontoe te reis nie, maar deur gedetailleerde foto’s en ander inligting te bestudeer wat na die aarde teruggesein is deur verkenningstuie wat na Mars gestuur is.

So ook hoef Jehovah God nie oral aanwesig, of alomteenwoordig, te wees om te kan sien wat op enige plek in die heelal gebeur nie. God se Woord sê: “Daar is nie ’n skepping wat nie vir sy oë sigbaar is nie” (Hebreërs 4:13). Ja, Jehovah kan sy magtige werkende krag, of heilige gees, oral stuur, wat hom in staat stel om alsiende te wees en sy voorneme te volbring vanuit ’n vaste plek, sy “heilige woonplek” in die hemel.—Deuteronomium 26:15.

^ par. 8 Die Hebreeuse woord wat hier met “gees” vertaal word, verwys na God se werkende krag, die krag wat God gebruik om sy wil te volbring.