Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hedendaagse Asteke word ware Christene

Hedendaagse Asteke word ware Christene

Hedendaagse Asteke word ware Christene

“Die tempels het in duie gestort en stof en as geword, die afgode is vernietig, en die heilige boeke is deur vlamme verteer, maar die eertydse gode lewe voort in die harte van die Indiane.”—Las antiguas culturas mexicanas (Die eertydse Mexikaanse kulture).

MEXIKO is die tuiste van die Asteke, wat gegroei het van ’n klein immigrantestam in die 13de eeu tot ’n ryk wat vergelyk kan word met dié van die Inkas in Peru. Hoewel die Asteekse ryk geval het toe die Spanjaarde Tenochtitlán in 1521 verower het, is die taal van die Asteke, Nahuatl, geensins dood nie. * Dit word nog steeds deur ongeveer een en ’n half miljoen inboorlinge in ten minste 15 state van Mexiko gepraat. Dit het bygedra tot die voortbestaan van sommige van die eertydse Asteekse opvattings, soos die navorser Walter Krickeberg hierbo sê. Wat was party van daardie opvattings?

Vreemde dog bekende tradisies

Die Asteekse gebruik om mense te offer, is moontlik die bekendste van hulle gebruike. Dit is op die opvatting gebaseer dat die son sou sterf as dit nie met menseharte en -bloed gevoed word nie. Volgens die Spaanse monnik Diego Durán is meer as 80 000 slagoffers binne vier dae geoffer toe die groot piramide-tempel van Tenochtitlán in 1487 ingewy is.

Hoewel die Spanjaarde geskok is deur hierdie gebruik, was hulle verbaas om uit te vind dat baie ander Asteekse gebruike soortgelyk is aan dié van die Katolieke Kerk, waaraan hulle behoort het. Byvoorbeeld, die Asteke het ’n vorm van kommunie beoefen waartydens beelde van hulle gode wat van mielies gemaak is, geëet is. Die vlees van menseoffers is ook soms geëet. Die Asteke het die kruis gebruik en mondelinge belydenis en kinderdoop beoefen. Die merkwaardigste ooreenkoms was moontlik die aanbidding van Tonantzin, ’n maagdelike “moeder van die gode”, wat die Asteke “ons liewe moeder” genoem het.

Op die einste heuwel waar die Asteke Tonantzin aanbid het, het die donkervellige Nahuatl-sprekende Katolieke maagd van Guadalupe na bewering in 1531 aan ’n Asteekse Indiaan verskyn. Dit het die bekering van die Asteke tot Katolisisme bespoedig. ’n Heiligdom wat aan hierdie maagd gewy is, is op die fondasie van Tonantzin se tempel gebou. Op 12 Desember word die basilika besoek deur honderdduisende vroom Mexikane, waarvan baie Nahuatl praat.

In hulle afgeleë berggemeenskappe vereer die Nahuatl hulle beskermheiliges deur middel van talle feeste, wat soms dae of selfs weke duur. Die boek El universo de los aztecas (Die wêreld van die Asteke) sê dat die inboorlinge “die aanbidding van die heiliges van die Katolieke Kerk verbind met seremonies wat voor die koms van Cortés gehou is”. Die Nahuatl is ook diep betrokke by spiritisme. Wanneer hulle siek word, besoek hulle genesers wat rituele reiniging beoefen en diere offer. Ongeletterdheid is ook algemeen; die meeste lees nie Spaans of Nahuatl nie. Omdat hulle aan hulle tradisies en taal vasklou en brandarm is, word hulle deur die samelewing verstoot.

Bybelwaarheid bereik die hedendaagse Asteke

Jehovah se Getuies in Mexiko probeer al baie jare lank alle mense met die “goeie nuus van die koninkryk” bereik (Matteus 24:14). In 2000 het die Mexikaanse takkantoor van Jehovah se Getuies met ’n projek begin om vir alle Nahuatl-sprekendes in hulle eie taal te getuig en om Nahuatl-gemeentes te organiseer vir dié wat vergaderinge in Spaans bygewoon het. ’n Vertaalspan is gevorm om Bybellektuur in Nahuatl te vertaal. Pogings is ook aangewend om Nahuatl-sprekendes in hulle eie taal te leer lees en skryf. Watter resultate het dit opgelewer? Kyk na die volgende ondervindinge.

Toe ’n Nahuatl-sprekende vrou ’n Bybeltoespraak vir die eerste keer in Nahuatl gehoor het, het sy gesê: “Ons woon die vergaderinge al tien jaar by, maar omdat ons Spaans nie goed verstaan nie, gaan ons met ’n kopseer huis toe. Maar nou is dit asof ons lewe nuwe betekenis gekry het!” Die sestigjarige Juan het agt jaar lank saam met sy vrou en kinders die Bybel in Spaans gestudeer en Spaanse vergaderinge bygewoon sonder om enige vooruitgang te maak. Toe het hy die Bybel in Nahuatl begin studeer. In minder as ’n jaar het hy ’n gedoopte Getuie geword!

Soos hierdie ondervindinge toon, was baie vir die eerste keer blootgestel aan die Bybel in Spaans, maar hulle het dit nie ten volle verstaan nie. Die vergaderinge, byeenkomste en publikasies in hulle eie taal het hulle gehelp om Bybelwaarheid aan te neem en hulle Christelike verantwoordelikhede te verstaan.

Struikelblokke word oorkom

Vir lede van die Nahuatl-stam was dit nie altyd maklik om geestelike vooruitgang te maak nie. Daar is byvoorbeeld baie druk om aan godsdiensvieringe deel te neem. In San Agustín Oapan is Jehovah se Getuies nie toegelaat om van huis tot huis te preek nie uit vrees dat dit sou veroorsaak dat mense sou ophou om die vieringe geldelik te ondersteun. Terwyl Florencio en ’n klein groep plaaslike Nahuatl-Getuies gepreek het, is drie van hulle in hegtenis geneem. Binne 20 minute het ’n skare saamgedrom om te besluit wat om met hulle te doen.

“Hulle wou ons daar en dan doodmaak”, vertel Florencio. “Sommige het voorgestel dat ons vasgebind en in die rivier gegooi word sodat ons sou verdrink! Ons het die aand in die tronk deurgebring. Die volgende dag het ’n mede-Getuie wat ’n regsgeleerde is en twee ander broers gekom om ons te help. Hulle is ook opgesluit. Uiteindelik het die owerheid ons vrygelaat op voorwaarde dat ons die dorp verlaat.” Ten spyte van wat gebeur het, is ’n gemeente met 17 gedoopte Getuies ’n jaar later gestig, en ongeveer 50 mense woon die vergaderinge by.

In die Nahuatl-gemeenskap Coapala is Alberto, een van Jehovah se Getuies, genooi om aan die plaaslike fees deel te neem. Hy het die uitnodiging van die hand gewys en is opgesluit. Die gemeenskap het bymekaargekom, en party het luidkeels aangedring dat hy opgehang moet word om enigiemand af te skrik wat dit dalk oorweeg om by sy godsdiens aan te sluit en die plaaslike gebruike te laat vaar. Ander Getuies het hom uit die tronk probeer kry, maar hulle is ook opgesluit. Ná afloop van die week lange fees is almal vrygelaat. Omdat teenstand toegeneem het, het dit nodig geword om die hulp van hoër amptenare in te roep, en ’n bevel is verkry wat die vervolging stopgesit het. Dit is interessant dat die vernaamste teenstander Bybelwaarheid ’n rukkie later aangeneem het en gedoop is. Daar is nou ’n gemeente in daardie dorp.

Ryp vir die oes

Omdat baie Getuies die potensiaal vir groei in die Nahuatl-veld sien, leer hulle die taal aan. Maar daar is uitdagings hieraan verbonde. Die Nahuatl is baie skaam en is huiwerig om hulle taal te praat weens die manier waarop hulle behandel is. Daar is ook baie variante, of dialekte, van die taal.

Sonia, ’n voltydse bedienaar, verduidelik wat haar die uitdaging laat aanvaar het. “Minder as twee uur van my huis af is daar sowat 6 000 Nahuatl-trekarbeiders wat in skuilings woon waar wagte hulle verhinder om te kom en gaan soos hulle wil. Die mense is kwesbaar en verneder”, het Sonia gesê. “Die situasie waarin die Nahuatl hulle bevind, het my baie hartseer gemaak, want hulle was vroeër ’n trotse volk, die grondslag van ons kultuur. Ons het 20 jaar lank vir hulle in Spaans gepreek, maar hulle het ons nie ten volle verstaan nie, en hulle het min belangstelling getoon. Maar toe ek ’n paar woorde in hulle taal leer, het dit deure geopen. Hulle het om my saamgedrom om te luister. Ek het aangebied om een van die vroue te leer lees en skryf as sy my Nahuatl sou leer. Nou noem die mense in al die skuilings my ‘die vrou van die taal’. Ek voel soos ’n sendeling in my eie land.” Vandag is daar ’n Nahuatl-gemeente in daardie gebied.

Maricela, nog ’n voltydse bedienaar, doen haar uiterste bes om Nahuatl te leer. Aanvanklik het sy ’n Bybelstudie in Spaans met die 70-jarige Félix gehou. Terwyl Maricela Nahuatl geleer het, het sy dinge vir hom in sy taal begin verduidelik. Dit het goeie resultate opgelewer. Hoe is haar hart tog geraak toe Félix gevra het: “Luister Jehovah wanneer ek in Nahuatl met hom praat?” Félix was bly om uit te vind dat Jehovah alle tale verstaan. Hy woon gereeld die vergaderinge by, al moet hy ’n uur en ’n half stap om daar te kom; hy is nou gedoop. Maricela sê: “Hoe bly is ek tog om saam met die engel te werk wat goeie nuus het om aan alle volke bekend te maak!”—Openbaring 14:6, 7.

Ja, die Nahuatl-veld is ‘wit vir die oes’ (Johannes 4:35). Dit is ons bede dat Jehovah God sal voortgaan om mense van alle nasies, insluitende die edelmoedige hedendaagse Asteke, te nooi om op te gaan na sy berg om in sy weë onderrig te word.—Jesaja 2:2, 3.

[Voetnoot]

^ par. 3 Nahuatl is deel van die Uto-Asteekse taalfamilie, wat deur stamme soos die Hopi, Shoshone en Comanche van Noord-Amerika gepraat word. Party Afrikaanse woorde, soos avokado, sjokolade en tamatie, kom oorspronklik uit Nahuatl.

[Kaart op bladsy 13]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

MEXIKO-STAD

ASTEKE-BEVOLKING IN ELKE STAAT

150 000

ONDER 1 000