Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Wat was die altaar aan “’n Onbekende God” waarop die apostel Paulus in Atene afgekom het?—Handelinge 17:23.

’n Aantal antieke Griekse skrywers verwys na sulke altare. Byvoorbeeld, die geskiedkundige en geograaf Pousanias, van die tweede eeu HJ, het gesê dat daar “’n altaar van die onbekende gode” by Olimpië was. En die redenaar en filosoof Filostratos het gesê dat “altare selfs ter ere van onbekende gode” in Atene opgerig is.

Die skrywer Diogenes Laertius van die derde eeu HJ vertel ’n verhaal wat die oorsprong van “naamlose altare” verklaar. Die verhaal, wat uit die sesde of sewende eeu VHJ dateer, vertel hoe ’n sekere Epimenides Atene van ’n pessiekte gereinig het. Diogenes skryf: “Hy [Epimenides] het skape geneem . . . en hulle na die Areopagus gebring; en daar het hy hulle vryelik laat rondloop en diegene wat hulle gevolg het, opdrag gegee om die plek te merk waar elke skaap gaan lê het en ’n offerande aan die plaaslike god te bring. En so, word daar gesê, is die plaag gestuit. Gevolglik kan altare waarop geen naam gegraveer is nie, vandag nog in verskillende dele van Attika gevind word.”

Nog ’n moontlike rede waarom altare aan onbekende gode opgerig is, sê The Anchor Bible Dictionary, was dat mense “bang was dat hulle sou nalaat om eer te bewys aan die een of ander onbekende god of godin en gevolglik die god se seën sou verbeur of sy of haar gramskap op die hals sou haal”.

Waarom het eerste-eeuse Jode belastinggaarders verag?

Belastinggaarders was nog nooit gewild nie. Maar in eerste-eeuse Israel is hulle beskou as van die veragtelikste en korrupste mense.

Die heersende Romeinse owerheid het swaar belastings van die volk gehef. Romeinse amptenare het grondbelasting en hoofbelasting ingevorder, maar hulle het die werk om die belasting op invoere, uitvoere en goedere wat deur die land geneem is, aan die hoogste bieër toegeken. Plaaslike sakemanne het dus die reg gekoop om belastings in sekere gebiede in te vorder. As gewillige werktuie vir die gehate Romeine is sulke persone verafsku deur mede-Jode, wat hulle beskou het as “verraaiers en afvalliges, verontreinig deur hulle gereelde omgang met die heidene”, sê M’Clintock and Strong’s Cyclopædia.

Belastinggaarders was berug vir hulle oneerlikheid, en hulle het hulle ten koste van hulle landgenote verryk. Party het ’n oordrewe waarde aan belasbare goedere toegeken en die wins in hulle sak gesteek, terwyl ander valse beskuldigings gebruik het om geld van die armes af te pers (Lukas 3:13; 19:8). Gevolglik is belastinggaarders gelykgestel met sondaars en, sê The Jewish Encyclopedia, “was hulle nie geskik om as ’n regter of selfs as ’n getuie te dien nie”.—Matteus 9:10, 11.

[Prent op bladsy 18]

’n Altaar aan ’n onbekende god, Pergamum-ruïnes, Turkye

[Prent op bladsy 18]

’n Romeinse reliëf wat ’n belastinggaarder uitbeeld, 2de of 3de eeu HJ

[Erkenning]

Erich Lessing/Art Resource, NY