Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan ons goeie vriende kies?

Hoe kan ons goeie vriende kies?

Leer uit God se Woord

Hoe kan ons goeie vriende kies?

Hierdie artikel opper vrae wat jy dalk al gevra het en toon waar jy die antwoorde in die Bybel kan vind. Jehovah se Getuies sal graag hierdie antwoorde met jou bespreek.

1. Waarom moet ons ons vriende versigtig kies?

Die meeste mense hou daarvan om deur ander aanvaar te word. Hierdie begeerte veroorsaak dikwels dat ons diegene om ons naboots. Ons vriende het dus ’n kragtige uitwerking op die gesindhede wat in ons hart ontwikkel. Gevolglik kan die vriende wat ons kies, ’n uitwerking hê op watter soort persoon ons sal word.—Lees Spreuke 4:23; 13:20.

Die geïnspireerde Bybelskrywer Dawid het sy vriende wyslik gekies. Hy het met diegene geassosieer wat hom gehelp het om sy onkreukbaarheid as ’n kneg van God te handhaaf (Psalm 26:4, 5, 11, 12). Dawid het byvoorbeeld Jonatan se vriendskap waardeer omdat Jonatan hom aangespoor het om op Jehovah te vertrou.—Lees 1 Samuel 23:16-18.

2. Hoe kan jy God se vriend wees?

Hoewel Jehovah almagtig is, kan ons tog sy vriende word. Abraham het byvoorbeeld ’n vriend van God geword. Abraham het Jehovah vertrou en gehoorsaam, en daarom het Jehovah hom as ’n vriend beskou (Genesis 22:2, 9-12; Jakobus 2:21-23). As ons Jehovah vertrou en doen wat hy vir ons sê om te doen, kan ons ook vriende van God word.—Lees Psalm 15:1, 2.

3. Hoe kan jy daarby baat vind om goeie vriende te hê?

Ware vriende is lojaal en help jou om te doen wat reg is (Spreuke 17:17; 18:24). Byvoorbeeld, hoewel Jonatan waarskynlik 30 jaar ouer as Dawid was en onder normale omstandighede as Israel se koning gekroon sou geword het, het hy Dawid lojaal ondersteun as die een wat deur God gekies is om koning te wees. Ware vriende het ook die moed om jou reg te help as hulle sien dat jy onverstandig optree (Psalm 141:5). Vriende wat God liefhet, sal jou help om goeie gewoontes te ontwikkel.—Lees 1 Korintiërs 15:33.

Jy kan mense wat, soos jy, lief is vir wat reg is, by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies ontmoet. Daar sal jy vriende vind wat jou sal aanmoedig in jou pogings om God te behaag.—Lees Hebreërs 10:24, 25.

Maar selfs vriende wat God liefhet, sal ons dalk partykeer teleurstel. Moenie maklik aanstoot neem wanneer hulle foute maak nie (Prediker 7:9, 20-22). Onthou, geen vriend is volmaak nie en vriende wat God liefhet, is vir ons kosbaar. God se Woord spoor ons aan om die foute van mede-Christene oor te sien.—Lees Kolossense 3:13.

4. Sê nou “vriende” staan jou teë?

Baie mense vind dat party van hulle ou vriende hulle teëstaan wanneer hulle hulp begin ontvang om God se Woord te verstaan. Sulke vriende verstaan dalk nie die praktiese raad of die vaste hoop wat jy in die Bybel gevind het nie. Miskien kan jy hulle help.—Lees Kolossense 4:6.

In ander gevalle sal “vriende” dalk die goeie nuus in God se Woord bespot (2 Petrus 3:3, 4). Party sal moontlik die spot dryf met jou pogings om te doen wat reg is (1 Petrus 4:4). As dit met jou gebeur, sal jy dalk tussen hulle vriendskap en God s’n moet kies. As jy kies om God se vriend te wees, dan sal jy die beste vriend gekies het wat enigiemand kan hê.—Lees Jakobus 4:4, 8.

Vir meer inligting, sien hoofstukke 12 en 19 van hierdie boek, Wat leer die Bybel werklik? uitgegee deur Jehovah se Getuies.