Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Waarom het God kwartels gekies om die Israeliete in die wildernis te voed?

Ná die Israeliete se uittog uit Egipte het God hulle twee keer van ’n oorvloed vleis in die vorm van kwartels voorsien.—Eksodus 16:13; Numeri 11:31.

Kwartels is klein voëls wat ongeveer 18 sentimeter lank is en sowat 100 gram weeg. Hulle broei in baie dele van Wes-Asië en Europa. Hulle is trekvoëls en oorwinter in Noord-Afrika en Arabië. Gedurende hulle seisoenale migrasie trek groot swerms kwartels oor die ooskus van die Middellandse See en oor die Sinai-skiereiland.

The New Westminster Dictionary of the Bible sê dat kwartels “vinnig en goed vlieg en gebruik maak van die wind; maar as die wind van rigting verander of die voëls moeg raak omdat hulle ver gevlieg het, kan die hele groot swerm grond toe val, waar die voëls uitgeput bly lê”. Voordat hulle hulle migrasie kan voortsit, moet hulle ’n dag of twee op die grond rus, wat beteken dat jagters hulle maklik kan vang. Vroeg in die 20ste eeu het Egipte elke jaar ongeveer driemiljoen kwartels as voedsel uitgevoer.

Al twee kere dat die Israeliete kwartels geëet het, was dit lente. Hoewel kwartels gereeld gedurende daardie tyd oor die Sinai-gebied gevlieg het, was dit Jehovah wat ‘’n wind laat opsteek het’ om hierdie voëls in die Israelitiese kamp in te dryf.—Numeri 11:31.

Wat was “die toewydingsfees” waarvan Johannes 10:22 praat?

Die drie seisoenfeeste wat God die Jode beveel het om te vier—die Fees van die Ongesuurde Koeke, die Pinksterfees en die Fees van die Insameling—is onderskeidelik vroeg in die lente, laat in die lente en in die herfs gehou. Maar die fees waarvan Johannes 10:22 praat, is in die “winter” gehou en was ter herdenking van die hertoewyding van Jehovah se tempel in 165 VHJ. Dit het agt dae geduur en het op die 25ste dag van die maand Kislef begin, kort voor die wintersonstilstand. Wat het tot die instelling daarvan gelei?

In 168 VHJ het die Siriese Seleukiede-heerser Antiogos IV (Epifanes), in sy poging om die Joodse aanbidding en gebruike uit te wis, ’n heidense altaar bo-op die altaar in Jehovah se tempel in Jerusalem laat oprig. Hy het offerandes aan die Griekse god Zeus daarop laat offer.

Hierdie insident het die Makkabese opstand ontketen. Die Joodse leier Judas Makkabeus het Jerusalem van die Seleukiede herower en het toe die ontheiligde altaar afgebreek en ’n nuwe altaar in sy plek laat bou. Presies drie jaar nadat die altaar ontheilig is, het Judas die gereinigde tempel weer aan Jehovah toegewy. Hierdie “toewydingsfees” (Hebreeus, chanoek·kaʹ) word sedertdien in Desember deur die Jode gevier. Vandag staan die fees as Hanukka bekend.

[Prent op bladsy 14]

Muntstuk met ’n afbeelding van Judas Makkabeus daarop, Lyon, 1553

[Foto-erkenning op bladsy 14]

From the book Scripture Natural History. Illustrated. 1876