Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

WAT het ’n jong vrou beweeg om terug te keer tot die godsdienswaardes waarvan sy afgedwaal het? Lees wat sy hieroor te sê het.

“Ek het nou ’n ware doel in die lewe.”—LISA ANDRÉ

GEBORE: 1986

GEBOORTELAND: LUXEMBURG

GESKIEDENIS: LOSBANDIGE JEUGDIGE

MY VERLEDE: Ek het grootgeword in Bertrange, ’n skoon, veilige en welvarende klein dorpie naby die stad Luxemburg. Ek is die jongste van vyf kinders. My ouers is Jehovah se Getuies, en hulle het hard gewerk om Christelike waardes by my, my broers en my susters in te skerp.

Gedurende my vroeë tienerjare het ek ernstig begin twyfel oor wat Jehovah se Getuies leer. Aan die begin het ek hierdie twyfelgedagtes geïgnoreer, maar my geloof het geleidelik al hoe swakker geword. My ouers het alles in hulle vermoë gedoen om my in die regte rigting te lei, maar ek het hulle hulp verwerp. Sonder hulle medewete het ek met jongmense geassosieer wat min respek vir gesag het. Ek wou die vryheid geniet wat hulle lewenswyse oënskynlik bied. Ons het baie gejol, rondgeslaap en dwelms en alkohol misbruik. Ek was aan die begin bly om saam met mense te wees wat die lewe skynbaar ten volle geniet.

Maar ek was nie werklik gelukkig nie. Die lewe met daardie vriende was baie oppervlakkig; niemand het juis oor enigiets nagedink nie. In teenstelling hiermee het kwessies soos die wydverspreide ongeregtigheid in die wêreld my gepla. Met verloop van tyd het ek al hoe depressiewer gevoel.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Eendag, toe ek 17 jaar oud was, het ek baie terneergedruk gevoel. My ma kon sien hoe ongelukkig ek was en het my gevra om die Bybel nog ’n kans te gee. Sy het my aangemoedig om die leringe daarin te ondersoek en dan self te besluit of ek in ooreenstemming daarmee wil lewe of nie. Daardie openhartige gesprek was ’n ware keerpunt vir my. Ek het ingestem om die Bybel saam met my ouer suster Caroline en haar man, Akif, te studeer. Hy is nie as een van Jehovah se Getuies grootgemaak nie, maar het as volwassene een geword. As gevolg van Akif se verlede het ek gevoel dat ek openlik met hom kan praat, wat vir my belangrik was.

Ek het geweet dat my lewenswyse nie vir ’n Getuie gepas is nie, maar aanvanklik het ek gevoel dat wat ek met my lewe doen, ’n persoonlike saak is. Maar uit my Bybelstudie het ek geleer dat my gedrag ’n uitwerking op Jehovah se gevoelens het (Psalm 78:40, 41; Spreuke 27:11). Ek het ook begin verstaan dat dit ander mense raak.

Terwyl ek die Bybel verder ondersoek het, het ek gevind dat daar logiese, oortuigende redes is om te glo dat dit wel die Woord van God is. Ek het byvoorbeeld van baie Bybelprofesieë geleer wat vervul is—met ’n ongelooflike mate van akkuraatheid. Hierdie kennis het my gehelp om my vroeëre twyfelgedagtes te bowe te kom.

Ongeveer ’n jaar nadat ek die Bybel begin studeer het, het ek en my ouers my ouer broer besoek wat ’n vrywilliger by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Duitsland was. Toe ek sien hoe gelukkig my broer is, is ek diep geraak. Daardie geluk was presies waarna ek op soek was! Ek was ook beïndruk deur die ander Getuies wat as vrywilligers daar gewerk het. Hulle was baie anders as die oneerlike, sensasiebeluste mense met wie ek geassosieer het. Kort hierna het ek opreg tot Jehovah gebid en belowe om hom vir die res van my lewe te dien. Toe ek 19 was, het ek my toewyding aan Jehovah gesimboliseer deur gedoop te word.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek het nou ’n ware doel in die lewe. Ek put vreugde daaruit om ander oor die Bybel te leer en hulle sodoende te help om kennis van Jehovah en sy beloftes vir die toekoms op te doen. My gesin het ook baat gevind—hulle is nie meer bekommerd oor my nie.

Ek is bewus van die foute wat ek in die verlede gemaak het, maar ek probeer om nie daaroor te tob nie. Ek fokus eerder op Jehovah se vergifnis en op sy liefdevolle belangstelling in my. Ek stem heelhartig saam met Spreuke 10:22, wat sê: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie.”

[Lokteks op bladsy 12]

“Ons het baie gejol, rondgeslaap en dwelms en alkohol misbruik”

[Lokteks op bladsy 13]

“Ek is bewus van die foute wat ek in die verlede gemaak het, maar ek probeer om nie daaroor te tob nie”