In die skadu van die berg van vuur
’n Brief uit Kongo (Kinshasa)
In die skadu van die berg van vuur
TERWYL die son oor die stad Goma opkom, word die lug pienk en oranje gekleur. Elke oggend geniet ons die asemrowende uitsig op die berg Nyiragongo, een van die aktiefste vulkane in die wêreld. ’n Voortdurende rookwolk styg uit die oop krater op. Snags weerkaats die rookwolk die lawa in die krater, wat dit ’n rooi skynsel gee.
In Swahili staan die berg bekend as Mulima ya Moto—berg van vuur. Die laaste groot uitbarsting van Nyiragongo het in 2002 plaasgevind. Baie van ons bure en vriende hier in Goma het alles verloor. In party van die buurte waar ek en my man preek, loop ons op ’n geriffelde lawarotsoppervlak, en ek kan my net voorstel hoe dit moet wees om op die maan te loop. Die mense is net mooi die teenoorgestelde van die harde lawa. Hulle is opgeruimde, saggeaarde en openhartige mense wat ontvanklik is vir die goeie nuus wat ons verkondig. Daarom is dit ’n genotvolle avontuur om in die skadu van die berg van vuur te dien.
Saterdagoggend word ek met groot verwagtinge wakker. Ek en my man, tesame met ons besoekende vriende en medesendelinge, sal vir die dag in die vlugtelingkamp in Mugunga, net wes van die stad, gaan preek. Baie van die mense daar moes vlug weens gewelddadige aanvalle op hulle tuisdorpe.
Ons laai Bybellektuur in Frans, Kiswahili en Kinyarwanda in die bakkie. Daarna val ons in die pad. Terwyl ons op die stamperige Route Sake ry, begin die stad lewe. Jong mans stoot reeds hulle swaargelaaide chukudus (handgemaakte stootfietse van hout om vragte te vervoer). Vroue wat bont oorslaanrompe dra, stap grasieus langs die pad met groot bondels op hulle kop. Die motorfietstaxi’s neem mense na hulle werksplek en na die mark. Oral op die landskap is daar bruinswart houthuise wat met blou verf opgehelder is.
Ons kom by die Koninkryksaal in Ndosho aan waar ons mede-Getuies van Jehovah ontmoet wat saam met ons in die kamp gaan preek. Ek is diep geraak toe ek jonges, weduwees, weeskinders en diegene met fisiese beperkings sien. Baie van hulle het verskriklike lyding verduur, maar het hulle lewe verbeter deur te kies om Bybelbeginsels te volg. Die hoop wat die Bybel bied, skyn helder in hulle hart, en hulle is gretig om ander daarvan te vertel. Ná ’n kort vergadering waar daar bespreek is watter Bybelverse aanmoedigend sal wees vir die mense wat ons sal ontmoet, vertrek
130 van ons in vyf minibusse en ’n vierwielaangedrewe voertuig.Ongeveer 30 minute later kom ons by die kamp aan. Honderde klein wit tente is op ’n lawaveld opgeslaan. In die middel van die kamp is netjiese rye openbare toilette en gemeenskaplike wasplekke waar mense hulle klere kan was. Daar is oral mense—hulle was, kook, dop boontjies en vee voor hulle tente.
Ons ontmoet ’n man wat Papa Jacques genoem word en vir ’n sekere deel van die kamp verantwoordelik is. Hy is besorg oor die grootmaak van sy kinders gedurende hierdie moeilike tye. Hy was baie opgewonde toe ons die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk by hom gelaat het, en hy het gesê dat hy dit graag wil lees en dan klein groepies bymekaar wil bring om vir hulle te vertel wat hy leer.
’n Bietjie verder ontmoet ons ’n vrou wat Mama Beatrice genoem word. Sy vra ons waarom God lyding toelaat. Sy dink God straf haar. Haar man is in die oorlog doodgemaak, haar dogter is ’n enkelmoeder wat sukkel om haar baba in die kamp groot te maak en haar seun is etlike maande gelede ontvoer. Sy weet glad nie waar hy is nie.
Mama Beatrice se klagtes laat my dink aan hoe Job moes gevoel het toe hy soveel verskriklike nuus ontvang het. Ons wys vir haar waarom mense ly en verseker haar dat sy nie ly omdat God haar straf nie (Job 34:10-12; Jakobus 1:14, 15). Ons verduidelik ook watter veranderinge God binnekort deur middel van sy Koninkryk op die aarde sal teweegbring. Haar gesig ontspan en sy glimlag. Sy sê sy is vasbeslote om aan te hou om die Bybel te bestudeer en tot God om hulp te bid.
Almal in die groep het die dag geniet, en ons almal voel dat Jehovah ons werklik gehelp het om die mense wat ons ontmoet het, hoop te gee en aan te moedig. Terwyl ons die kamp verlaat, hou baie van die mense hulle traktate, tydskrifte en boeke omhoog terwyl hulle vir ons totsiens waai.
Die rit huis toe gee ons tyd om te dink. My hart loop oor van dankbaarheid vir so ’n spesiale dag. Ek onthou die waardering van Papa Jacques, die verligting in Mama Beatrice se oë, die stewige handdruk van ’n ou vrou wat slegs deur middel van glimlaggies met my kon kommunikeer. Ek dink aan die adolessente wat intelligente vrae gevra het en baie volwasse vir hulle ouderdom was. Ek bewonder die karaktervastheid wat ek gesien het in mense wat nog kan glimlag en lag ten spyte van onbeskryflike lyding.
In hierdie deel van die wêreld sien ons die opregte pogings van baie ander wat verligting probeer bring vir diegene wat ly. Dit was vandag ’n ware voorreg om die Bybel te gebruik om vir mense die blywende oplossing vir hulle probleme te wys. Dit maak my baie gelukkig om deel te neem aan die grootste geestelike noodlenigingspoging wat die wêreld ooit sal sien.