Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kom nader aan God

“Die vorige dinge sal nie onthou word nie”

“Die vorige dinge sal nie onthou word nie”

HERINNERINGE kan ’n seën wees. Wanneer ons dink aan aangename tye met geliefdes, kan dit ons hart verbly. Maar soms kan dit voel of herinneringe ’n vloek is. Word jy geteister deur pynlike herinneringe aan onaangename ondervindinge van die verlede? Indien wel, wonder jy dalk: ‘Sal ek hierdie hartseer herinneringe ooit kan vergeet?’ Ons vind ’n uiters vertroostende antwoord in die woorde wat deur die profeet Jesaja opgeteken is.—Lees Jesaja 65:17.

Dit is Jehovah se voorneme om die oorsaak van pynlike herinneringe te verwyder. Hoe? Deur hierdie goddelose wêreld met al die lyding daarin te verwyder en dit te vervang met iets wat oneindig beter is. Jehovah belowe deur middel van Jesaja: “Kyk, ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde.” As ons hierdie belofte verstaan, kan dit ons hart met hoop vervul.

Wat is die nuwe hemele? Die Bybel gee ons twee leidrade wat ons kan help. Eerstens, die gedagte van ’n nuwe hemele word deur twee ander Bybelskrywers gemeld, en in albei gevalle word die woorde met ingrypende veranderinge op hierdie aarde verbind (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4). Tweedens, in die Bybel kan die woord “hemele” heerskappy, of regeringskap, verteenwoordig (Jesaja 14:4, 12; Daniël 4:25, 26). Die nuwe hemele is dus ’n nuwe regering wat in staat is om regverdige toestande op aarde tot stand te bring. Daar is net een heerskappy wat dit alles kan bewerkstellig—God se Koninkryk, die hemelse regering waarvoor Jesus ons leer bid het. Daardie Koninkryk sal God se regverdige wil aardwyd laat geskied.—Matteus 6:9, 10.

Wat is die nuwe aarde? Kyk na twee skriftuurlike feite wat ons help om tot die regte gevolgtrekking te kom. Eerstens, in die Bybel verwys die woord “aarde” soms na mense, nie na die aardbol nie (Psalm 96:1). Tweedens, die Bybel het voorspel dat getroue mense onder God se heerskappy regverdigheid sal leer, wat met verloop van tyd oor die hele aarde sal uitbrei (Jesaja 26:9). Die nuwe aarde verwys dus na ’n mensegemeenskap wat hulle aan God se heerskappy sal onderwerp en volgens sy regverdige standaarde sal lewe.

Begin dit vir jou duidelik word hoe Jehovah die oorsaak van pynlike herinneringe sal verwyder? Binnekort sal Jehovah sy belofte van ’n nuwe hemele en ’n nuwe aarde ten volle verwesenlik deur ’n regverdige nuwe wêreld tot stand bring. * In daardie nuwe wêreld sal die oorsake van pynlike herinneringe—fisiese, verstandelike en emosionele pyn—iets van die verlede wees. Getroue mense sal die lewe ten volle geniet, en hulle sal elke dag se aangename herinneringe koester.

Maar wat van die pyn wat ons dalk nou in ons hart voel? Jehovah se belofte deur middel van Jesaja sê verder: “Die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie.” Enige pyn wat ons in hierdie ou wêreld ervaar het, sal geleidelik verdwyn. Is dit vir jou ’n aanloklike vooruitsig? Indien wel, vind gerus uit hoe jy nader aan die God kan kom wat hierdie rooskleurige toekoms belowe.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Maart:

Jesaja 63Jeremia 16

[Voetnoot]

^ par. 7 Vir meer inligting oor God se Koninkryk en wat dit binnekort tot stand sal bring, sien hoofstukke 3, 8 en 9 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 19]

Dit is Jehovah se voorneme om die oorsaak van pynlike herinneringe te verwyder