Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie heers werklik oor die wêreld?

Wie heers werklik oor die wêreld?

Wie heers werklik oor die wêreld?

JY HET waarskynlik nog nooit die baas van ’n misdaadsindikaat ontmoet nie. Beteken dit dat sulke mense nie bestaan nie? Misdaadbase weet goed hoe om hulle identiteit te verberg of selfs hoe om kriminele bedrywighede te rig terwyl hulle agter tralies sit. Nogtans herinner koerantopskrifte oor dwelmoorloë, prostitusienetwerke en mensehandel, om maar ’n paar te noem, ons aan die verderflike invloed en droewige gevolge van die bedrywighede en bestaan van sulke misdadigers. Weens die merk wat hierdie misdaadbase op die mensegemeenskap laat, weet ons dat hulle bestaan.

God se Woord, die Bybel, openbaar dat Satan ’n werklike persoon is wat, soos ’n magtige misdaadbaas, deur “leuenagtige tekens” en “onregverdige bedrog” toesien dat sy wil uitgevoer word. Trouens, hy “hou aan om hom in ’n engel van lig te verander”, sê die Bybel (2 Tessalonisense 2:9, 10; 2 Korintiërs 11:14). Die Duiwel se bestaan kan eweneens gesien word in die merk wat hy op die mensdom laat. Tog vind die meeste mense dit moeilik om te glo dat ’n onsigbare, goddelose geesskepsel bestaan. Voordat ons van naderby ondersoek wat die Bybel oor die Duiwel sê, kom ons kyk na ’n paar algemene besware en verkeerde opvattings wat verhinder dat baie mense die idee aanvaar dat die Duiwel ’n werklike persoon is.

“Hoe kon ’n liefdevolle God die Duiwel geskep het?” Aangesien die Bybel sê dat God goed en volmaak is, lyk dit na ’n teenstrydigheid dat hy ’n bose, kwaadwillige, goddelose wese sou geskep het. Die feit is dat die Bybel nie sê dat God so ’n persoon geskep het nie. Inteendeel, dit sê van God: “Die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy.”—Deuteronomium 32:4; Psalm 5:4.

Die vraag is of ’n volmaakte persoon wat deur God geskep is, slegs in staat is om te doen wat reg is. God het sy skepsele beslis nie soos robotte gemaak nie, maar het hulle wilsvryheid gegee—die vermoë om hulle eie keuses te maak. ’n Volmaakte, intelligente skepsel kan gevolglik kies om te doen wat goed of wat sleg is. In werklikheid kan slegs die dade van ’n intelligente skepsel met wilsvryheid, hetsy mens of gees, ware sedelike betekenis hê.

Hieruit kan dus gesien word dat God nie sy skepsele wilsvryheid sou gegee het en hulle terselfdertyd sou verhinder het om kwaad te doen as hulle sou besluit om dit te doen nie. Jesus het verwys na ’n misbruik van wilsvryheid toe hy van die Duiwel gesê het: “Hy het nie in die waarheid vasgestaan nie” (Johannes 8:44). Hierdie stelling toon duidelik dat die een wat die Duiwel geword het, oorspronklik ’n volmaakte geespersoon was wat vroeër wel “in die waarheid vasgestaan” het. a Jehovah God het sy skepsele wilsvryheid gegee omdat hy hulle liefhet en vertrou.—Sien die venster  “Kan ’n volmaakte skepsel volmaaktheid verloor?” op bladsy 6.

“Die Duiwel is ’n kneg van God” Party dink dat hierdie idee uit die Bybelboek Job afgelei kan word. Volgens een Bybelkommentaar verwys die stelling dat die Duiwel op “’n swerftog oor die aarde” was, na die rol van eertydse Persiese spioene, wat in die diens van hulle koning gereis en aan hom teruggerapporteer het (Job 1:7). Maar waarom sou die Duiwel, as hy werklik God se spioen was, aan God moes verduidelik dat hy teruggekeer het van “’n swerftog oor die aarde”? Die verslag in Job beeld die Duiwel beslis nie uit as ’n bondgenoot van God nie, maar noem hom Satan, wat “Teenstander” beteken, en toon sodoende dat hy in werklikheid God se grootste Vyand is (Job 1:6). Waar kom die idee dan vandaan dat die Duiwel in God se diens is?

Reeds in die eerste eeu HJ het apokriewe boeke, soos die “Boek van Jubileë” en die “Gemeenskapsreël” van die Qumran-sekte, die indruk geskep dat die Duiwel met God onderhandel en tog aan Sy wil onderworpe is. In sy boek Mephistopheles het die geskiedskrywer J.B. Russell verduidelik dat die Protestantse Hervormer Martin Luther die Duiwel beskou het as God se werktuig, “soos ’n snoeihaak of ’n skoffel waarmee hy in sy tuin werk”. Dit kom daarop neer, voeg Russell by, dat “die skoffel behae daarin skep om die onkruid te vernietig”, maar dit bly in God se magtige hand en voer dus God se wil uit. Luther se lering—wat later deur die Franse teoloog Johannes Calvyn aangeneem is—het ingedruis teen baie gelowiges se sin vir geregtigheid. Hoe kan ’n liefdevolle God nie net boosheid toelaat nie maar dit selfs veroorsaak? (Jakobus 1:13). Hierdie lering, asook die gruwels van die 20ste eeu, verhinder dat baie mense glo dat beide God en die Duiwel bestaan.

“Die Duiwel is bloot ’n simbool van boosheid” As ’n mens die Duiwel bloot as ’n simbool van boosheid beskou, is dit feitlik onmoontlik om sekere Bybelgedeeltes te verstaan. Byvoorbeeld, met wie het God die gesprek gevoer wat in Job 2:3-6 beskryf word? Het hy miskien met ’n abstrakte simbool van boosheid in Job gepraat, of het hy dalk selfs met homself gepraat? Wat meer is, sou God die een oomblik Job se deugde prys en die volgende oomblik toelaat dat Job deur ’n simbool van boosheid beproef word? As ’n mens so ’n beskouing van God het, sê jy eintlik dat hy ’n perverse Wese is, nie die een “in wie daar geen onregverdigheid is nie” (Psalm 92:15). Maar God het in werklikheid geweier om ‘sy hand uit te steek’ om Job skade aan te doen. Dit is duidelik dat die Duiwel nie ’n simbool van boosheid of ’n donker kant van God se persoonlikheid is nie, maar dat hy ’n geespersoon is wat homself God se Vyand gemaak het.

Wie heers werklik oor die wêreld?

Vandag voel baie mense dat dit ouderwets is om aan die Duiwel te glo. Maar daar is geen bevredigende verklaring vir die wrede werklikheid van boosheid buiten die bestaan van die Duiwel nie. Trouens, die poging om weg te doen met die idee van die Duiwel het daartoe gelei dat baie mense God en enige sedelike perke geheel en al verwerp.

“Die Duiwel se slinkste set”, het die 19de-eeuse digter Charles-Pierre Baudelaire geskryf, “is om ons te oortuig dat hy nie bestaan nie.” Deur sy identiteit te verberg, het die Duiwel in werklikheid twyfel oor die bestaan van God gewek. As die Duiwel nie bestaan het nie, sou dit God dan nie vir alle boosheid verantwoordelik maak nie? Is dit nie presies wat die Duiwel wil hê mense moet glo nie?

Soos ’n misdaadbaas, verberg die Duiwel sy identiteit om sy doel te bereik. Wat is daardie doel? Die Bybel antwoord: “Die god van hierdie stelsel van dinge [het] die verstande van die ongelowiges verblind . . . , sodat die verligting van die glorieryke goeie nuus oor die Christus, wat die beeld van God is, nie sou deurskyn nie.”—2 Korintiërs 4:4.

Daar is nog een belangrike vraag. Wat sal God doen met hierdie geheime meesterbrein wat agter alle boosheid en lyding is? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.

[Voetnoot]

a Om te verstaan waarom God nie die Duiwel se opstand onmiddellik stopgesit het nie, sien hoofstuk 11 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 5]

Is die Duiwel ’n kneg van God of ’n teenstander van God?

[Venster/Prent op bladsy 6]

 Kan ’n volmaakte skepsel volmaaktheid verloor?

Die volmaaktheid wat God sy intelligente skepsele gegee het, is relatief. Hoewel Adam volmaak geskep is, moes hy die fisiese beperkings respekteer wat sy Skepper op hom geplaas het. Hy kon byvoorbeeld nie grond, gruis of hout eet sonder om die slegte gevolge te ervaar nie. As hy die wet van swaartekrag geïgnoreer en van ’n hoë krans afgespring het, sou hy sterf of ernstig beseer word.

Geen volmaakte skepsel—hetsy ’n mens of ’n engel—kan eweneens die sedelike perke oorskry wat God vasgestel het sonder om die slegte gevolge te ervaar nie. Wanneer ’n intelligente skepsel sy wilsvryheid misbruik, verval hy dus maklik in sonde.—Genesis 1:29; Matteus 4:4.