Sal die aarde in 2012 vergaan?
Ons lesers vra . . .
Sal die aarde in 2012 vergaan?
▪ “Franse dorpie moet hom staal vir toestroming van mense wat in die apokalips glo . . . Hulle glo dat die wêreld op 21 Desember 2012 sal eindig, wat die einde is van ’n 5 125 jaar lange siklus op die eertydse Maja-kalender.”—BBC News.
Ondanks voorspellings deur fatalistiese godsdiensleiers, pseudowetenskaplikes en enige ander voorspellers van die 21ste eeu sal die aarde vir ’n baie lang tyd bly staan. Die aarde sal nie in 2012 vergaan nie. Trouens, die aarde sal nie net daardie jaar bly bestaan nie, maar ook elke jaar daarna.
Die Bybel sê vir ons: “Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan” (Prediker 1:4, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Dink ook aan wat die woorde in Jesaja 45:18 impliseer: “Só het Jehovah gesê, . . . die Formeerder van die aarde en die Maker daarvan, Hy, wat dit stewig gevestig het, wat dit nie verniet geskep het nie, wat dit gevorm het om bewoon te word: ‘Ek is Jehovah, en daar is geen ander nie.’”
Sou ’n liefdevolle vader baie ure daaraan bestee om ’n speelgoedbootjie vir sy seun of ’n pophuis vir sy dogter te ontwerp en te bou en dit dan oomblikke nadat hy dit vir hom of haar gegee het, vernietig? Dit sou wreed wees! So ook het God die aarde hoofsaaklik vir sy menseskepping geskep en dit vir hulle gegee om te geniet. God het vir die eerste mensepaar, Adam en Eva, gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit.” Daarna “het God alles gesien wat hy gemaak het, en kyk! dit was baie goed” (Genesis 1:27, 28, 31). God het nie van sy voorneme vir die aarde afgesien nie; hy sal nie toelaat dat die aarde vernietig word nie. Aangaande alles wat hy belowe het, het Jehovah uitdruklik gesê: “Dit sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het.”—Jesaja 55:11.
Dit is egter Jehovah se wil om “die verderwers van die aarde te verderf” (Openbaring 11:18). In sy Woord maak hy hierdie belofte: “Die regskapenes sal op die aarde woon, en die onberispelikes sal daarop oorbly. Wat die goddeloses betref, hulle sal van die aarde af uitgeroei word; en die verraderlikes sal daarvan weggeruk word.”—Spreuke 2:21, 22.
Wanneer sal dit plaasvind? Geen mens weet nie. “Van daardie dag of die uur weet niemand nie,” het Jesus gesê, “nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader” (Markus 13:32). Jehovah se Getuies probeer nie voorspel wanneer God die goddeloses sal vernietig nie. Hoewel hulle noukeurig let op “die teken” van die einde en glo dat die mensdom in die “laaste dae” lewe waarvan die Bybel praat, kan hulle nie vasstel presies wanneer “die einde” sal kom nie (Markus 13:4-8, 33; 2 Timoteus 3:1). Hulle laat dit in die hande van hulle hemelse Vader en sy Seun.
Intussen hou Jehovah se Getuies hulle besig met die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk, die hemelse regering wat oor die aarde sal regeer en dit in ’n vreedsame paradys sal omskep wat ‘die regverdiges sal besit en waarin hulle vir ewig sal woon’.—Psalm 37:29.
[Foto-erkenning op bladsy 10]
Image Science and Analysis Laboratory, NASA-Johnson Space Center