Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Heilig, heilig, heilig is Jehovah”

“Heilig, heilig, heilig is Jehovah”

Kom nader aan God

“Heilig, heilig, heilig is Jehovah”

AS JY een woord moes kies om Jehovah God—sy wese, of natuur—te beskryf, watter woord sou jy kies? Die profeet Jesaja is in die agtste eeu VHJ ’n visioen gegee waarin hy gehoor het hoe geesskepsele Jehovah verheerlik en ’n woord gebruik wat ’n vername aspek van Sy wese beskryf—heiligheid. Wat Jesaja gesien en gehoor het, moet ons met ontsag vervul en ons nader aan Jehovah laat kom. Terwyl ons die woorde in Jesaja 6:1-3 bespreek, stel jou voor dat jy daar is.

Wat sien Jesaja? “Ek [het] Jehovah op ’n hoë en verhewe troon sien sit”, sê Jesaja (vers 1). Jesaja sien nie werklik die Soewereine Heer Jehovah nie. Fisiese oë kan nie in die geesteryk inkyk nie. Die Bybel sê uitdruklik: “Geen mens het God ooit gesien nie” (Johannes 1:18). Wat Jesaja sien, is ’n visioen. a Maar die visioen is besonder realisties—so werklik dat dit Jesaja met ontsag vervul, en hy reageer asof hy Jehovah self sien.

Jesaja sien vervolgens iets wat dalk geen ander mens al bevoorreg was om in ’n visioen te sien nie. Hy skryf: “Serafs het bo hom [Jehovah] gestaan. Elkeen het ses vlerke gehad. Met twee vlerke het hy sy gesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy rondgevlieg” (vers 2). Serafs is geesskepsele wat ’n baie hoë rang beklee. Jesaja is die enigste Bybelskrywer wat van hulle melding maak. Die serafs staan altyd gereed om op te tree om God se wil vir hulle uit te voer. Hulle bedek hulle gesigte en voete en betoon sodoende gepaste eerbied en respek teenoor die Een in wie se teenwoordigheid hulle bevoorreg is om te dien.

Jesaja word nie net met ontsag vervul deur wat hy sien nie, maar ook deur wat hy hoor. Die serafs vorm ’n hemelse koor en verhef hulle stemme in sang. Jesaja skryf: “Die een het die ander toegeroep en gesê: ‘Heilig, heilig, heilig is Jehovah van die leërs’” (vers 3). Die Hebreeuse woord wat met “heilig” vertaal word, dra die gedagte van reinheid en suiwerheid oor. Die woord sluit ook “die gedagte van volkome vryheid en afgeskeidenheid van wat sondig is” in. Die serafs sing die woord “heilig” drie keer in wat dalk ’n ononderbroke antifonale lied is, wat beklemtoon dat Jehovah in die hoogste graad heilig is (Openbaring 4:8). Heiligheid is dus ’n onderskeidende kenmerk van sy persoonlikheid. Jehovah is deur en deur suiwer, rein en vlekkeloos.

Die wete dat Jehovah heilig is, moet ons beweeg om nader aan hom te kom. Waarom? In teenstelling met menseheersers wat soms korrup en onderdrukkend word, is Jehovah heeltemal vry van sonde. Sy heiligheid waarborg dus dat hy altyd die volmaakte Vader, ’n regverdige Heerser en ’n onpartydige Regter sal wees. Ons het alle rede om te vertrou dat die God wat deur en deur heilig is, ons nooit sal teleurstel nie.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Desember:

Jesaja 1-23

[Voetnoot]

a Insight on the Scriptures verduidelik: “Wanneer iemand ’n visioen van God ontvang het terwyl hy wakker was, is die indruk blykbaar op die bewuste verstand gemaak. Die visioen kon later herroep word of deur die ontvanger in sy eie woorde beskryf of opgeteken word.”—Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 26]

Die wete dat Jehovah heilig is, moet ons beweeg om nader aan hom te kom