Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoe is die dienste by Jehovah se tempel in Jerusalem gefinansier?

Die verskillende tempeldienste is deur middel van belasting gefinansier, hoofsaaklik verpligte tiendes. Maar ander vorme van belasting is ook gehef om die tempeldienste te finansier. Toe die tabernakel gebou is, het Jehovah Moses byvoorbeeld beveel om ’n halfsikkel silwer van elke geregistreerde Israeliet in te vorder as ’n “bydrae vir Jehovah”.—Eksodus 30:12-16.

Klaarblyklik het dit gebruiklik geword dat elke Jood hierdie vaste bedrag as ’n jaarlikse tempelbelasting bydra. Dit is hierdie belasting wat Jesus Petrus aangesê het om met ’n muntstuk te betaal wat uit ’n vis se bek geneem is.—Matteus 17:24-27.

Etlike jare gelede is twee soorte silwermuntstukke wat gebruik is om die tempelbelasting te betaal, in Jerusalem gevind. Een muntstuk, wat in 22 HJ in Tirus geslaan is, is in ’n eerste-eeuse afvoerkanaal gevind. Op die een kant van hierdie sikkel verskyn ’n afbeelding van die kop van Melkart, of Baäl, die hoofgod van Tirus, en op die anderkant ’n arend wat op ’n skip se boeg sit. Die tweede muntstuk, wat in puin gevind is wat van die tempelberg verwyder is, dateer uit 66-67 HJ, die eerste jaar van die Joodse opstand teen Rome. Dit het ’n afbeelding van ’n kelk en drie bloeiende granate daarop, sowel as die inskripsie “Halfsikkel” en “Heilige Jerusalem”. Professor Gabriel Barkay sê dat daar aanduidings op die muntstuk is “dat dit deur vuur beskadig is; heel waarskynlik die brande wat die Tweede Tempel in 70 HJ vernietig het”.

Hoe indrukwekkend was die bouprojekte van Nebukadnesar, die koning van Babilon?

Volgens die Bybelboek Daniël het Nebukadnesar gesê: “Is dit nie Babilon die Grote wat ek vir die koninklike huis gebou het met die sterkte van my mag en vir die waardigheid van my majesteit nie?” (Daniël 4:30). Was hierdie antieke stad werklik indrukwekkend?

Volgens geskiedkundiges het Nebukadnesar se bouprojekte tempels, paleise, stadsmure en ’n majestueuse terrastuin ingesluit. Die hooftempel in die middel van Babilon het ’n toring, of ziggoerat, gehad wat waarskynlik meer as 70 meter hoog was. Maar “die beroemdste van [Nebukadnesar se] prestasies is die Prosessieweg en die Isjtar-poort”, sê die boek Babylon—City of Wonders. Die Prosessieweg, wat deur die Isjtar-poort geloop het, is aan weerskante met reliëfs van leeus versier. Aangaande die poort, Babilon se indrukwekkendste ingang, sê dieselfde boek: “Die poort, wat heeltemal bedek is met diepblou glasuursteen en versier is met reliëfafbeeldings van honderde marsjerende bulle en drake, moes ongetwyfeld ’n onvergeetlike toneel gewees het vir ’n eertydse besoeker aan die hoofstad.”

Aan die begin van die 20ste eeu het argeoloë duisende fragmente van die Prosessieweg en die Isjtar-poort opgegrawe en toe baie van die fragmente in die Pergamon-museum in Berlyn, Duitsland, gerekonstrueer.

[Prente op bladsy 12]

Werklike grootte

[Erkennings]

Bo: Clara Emit, Courtesy of Israel Antiquities Authority; onder: Zev Radovan

[Prent op bladsy 12]

Rekonstruksie van die Isjtar-Poort