Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat is Armageddon?

Wat is Armageddon?

Ons lesers vra . . .

Wat is Armageddon?

▪ Die woord “Armageddon” laat baie mense dink aan tonele van massavernietiging—kernoorlog, grootskaalse natuurrampe of selfs ’n “omgewings-Armageddon” wat deur aardverwarming aan die gang gesit is. Hierdie woord soos dit in die Bybel gebruik word, verwys na geeneen van hierdie situasies nie. Wat is die Armageddon dan waarvan die Bybel praat?

Die woord “Armageddon” (“Har-Magedon”) verskyn in die Bybelboek Openbaring. Dit verwys na ’n unieke oorlog, “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”, waarin “die konings van die hele bewoonde aarde” gemobiliseer word vir ’n finale stryd teen God. Verskeie ander tekste verwys ook na hierdie oorlog.—Openbaring 16:14-16; Esegiël 38:22, 23; Joël 3:12-14; Lukas 21:34, 35; 2 Petrus 3:11, 12.

Wat behels hierdie oorlog? Die boek Openbaring sê vir ons in simboliese taal: ‘Die konings van die aarde en hulle leërs is versamel om die oorlog te voer teen die een wat op die perd sit en teen sy leër.’ Hierdie “een wat op die perd sit” is God se Seun, Jesus Christus, wat deur God aangestel is om ’n groot leërmag engele tot oorwinning oor God se vyande te lei (Openbaring 19:11-16, 19-21). Jeremia 25:33 openbaar die omvang van hierdie vernietiging van die goddeloses: “Dié wat deur Jehovah omgebring is, sal dié dag beslis van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde lê.”

Waarom is Armageddon nodig? Die nasies weier om God se soewereiniteit te erken, maar bevorder eerder hulle eie soewereiniteit (Psalm 24:1). Hulle verset word in Psalm 2:2 beskryf: “Die konings van die aarde neem stelling in en die hoë amptenare het soos een man saamgespan teen Jehovah en teen sy gesalfde.”

Hierdie rebelle is in werklikheid soos hardkoppige plakkers wat nie net op land woon wat nie hulle s’n is nie, maar dit ook misbruik en verniel. Die nasies van vandag verderf die aarde en besoedel die omgewing. God se Woord het hierdie betreurenswaardige situasie voorspel en gesê: “Die nasies se gramskap het ontvlam, en [God se] eie gramskap het gekom.” Daarna sal God “die verderwers van die aarde . . . verderf” (Openbaring 11:18). Armageddon is die manier wat God goedgekeur het om die geskil te besleg oor wie die reg het om oor die hele mensdom te regeer.—Psalm 83:18.

Wanneer sal Armageddon plaasvind? God se Seun het eenvoudig gesê: “Van daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader” (Matteus 24:36). Nietemin het die Stryder-Koning Jesus Christus hierdie waarskuwing bygevoeg toe hy oor Armageddon gepraat het: “Kyk! Ek kom soos ’n dief. Gelukkig is die een wat wakker bly” (Openbaring 16:15). Hierdie wêreldwye oorlog word dus met Christus se teenwoordigheid geassosieer, en volgens Bybelprofesie lewe ons nou in die tyd van sy teenwoordigheid.

Tydens Armageddon sal slegs dié wat in hulle goddeloosheid verstok is, vernietig word, en daar sal “’n groot menigte” oorlewendes wees (Openbaring 7:9-14). Hulle sal sien hoe die volgende woorde bewaarheid word: “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:10, 11.

[Lokteks op bladsy 10]

“Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede”