Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer sal die oorlog van Armageddon kom?

Wanneer sal die oorlog van Armageddon kom?

Wanneer sal die oorlog van Armageddon kom?

“Ek [het] gesien, en kyk! ’n groot menigte, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale . . . wat uit die groot verdrukking kom.”—OPENBARING 7:9, 14.

DIE tyd is nou ryp vir die oorlog van Armageddon. Waarom sê ons so?

Daar bestaan reeds ’n wêreldwye gemeenskap van mense wat Jehovah dien en volgens die Bybel se verhewe sedelike standaarde lewe. Met God se steun kom miljoene mense van alle nasies, stamme en tale bymekaar, en hulle maak ’n verenigde, liefdevolle broederskap uit. Hierdie broederskap bestaan onder Jehovah se Getuies.—Johannes 13:35.

Satan sal binnekort sy leërs versamel en sy grootste aanval op hierdie vreedsame en skynbaar weerlose volk loods (Esegiël 38:8-12; Openbaring 16:13, 14, 16). Hoe kan jy daarvan seker wees? Die Bybel noem spesifieke gebeure wat ons sal help om te bepaal wanneer die slag van Armageddon sal kom. Baie van die gebeure waarvan dit melding maak, vind nou reeds plaas.

Gebeure wat jy sien plaasvind

Jesus se dissipels het hom gevra hoe mense sou weet wanneer “die voleinding van die stelsel van dinge” op hande is (Matteus 24:3). In antwoord hierop het Jesus verwys na ’n toekomstige tyd wanneer, soos hy dit gestel het, ‘nasie teen nasie sal opstaan en koninkryk teen koninkryk, en daar voedseltekorte en aardbewings op die een plek na die ander sal wees’. Toe het hy gesê: “Al hierdie dinge is ’n begin van weë van benoudheid” (Matteus 24:7, 8). Die apostel Paulus het hierdie selfde tydperk as “die laaste dae” beskryf en gesê dat dit “kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Lyk dit vir jou of hierdie profesieë gebeure beskryf wat vandag plaasvind?

Waarom sou hierdie tydperk so moeilik wees? Die apostel Johannes gee die rede. Hy het voorspel dat daar “’n kort tydjie” sou wees wanneer die bedrywighede van Satan en sy demone tot die aarde beperk sou wees. Daar word van Satan gesê dat hy gedurende hierdie tyd “groot toorn” het (Openbaring 12:7-12). Sien jy dat daar vandag ’n toornige en gewelddadige gees onder mense heers, en nie net op een plek nie, maar wêreldwyd?

Jesus het ook gesê dat ’n buitengewone werk gedurende hierdie uiters moeilike tyd gedoen sou word. “Hierdie goeie nuus van [God se] koninkryk”, het hy gesê, “sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Vandag verkondig Jehovah se Getuies die goeie nuus van God se Koninkryk in meer as 235 lande en in meer as 500 tale. Die twee Bybelgebaseerde tydskrifte wat hulle uitgee, Die Wagtoring en Ontwaak!, is verreweg die wyds verspreide tydskrifte ter wêreld. Die Getuies het ook die Bybel in sowat 100 tale vertaal. Hulle werk word deur vrywilligers gedoen en geheel en al deur vrywillige bydraes gefinansier. Is hierdie merkwaardige predikingsveldtog dalk ’n vervulling van Jesus se profesie?

Die Bybel beskryf ook die gebeure wat die oorlog tussen Jehovah God en dié wat hom teëstaan onmiddellik voorafgaan. Kyk na drie profesieë waarvan jy die vervulling sal sien.

Gebeure wat jy binnekort sal sien plaasvind

Profesie 1. Die Bybel sê dat die nasies ’n betekenisvolle verklaring van “vrede en veiligheid” sal maak. Hulle sal dalk dink dat hulle op die punt staan om groot probleme op te los. Maar die gebeure wat op hierdie verklaring volg, sal allesbehalwe vreedsaam wees.—1 Tessalonisense 5:1-3.

Profesie 2. Daarna sal verskillende regerings besluit om teen die wêreld se godsdiensorganisasies op te tree. In die Bybel word hierdie regerings deur ’n wilde dier gesimboliseer; en die wêreld se valse godsdienste word deur ’n vrou gesimboliseer wat op die rug van die dier ry (Openbaring 17:3, 15-18). Die simboliese dier sal onwetend God se wil uitvoer deur godsdienste te vernietig wat valslik beweer dat hulle God verteenwoordig.

Deur middel van simbole beskryf die apostel Johannes die drama soos volg: “Die tien horings wat jy gesien het, en die wilde dier, hulle sal die hoer haat en sal haar verwoes en naak maak, en hulle sal haar vlesige dele opeet en haar heeltemal met vuur verbrand. Want God het dit in hulle harte gesit om sy gedagte uit te voer.”—Openbaring 17:16, 17.

Profesie 3. Ná hierdie suksesvolle aanval op valse godsdiens sal Satan die nasies aanvoer in ’n aanval op diegene wat Jehovah God aanbid.—Openbaring 7:14; Matteus 24:21.

Hoe sal dit jou raak?

As jy nie die geleentheid gehad het om die Bybel noukeurig te bestudeer nie, sal jy dit dalk moeilik vind om te glo dat die gebeure wat hierbo beskryf word, sal plaasvind. Maar daar is goeie rede om te glo dat elke besonderheid vervul sal word en dat hierdie gebeure in die nabye toekoms sal plaasvind. Die talle Bybelprofesieë wat reeds vervul is, verseker ons daarvan. *

Sit gerus tyd opsy om uit te vind waarom Jehovah se Getuies oortuig is dat “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” op hande is en waarom jy dit nie hoef te vrees nie. Gee hulle ’n geleentheid om met jou te bespreek wat die Bybel sê jy moet doen om onder diegene te wees wat deur Jehovah God beskerm word (Openbaring 16:14). Wat jy leer, sal jou beskouing van die toekoms dalk verander.

[Voetnoot]

^ par. 17 Vir bewyse dat Bybelprofesieë wel bewaarheid is, sien hoofstuk 2 en hoofstuk 9 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 8]

Is die werk van Jehovah se Getuies dalk ’n vervulling van Bybelprofesie?