Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Eerste indrukke moet jy dit vertrou?

Eerste indrukke moet jy dit vertrou?

Eerste indrukke—Moet jy dit vertrou?

’N DOKTER het rustig in sy sitkamer gesit en ’n TV-kletsprogram gekyk waarin ’n Ierse regeringsminister as gas verskyn het. Nadat die dokter mooi na die minister se gesig gekyk het, het hy iets opgemerk wat hy gedink het ’n teken van ’n gewas is. Hy het die minister aangeraai om onmiddellik ’n dokter daaroor te raadpleeg.

Die diagnose was in die kol. Daardie dokter het wat mense soms ’n kliniese oog noem, met ander woorde die vermoë om ’n akkurate diagnose te maak deur eenvoudig na ’n pasiënt te kyk. Maar party voel dat hulle ’n “kliniese oog” het wat hulle in staat stel om mense se karakter, persoonlikheid en betroubaarheid te beoordeel.

Deur die eeue heen het navorsers ’n wetenskaplike benadering probeer ontwikkel om ’n persoon se karakter aan die hand van sy fisiese voorkoms af te lei. Hulle noem dit fisionomiek, wat die Encyclopædia Britannica soos volg definieer: “’n Skynwetenskap wat hom besighou met karaktertrekke wat na bewering deur mense se gelaatstrekke of deur liggaamsbou en -vorm geopenbaar word.” In die 19de eeu het antropoloë, soos Francis Galton, ’n neef van Charles Darwin, en kriminoloë, soos Cesare Lombroso van Italië, met soortgelyke teorieë en tegnieke vorendag gekom wat vandag meestal vergete is.

Nogtans glo baie mense dat dit moontlik is om iemand akkuraat te beoordeel bloot op grond van sy uiterlike voorkoms. Moet ’n mens sulke eerste indrukke vertrou?

Na die uiterlike beoordeel

’n Tipiese voorbeeld van waar ander na die uiterlike beoordeel is, of liewer verkeerd geoordeel is, word in die Bybelboek Eerste Samuel gevind. Jehovah God het die profeet Samuel gestuur om ’n lid van Isai se huisgesin as die toekomstige koning van Israel te salf. Ons lees: “Toe [die seuns van Isai] inkom en hy Eliab sien, het hy dadelik gesê: ‘Waarlik, voor Jehovah staan sy gesalfde.’ Maar Jehovah het vir Samuel gesê: ‘Moenie na sy voorkoms en na sy hoë gestalte kyk nie, want ek het hom verwerp. Want God sien nie soos die mens sien nie, want die mens sien wat vir die oë sigbaar is; maar Jehovah sien wat die hart is.’” Dieselfde het ook met nog ses van Isai se seuns gebeur. In teenstelling met wat die profeet en Isai verwag het, het God toe die agtste seun as toekomstige koning gekies, naamlik Dawid, ’n jong seun wat niemand eers gedink het om te roep nie.—1 Samuel 16:6-12.

Dit is nog baie dieselfde vandag. ’n Paar jaar gelede het ’n professor in kriminologie in Duitsland ’n eksperiment gedoen waarby 500 regstudente betrokke was. Daar was 12 onbekende “gaste”, onder andere die plaaslike polisiehoof en die plaaslike aanklaer, die universiteit se tesourier en publisiteitsbeampte, ’n paar regsgeleerdes en hofbeamptes sowel as drie veroordeelde misdadigers. Die studente moes bepaal watter soort werk elkeen van die gaste doen en hulle moes vasstel watter van die gaste ’n vonnis moes uitdien en vir watter misdaad. Hulle moes dit doen op grond van die gaste se voorkoms en die stokperdjies wat hulle gesê het hulle het.

Wat was die uitslag? Ongeveer 75 persent van die studente het dit reggekry om die drie misdadigers te identifiseer. Maar gemiddeld 60 persent van die studente het aangedui dat die nege ander gaste, wat ’n skoon rekord gehad het, ook wetsoortreders is. Die plaaslike aanklaer was volgens 1 uit 7 van die studente ’n potensiële dwelmsmous en 1 uit 3 van hulle het gedink dat die polisiehoof ’n dief is! ’n Mens kan jou lelik misgis as jy ander volgens hulle uiterlike beoordeel. Waarom?

Die uiterlike kan bedrieglik wees

Wanneer ons iemand vir die eerste keer ontmoet, is ons geneig om opinies oor die persoon te vorm op grond van ons vorige ondervindinge. Ons is geneig om te veralgemeen en hom op grond van stereotipes te oordeel. Benewens uiterlike voorkoms beoordeel ons die persoon dalk ook op grond van sy nasionaliteit, etnisiteit, sosiale stand of godsdiens.

As dit duidelik word dat die opinie wat ons van daardie persoon gevorm het, reg is, klop ons onsself op die skouer vir ons goeie oordeel en voel ons selfs meer oortuig dat ons ons eerste indrukke kan vertrou. Maar hoe reageer ons wanneer ons besef dat ons hom heeltemal verkeerd opgesom het? As ons eerlik is, sal ons ons vooropgesette opinie laat vaar en seker maak van die feite. Anders tree ons dalk nie in die persoon se belange op nie of doen ons hom selfs ’n groot onreg aan, bloot omdat ons so trots is op ons veronderstelde vermoë om mense akkuraat te beoordeel.

Dit is nie net die een wat geoordeel word wat benadeel kan word nie, maar ook die een wat ander na die uiterlike beoordeel. In die eerste eeu het baie Jode byvoorbeeld geweier om die moontlikheid te oorweeg dat Jesus die beloofde Messias is. Waarom? Omdat hulle hom na die uiterlike beoordeel het, het hulle hulle blind gestaar teen die feit dat hy die seun van ’n plattelandse timmerman is. Hoewel hulle beïndruk was deur Jesus se wyse woorde en kragtige dade, het hulle geweier om te glo dat hy enigiets anders kon wees as wat hulle reeds op grond van hulle vooropgesette idees besluit het. Weens hulle gesindheid het Jesus elders gaan preek. Hy het gesê: “’n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy tuisgebied en in sy eie huis.”—Matteus 13:54-58.

Daardie Jode het aan ’n nasie behoort wat eeue lank op die Messias gewag het. Omdat hulle toegelaat het dat hulle eerste indrukke hulle daarvan weerhou om die Messias te identifiseer toe hy uiteindelik verskyn het, het hulle ’n baie groot geestelike verlies gely (Matteus 23:37-39). Jesus se volgelinge het voor soortgelyke vooroordeel te staan gekom. Baie mense kon eenvoudig nie glo dat ’n klein groepie nederige vissermanne, wat deur die geleerde klas en die leiers van die vernaamste godsdiens verag is, enigiets belangriks te sê kon hê nie. Diegene wat aangehou het om op hulle eerste indrukke te vertrou, het die wonderlike geleentheid verbeur om volgelinge van God se Seun te word.—Johannes 1:10-12.

Party het van mening verander

Van Jesus se tydgenote was nederig genoeg om van mening te verander toe hulle die bewyse gesien het (Johannes 7:45-52). Onder hulle was etlike van Jesus se familielede, wat aanvanklik nie gedink het dat dit moontlik is dat iemand uit hulle familie die Messias kan wees nie (Johannes 7:5). Dit is prysenswaardig dat hulle mettertyd van mening verander het en geloof in hom gestel het (Handelinge 1:14; 1 Korintiërs 9:5; Galasiërs 1:19). Net so was sommige verteenwoordigers van die Joodse gemeenskap in Rome jare later bereid om na die apostel Paulus self te luister eerder as om gerugte te vertrou wat deur vyande van die Christelike geloof versprei is. Nadat hulle na hom geluister het, het party van hulle gelowiges geword.—Handelinge 28:22-24.

Vandag het baie ’n negatiewe beskouing van Jehovah se Getuies. Waarom? In die meeste gevalle is dit nie omdat hulle die feite ondersoek het of omdat hulle bewys het dat die opvattings en gebruike van die Getuies onskriftuurlik is nie. Dit is eerder omdat hulle eenvoudig nie kan glo dat Jehovah se Getuies godsdienswaarheid kan hê nie. Soos jy sal onthou, is dit presies die beskouing wat baie in die eerste eeu van die vroeë Christene gehad het.

Dit is nie verbasend dat negatiewe of neerhalende aanmerkings oor diegene gemaak word wat Jesus se voorbeeld probeer volg nie. Waarom nie? Want Jesus het sy ware volgelinge gewaarsku: “Julle sal weens my naam vir alle mense voorwerpe van haat wees.” Maar hy het hulle met die volgende woorde aangemoedig: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word.”—Matteus 10:22.

Uit gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag werk Jehovah se Getuies vandag hard om die goeie nuus van God se Koninkryk wêreldwyd na mense te neem (Matteus 28:19, 20). Diegene wat volstrek weier om te luister, kan die geleentheid verbeur om op die weg na die ewige lewe te kom (Johannes 17:3). Wat van jou? Sal jy eenvoudig deur eerste indrukke en vooropgesette idees gelei word, of sal jy bereid wees om die feite met ’n oop gemoed te ondersoek? Onthou: Die uiterlike kan bedrieglik wees, en eerste indrukke kan verkeerd wees, maar ’n objektiewe ondersoek van die feite kan tot aangename verrassings lei.—Handelinge 17:10-12.

[Prent op bladsy 11]

Die Jode se eerste indrukke het daartoe gelei dat baie van hulle Jesus as die Messias verwerp het

[Prent op bladsy 12]

Is jou beskouing van Jehovah se Getuies gebaseer op eerste indrukke of op feite?