Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal verkondig word’

‘Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal verkondig word’

‘Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal verkondig word’

“Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—MATTEUS 24:14.

Wat dit beteken: Die Evangelieskrywer Lukas het aangaande Jesus gesê: “Hy [het] van stad tot stad en van dorpie tot dorpie begin reis en gepreek en die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak” (Lukas 8:1). Jesus self het gesê: “Ek [moet] die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Lukas 4:43). Hy het sy dissipels uitgestuur om die goeie nuus in die stede en dorpies te verkondig en het hulle later beveel: “Julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde.”—Handelinge 1:8; Lukas 10:1.

Hoe die vroeë Christene gevaar het: Jesus se dissipels het geen tyd verspil om Jesus se opdrag uit te voer nie. “Hulle het elke dag in die tempel en van huis tot huis sonder ophou voortgegaan om te leer en die goeie nuus oor die Christus . . . bekend te maak” (Handelinge 5:42). Dit was nie net ’n uitgesoekte groep wat gepreek het nie. Die geskiedkundige Neander het gesê dat “Celsus, die eerste skrywer teen die Christelike geloof, honend [ge]praat [het] oor die feit dat wolbereiders, skoenmakers, leerlooiers, die mees ongeletterde en laagste klas van die mensdom, ywerige predikers van die evangelie was”. In sy boek The Early Centuries of the Church het Jean Bernardi geskryf: “[Christene] moes uitgaan en oral met almal praat. Op die hoofweë en in die stede, op die openbare pleine en in die huise. Welkom of onwelkom. . . . Na die uithoeke van die aarde.”

Wie voldoen vandag aan hierdie vereiste? “Die kerk se versuim om die predikings- en onderrigtingswerk ernstig op te neem, is een rede vir die wydverspreide geestelike traak-my-nieagtigheid wat vandag heers”, skryf die Anglikaanse priester David Watson. In sy boek Why Are the Catholics Leaving? het José Luis Pérez Guadalupe geskryf oor die bedrywighede van die Evangeliste, die Adventiste en ander en gesê dat “hulle nie van huis tot huis gaan nie”. Aangaande Jehovah se Getuies het hy geskryf: “Hulle gaan op stelselmatige wyse van huis tot huis.”

’n Interessante en realistiese opmerking deur Jonathan Turley word in die Cato Supreme Court Review, 2001-2002 gevind: “Noem net die naam Jehovah se Getuies, dan dink die meeste mense onmiddellik aan predikers wat ons op ongeleë tye by ons huise besoek. Jehovah se Getuies proseliteer nie van deur tot deur net om hulle geloof te bevorder nie, maar beskou hierdie werk eerder as ’n ononderhandelbare deel van hulle geloof.”

[Venster op bladsy 9]

Kan jy die ware Christene uitken?

As jy kyk na die skriftuurlike vereistes wat in hierdie reeks artikels bespreek is, wie dink jy het vandag die kenmerke van die ware Christelike geloof? Hoewel daar tienduisende groepe en kerke is wat beweer dat hulle Christelik is, moet ’n mens in gedagte hou wat Jesus vir sy volgelinge gesê het: “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matteus 7:21). As jy diegene identifiseer wat die wil van die Vader doen—en daardeur toon dat hulle ware Christene is—en met hulle assosieer, kan dit tot ewige seëninge onder God se Koninkryk lei. Ons nooi jou om Jehovah se Getuies, wat hierdie tydskrif vir jou gegee het, vir meer inligting te vra oor God se Koninkryk en die seëninge wat dit sal bring.—Lukas 4:43.