Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe ons ons verpligting teenoor God kan nakom

Hoe ons ons verpligting teenoor God kan nakom

Kom nader aan God

Hoe ons ons verpligting teenoor God kan nakom

HET jy al ooit gewonder: ‘Wat is die doel van die lewe?’ Jehovah het ons nie net die vermoë gegee om hierdie vraag te vra nie, maar ook ’n groot, innerlike behoefte om te weet wat die antwoord is. Gelukkig het ons liefdevolle God ons nie in die duister gelaat nie. Die antwoord waarna ons smag, is in sy Woord, die Bybel. Kyk na die woorde van koning Salomo in Prediker 12:13.

Salomo was in ’n unieke posisie. Hy was bevoeg om kommentaar te lewer oor hoe om geluk en betekenis in die lewe te vind. Hy is geseën met buitengewone wysheid, ontsaglike rykdom en koninklike gesag en kon dus ’n noukeurige ondersoek doen van menslike strewes, insluitende die najaging van rykdom en aansien (Prediker 2:4-9; 4:4). Toe het hy sy bevindings onder goddelike inspirasie opgesom en gesê: “Die slot van die saak, nadat alles gehoor is, is: Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.” Hierdie woorde toon wat die bevredigendste en edelste menslike strewe is.

“Vrees die ware God.” Die gedagte om God te vrees, klink dalk aanvanklik nie vir ons so aangenaam nie. Maar hierdie vrees is ’n gesonde toestand van die hart. Ons moet dit nie vergelyk met die gevoel van ’n slaaf wat doodbang is om ’n wrede eienaar kwaad te maak nie, maar eerder met dié van ’n kind wat gretig is om ’n liefdevolle vader te behaag. Een naslaanwerk sê dat die vrees vir God die “gevoel van eerbied en ontsag [is] wat Sy knegte vir Hom het omdat hulle Hom liefhet en Sy mag en Sy grootheid respekteer”. Hierdie gesindheid beweeg ons om ons aan God se wil te onderwerp omdat ons hom liefhet en ons weet dat hy ons liefhet. Hierdie heilsame vrees is nie net ’n gevoel nie; dit word deur dade geopenbaar. Hoe so?

“Onderhou sy gebooie.” Vrees vir God beweeg ons om hom te gehoorsaam. Dit maak sin om aan Jehovah gehoorsaam te wees. As ons Maker weet hy wat die beste lewenswyse vir ons is, net soos ’n vervaardiger weet wat die beste manier is om sy produk te gebruik. Daarbenewens dra Jehovah ons belange op die hart. Hy wil hê dat ons gelukkig moet wees, en sy vereistes is ontwerp om ons welsyn te bevorder (Jesaja 48:17). Die apostel Johannes het dit so gestel: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Ons gehoorsaamheid toon ons liefde vir God, en sy gebooie weerspieël sy liefde vir ons.

“Dit is die hele verpligting van die mens.” Hierdie woorde beklemtoon ’n belangrike rede om God te vrees en aan hom gehoorsaam te wees. Ons is verplig om dit te doen. Jehovah is ons Skepper; ons is ons lewe aan hom te danke (Psalm 36:9). Ons moet dus aan hom gehoorsaam wees. Wanneer ons lewe soos hy wil hê ons moet lewe, kom ons ons verpligting na.

Wat is dan die doel van die lewe? Kortom: Ons is hier om God se wil te doen. Daar is nie ’n beter manier om jou lewe sinvol te maak nie. Vind gerus meer uit oor Jehovah se wil en hoe jy jou lewe in ooreenstemming daarmee kan bring. Jehovah se Getuies sal jou met graagte hiermee help.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir November:

Spreuke 22Hooglied 8