Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Ek het u naam bekend gemaak’

‘Ek het u naam bekend gemaak’

‘Ek het u naam bekend gemaak’

“Ek het u naam openbaar gemaak aan die mense wat u my uit die wêreld gegee het. . . . Ek het u naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak.”—JOHANNES 17:6, 26.

Wat dit beteken: Jesus het God se naam bekend gemaak deur dit in sy bediening te gebruik. Wanneer Jesus uit die Skrif gelees het, soos hy dikwels gedoen het, het hy ongetwyfeld God se persoonlike naam uitgespreek (Lukas 4:16-21). Hy het sy volgelinge leer bid: “Vader, laat u naam geheilig word.”—Lukas 11:2.

Hoe die vroeë Christene gevaar het: Die apostel Petrus het vir die ouer manne in Jerusalem gesê dat God “’n volk vir sy naam” uit die nasies geneem het (Handelinge 15:14). Die apostels en ander het verkondig dat ‘elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, gered sal word’ (Handelinge 2:21; Romeine 10:13). Hulle het die goddelike naam ook in hulle geskrifte gebruik. The Tosefta, ’n versameling Joodse wette wat omstreeks 300 HJ voltooi is, sê aangaande die verbranding van Christelike geskrifte deur teenstanders: “Die boeke van die Evangeliste en die boeke van die minim [vermoedelik Joodse Christene] red hulle nie uit ’n vuur nie. Maar hulle word toegelaat om te brand, . . . tesame met die verwysings na die goddelike Naam wat in hulle voorkom.”

Wie voldoen vandag aan hierdie vereiste? Die Revised Standard Version van die Bybel, wat deur die Nasionale Raad van die Kerke van Christus in die Verenigde State goedgekeur is, sê in sy voorwoord: “Die gebruik van enige eienaam vir die enigste God, asof daar ander gode is waarvan hy onderskei moet word, het voor die Christelike era in Judaïsme in onbruik verval en is heeltemal onvanpas vir die universele geloof van die Christelike Kerk.” Dit het die goddelike naam dus met ’n titel, “HERE”, vervang. Meer onlangs het die Vatikaan sy biskoppe die opdrag gegee: “In liedere en gebede moet die naam van God in die vorm van die tetragrammaton JHWH * nie gebruik of uitgespreek word nie.”

Wie gebruik vandag God se persoonlike naam en maak dit ook bekend? Toe Sergei ’n tiener in Kirgistan was, het hy ’n rolprent gekyk waarin God se naam as Jehovah geïdentifiseer is. Ongeveer tien jaar het verbygegaan voordat hy die goddelike naam weer gehoor het. Nadat Sergei na die Verenigde State getrek het, het twee Getuies van Jehovah hom by sy huis besoek en hom God se naam in die Bybel gewys. Sergei was verheug om ’n groep te vind wat die naam Jehovah gebruik. Dit is interessant dat Webster’s Third New International Dictionary onder die inskrywing “Jehovah God” die volgende definisie gee: “’n Oppermagtige god wat deur Jehovah se Getuies erken word en die enigste god wat deur hulle aanbid word.”

[Voetnoot]

^ par. 5 In Afrikaans word die goddelike naam as “Jehovah” getranslitereer.