Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet ouers hulle kinders oor seks leer?

Moet ouers hulle kinders oor seks leer?

Ons lesers vra . . .

Moet ouers hulle kinders oor seks leer?

▪ Baie ouers doen groot moeite om hulle kinders teen gevaarlike siektes te beskerm. Ouers moet soortgelyke moeite doen om hulle kinders teen gevaarlike sedelike gesindhede te beskerm. Een manier waarop hulle dit kan doen, is deur middel van gebalanseerde seksopvoeding (Spreuke 5:3-23). Sulke ouerlike opleiding en sedelike leiding is noodsaaklik, want kinders word al hoe meer aan eksplisiete seksuele materiaal op TV en op die Internet, in boeke en in strokiesprente blootgestel.

“Vandag is die probleem nie dat ons kinders oor seks leer nie”, verduidelik Diane Levin, ’n skrywer en ’n professor in die opvoedkunde. “Die probleem is wat hulle leer, die ouderdom waarop hulle dit leer en by wie hulle dit leer. Die soort seksopvoeding wat kinders by bemarkers en die populêre kultuur kry, is baie kragtig en skadelik.”

Ouers moet hulle kinders beskerm teen die verwronge en onsedelike beskouings wat die samelewing ondermyn (Spreuke 5:1; Efesiërs 6:4). Jong kinders moet weet hoe hulle liggaam werk, hoe om hulle liggaam te versorg en hoe om hulle teen onsedelike mense te beskerm. Voor puberteit—die ouderdom waartydens tekens van seksuele rypheid begin verskyn—moet ’n meisie weet watter veranderinge in haar liggaam gaan plaasvind en sy moet verstaan waarom en hoe menstruasie plaasvind. ’n Seun moet eweneens vooraf van nagtelike saadstortings, of nat drome, weet. Wanneer kinders klein is, kan ouers hulle die regte name vir liggaamsdele begin leer. Liefdevolle ouers leer hulle kinders drie belangrike lesse oor hierdie liggaamsdele: (1) Dit is spesiaal en privaat. (2) Dit moenie op ’n lelike manier bespreek moet word nie. (3) Ander mag gewoonlik nie daaraan raak nie en dit mag gewoonlik nie aan ander gewys word nie. Wanneer kinders ouer word, moet ouers onderskei wanneer om te verduidelik hoe ’n vrou swanger word. a

Wanneer moet ouers met sulke opleiding begin? Vroeër as wat baie besef. ’n Meisie menstrueer dalk vir die eerste keer op die ouderdom van 10 of selfs vroeër. ’n Seun kan sy eerste nagtelike saadstorting alreeds op die ouderdom van 11 of 12 hê. Hierdie betekenisvolle gebeurtenisse kan baie ontstellend wees as kinders nie verstaan wat gebeur nie. Kinders moet vooraf verseker word dat daar niks verkeerd is met sulke natuurlike liggaamsveranderinge nie. Dit is ook die tyd om hulle te help om die waarde en belangrikheid daarvan te verstaan om die Bybel se sedelike standaarde te volg—iets wat die meeste sekulêre seksopvoedingsprogramme nie doen nie.—Spreuke 6:27-35.

[Voetnoot]

a Ouers kan nuttige inligting oor hierdie onderwerpe in die volgende publikasies vind wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is: Die Ontwaak! van Mei 2006, “Berei jou dogter voor vir haar eerste maandstonde”, bladsye 10-13; Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, hoofstuk 6, “Wat gebeur met my liggaam?”; en Die Wagtoring van 1 November 2010, “Sleutels tot gesinsgeluk—Praat met jou kinders oor seks”, bladsye 12-14.