Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons lesers vra . . .

Sal die aarde vergaan?

Sal die aarde vergaan?

▪ Party mense het geglo dat die aarde op 21 Oktober 2011 sou vergaan. Dit het nie. Die profesie van die Amerikaanse radio-omroeper Harold Camping het op niks uitgeloop nie. Hy het voorspel dat die Oordeelsdag op 21 Mei 2011 sou kom—’n groot aardbewing sou die hele aarde tref, en vyf maande later, op 21 Oktober, sou die aarde vernietig word.

Maar die aarde sal nooit vergaan nie. Die Skepper van die aarde sal dit nie toelaat nie. Sy Woord sê: “U het die aarde stewig gevestig, sodat dit kan bly staan.”—Psalm 119:90.

Party Bybellesers maak egter beswaar en sê dat hierdie planeet deur vuur vernietig sal word. Hulle verwys na 2 Petrus 3:7, 10 ter ondersteuning van hierdie beskouing: “Deur dieselfde woord is die hemele en die aarde wat nou is, vir die vuur weggelê en word dit bewaar tot die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense. . . . Tog sal Jehovah se dag soos ’n dief kom, waarop die hemele met ’n sissende gedruis sal verbygaan, die elemente, wat intens warm sal wees, tot niet gemaak sal word, en die aarde en die werke daarin ontdek sal word.” Moet die apostel Petrus se woorde letterlik opgeneem word?

Nee, dit moenie. Waarom nie? Want die interpretasie van hierdie verse moet ooreenstem met die konteks van Petrus se brief en met die res van die Bybel. As ’n mens hierdie verse letterlik interpreteer, beteken dit dat die hemele, of heelal—miljarde der miljarde sterre en ander materie—deur vuur verteer sal word omdat daar goddelose mense op net een spikkeltjie van die ganse fisiese skepping is. Sou jy ’n kuslyn van etlike kilometer vernietig omdat jy nie van een sandkorrel hou nie? Dit sou nie sin maak nie! Jehovah sal ook nie die ganse heelal, wat hy geskep het, vernietig omdat opstand op net een van sy skeppingswerke uitgebreek het nie.

Wat meer is, so ’n beskouing is lynreg in stryd met die woorde van Jesus Christus, wat gesê het: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matteus 5:5; Psalm 37:29). Sou ’n liefdevolle vader ’n gerieflike huis vir sy gesin bou en dit dan sommer net afbrand? (Psalm 115:16). Dit sou ondenkbaar wees! Jehovah is nie net die Skepper nie, maar ook ’n liefdevolle Vader.—Psalm 103:13; 1 Johannes 4:8.

Petrus gebruik die woord “aarde” in figuurlike sin om na die mensegemeenskap te verwys—in hierdie geval die goddelose mensegemeenskap. Let op dat Petrus ’n vergelyking tref met die Vloed van Noag se dag (2 Petrus 3:5, 6). Destyds is slegs goddelose mense uitgeroei; die aarde en die regverdige man Noag en sy gesin het dit oorleef. Petrus se gebruik van die woord “hemele” is dus ook simbolies. Hier verwys die “hemele” na die menseheerskappy oor die goddeloses. Die verstokte goddeloses sal dus nie meer bestaan nie, sowel as alle goddelose regerings, wat tot niet gemaak en vervang sal word deur God se hemelse regering, of Koninkryk.—Daniël 2:44.

Sal die planeet aarde vergaan? Nee. Wat wel sal vergaan, is die simboliese aarde, of goddelose mensegemeenskap. Die aarde en die toekomstige godvresende mensegemeenskap sal vir ewig bestaan.—Spreuke 2:21, 22.