Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kom nader aan God

“Ek sal jou nie vergeet nie”

“Ek sal jou nie vergeet nie”

GEE Jehovah werklik vir sy knegte om? Indien wel, hoe diep besorg is hy oor hulle? Daar is net een manier waarop ons die antwoorde op hierdie vrae kan vind—deur God se eie openbaring. In die Bybel openbaar Jehovah duidelik hoe hy voel. Kyk na die woorde in Jesaja 49:15.

Om sy innige gevoelens vir sy volk toe te lig, gebruik Jehovah, deur middel van Jesaja, een van die roerendste voorbeelde wat ons ons kan voorstel. Hy begin deur hierdie gedagteprikkelende vraag te vra: “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet sodat sy haar nie oor die seun van haar moederskoot ontferm nie?” Op die oog af lyk die antwoord voor die hand liggend. Hoe kan ’n sogende moeder haar suigeling vergeet? Haar baba is dag en nag heeltemal van haar afhanklik—en hy laat haar weet wanneer hy aandag nodig het! Maar daar is meer by Jehovah se vraag betrokke.

Waarom soog ’n moeder haar kind en voorsien sy in al sy behoeftes? Is dit net om ’n huilende baba stil te kry? Nee. ’n Moeder ontferm haar van nature oor “die seun van haar moederskoot”. Die Hebreeuse werkwoord wat hier as “ontferm” vertaal is, word ook as “barmhartigheid bewys” weergegee (Eksodus 33:19; Jesaja 54:10). Hierdie Hebreeuse woord kan die gedagte oordra van tere medelye met mense wat hulpeloos of kwesbaar is. ’n Moeder se medelye vir haar suigeling is een van die sterkste emosies wat ons ons kan voorstel.

Ongelukkig het nie elke moeder medelye vir die baba wat so graag aan haar bors wil voed nie. “Selfs hierdie vroue kan vergeet”, sê Jehovah. Ons lewe in ’n wêreld waarin baie mans en vroue “dislojaal [is], sonder natuurlike geneentheid” (2 Timoteus 3:1-5). Van tyd tot tyd hoor ons van moeders wat hulle pasgebore baba verwaarloos, mishandel of weggooi. Een Bybelnaslaanwerk lewer kommentaar op Jesaja 49:15 en sê: “Moeders is sondig en hulle liefde swig soms voor verdorwenheid. Selfs die sterkste liefde tussen mense kan faal.”

“Maar”, verseker Jehovah ons, “ek sal jou nie vergeet nie.” Nou begin ons die punt sien van die vraag wat Jehovah geopper het, soos opgeteken is in Jesaja 49:15. Hy tref nie ’n vergelyking hier nie, maar skep eerder ’n kontras. In teenstelling met onvolmaakte moeders, wat dalk versuim om medelye vir hulle hulpelose kindjie te toon, sal Jehovah nooit versuim of vergeet om medelye te toon vir sy aanbidders wat hulp nodig het nie. Die bogenoemde naslaanwerk sê gepas van Jesaja 49:15: “Dit is een van die kragtigste uitdrukkings van God se liefde in die Ou Testament, indien nie dié kragtigste nie.”

Is dit nie vertroostend om oor “die tere medelye van ons God” te leer nie? (Lukas 1:78). Leer gerus hoe jy nader aan Jehovah kan kom. Hierdie liefdevolle God verseker sy aanbidders: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.”—Hebreërs 13:5.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Februarie:

Jesaja 43-62