Armageddon—Wat sê party mense is dit?
Armageddon—Wat sê party mense is dit?
“En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon.”—OPENBARING 16:16, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.
WAARAAN dink jy wanneer jy die woord “Armageddon” hoor? Jy stel jou waarskynlik ’n groot ramp voor. Hoewel die woord net een keer in die Bybel voorkom, word dit dikwels deur die nuusmedia en godsdiensleiers gebruik.
Stem algemene beskouings oor Armageddon ooreen met wat die Bybel leer? Dit is goed om te weet wat die antwoord op hierdie vraag is. Waarom? Omdat die waarheid oor Armageddon jou van onnodige vrees kan bevry, jou meer optimisties oor die toekoms kan maak en jou beskouing oor God kan beïnvloed.
Kyk na die drie vrae wat volg en vergelyk die algemene beskouings oor Armageddon met wat die Bybel werklik leer.
1. IS ARMAGEDDON ’N MENSGEMAAKTE RAMP?
Joernaliste en navorsers gebruik die woord “Armageddon” dikwels om rampe te beskryf wat deur mense veroorsaak is. Die Eerste en Tweede Wêreldoorlog is byvoorbeeld al Armageddon genoem. Ná hierdie oorloë was die mensdom bekommerd dat die Verenigde State en die Sowjetunie kernwapens teen mekaar sou gebruik. Die media het hierdie potensiële konflik “’n termonukleêre Armageddon” genoem. Vandag waarsku navorsers wat vrees dat besoedeling die aarde se weer drasties sal verander, dat ’n “Klimaatarmageddon” ons in die gesig staar.
Wat hulle beskouing impliseer: Mense het absolute beheer oor die toekoms van die aarde en alle lewe daarop. As regerings nie wyslik optree nie, sal die aarde permanente skade ly.
Wat die Bybel leer: God sal nie toelaat dat mense die aarde verderf nie. Die Bybel verseker ons dat Jehovah * die aarde “nie verniet geskep het nie”. Hy het dit eerder gevorm “om bewoon te word” (Jesaja 45:18). God sal nie toelaat dat mense die aarde heeltemal verwoes nie, maar hy sal eerder “die verderwers van die aarde . . . verderf”.—Openbaring 11:18.
2. IS ARMAGEDDON ’N NATUURRAMP?
Joernaliste gebruik soms die woord “Armageddon” om groot natuurrampe te beskryf. ’n Verslag in 2010 het byvoorbeeld van “‘Armageddon’ in Haïti” gepraat. Dit het die lyding, skade en lewensverlies beskryf wat deur die groot aardbewing in daardie land veroorsaak is. Verslaggewers en filmmakers gebruik die woord nie net met verwysing na gebeure wat reeds plaasgevind het nie, maar ook na dié wat hulle vrees nog sal plaasvind. Hulle het die woord “Armageddon” byvoorbeeld al gebruik om te beskryf wat hulle dink met die aarde sal gebeur as dit deur ’n asteroïed getref word.
Wat hulle beskouing impliseer: Armageddon is ’n toevallige gebeurtenis wat die lewe van onskuldige slagoffers blindelings eis. Daar is nie veel wat ’n mens kan doen om jou daarteen te beskerm nie.
Wat die Bybel leer: Armageddon is nie ’n gebeurtenis wat gemeenskappe blindelings vernietig nie. Tydens Armageddon sal eerder slegs die goddeloses uitgeroei word. Die Bybel belowe: “Die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie.”—Psalm 37:10.
3. SAL GOD DIE AARDE BY ARMAGEDDON VERNIETIG?
Talle godsdienstige mense glo dat daar ’n finale konfrontasie tussen goed en kwaad sal wees wat tot die vernietiging van ons planeet sal lei. ’n Opname wat in die Verenigde State deur Princeton Survey Research Associates gedoen is, het aan die lig gebring dat 40 persent van die volwassenes wat ondervra is, van mening is dat die wêreld tydens “’n oorlog by Armageddon” vernietig sal word.
Wat hulle beskouing impliseer: Mense is nie veronderstel om vir ewig op die aarde te lewe nie, en die aarde is ook nie gemaak om vir
ewig te bestaan nie. God het mense geskep met die bedoeling dat hulle almal op die een of ander tyd moet sterf.Wat die Bybel leer: Die Bybel sê uitdruklik dat God “die aarde op sy vaste plekke gegrondves [het]; tot onbepaalde tyd of tot in ewigheid sal niks dit laat wankel nie” (Psalm 104:5). Aangaande diegene wat op die aarde woon, sê die Bybel: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.
Dit is duidelik dat wat die Bybel leer, van talle algemene beskouings oor Armageddon verskil. Wat is die waarheid dan?
[Voetnoot]
^ par. 9 In die Bybel is Jehovah die persoonlike naam van God.