Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer uit God se Woord

Hoe moet ons Jesus se dood herdenk?

Hoe moet ons Jesus se dood herdenk?

Hierdie artikel bespreek vrae wat jy dalk al gevra het en toon waar jy die antwoorde in jou Bybel kan vind. Jehovah se Getuies sal graag hierdie antwoorde met jou bespreek.

1. Hoe moet Jesus se dood herdenk word?

Jesus het vir sy volgelinge gesê om sy dood deur middel van ’n simboliese maaltyd te herdenk waartydens hulle brood en wyn moes gebruik. Die brood verteenwoordig Jesus se liggaam, en die wyn verteenwoordig sy bloed.—Lees Lukas 22:19, 20.

Die brood wat Jesus gebruik het, was ongesuurd, of sonder gis. In die Bybel word gis dikwels gebruik om sonde voor te stel. Die brood was dus ’n gepaste simbool van Jesus se volmaakte liggaam. Hy het sy liggaam as ’n offerande aangebied, wat ’n einde gemaak het aan die diereofferandes wat onder die Mosaïese Wet vereis is (Hebreërs 10:5, 9, 10). Die wyn was ’n simbool van Jesus se kosbare bloed, wat as ’n offerande vir ons sondes uitgegiet is.—Lees 1 Petrus 1:19; 2:24; 3:18.

2. Wanneer moet ons Jesus se dood herdenk?

Jesus het op die Pasga, 14 Nisan, gesterf. ’n Joodse dag het met sononder begin. Die aand voor Jesus se dood, het hy die Pasgamaal saam met sy apostels geëet en daarna het hy ’n nuwe gedenkmaal ingestel om sy dood te herdenk.—Lees Lukas 22:14, 15.

Vandag herdenk God se volk die voorsiening wat God deur middel van Jesus gemaak het om die hele wêreld van sonde en die dood te bevry (Eksodus 12:5-7, 13, 17). Net soos die Pasga een keer per jaar gevier is, word Jesus se dood een keer per jaar ná sononder op 14 Nisan volgens die Bybel se maankalender herdenk.—Lees Johannes 1:29.

3. Wie moet van die brood eet en die wyn drink?

Toe Jesus die wyn vir sy volgelinge gegee het, het hy gesê: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond” (1 Korintiërs 11:25). Die nuwe verbond het die Mosaïese Wetsverbond vervang, waarvolgens God die Israeliete belowe het dat hulle sy volk sou word as hulle hom nougeset gehoorsaam (Eksodus 19:5, 6). Maar Israel was nie aan God gehoorsaam nie. Daarom het Jehovah ’n nuwe verbond voorsien.—Lees Jeremia 31:31.

Deur die nuwe verbond gee Jehovah baie die geleentheid om seëninge deur middel van ’n paar persone te ontvang. Diegene in die verbond is min, slegs 144 000. Deur middel van hulle sal miljoene van alle nasies met ewige lewe in ’n aardse paradys geseën word. Party wat in die nuwe verbond is, dien Jehovah vandag op aarde. Slegs hulle mag van die brood eet en die wyn drink, want die beker “beteken die nuwe verbond”.—Lees Lukas 12:32; Openbaring 14:1, 3.

4. Hoe vind ons by die Gedenkmaal baat?

Die jaarlikse Herdenking van Jesus se dood vergroot ons waardering vir Jehovah se uitsonderlike liefde. Hy het sy Seun gestuur om vir ons sondes te sterf. Wanneer ons die Gedenkmaal bywoon, moet ons dus nadink oor wat Jesus se dood vir ons beteken. Ons moet dink aan hoe ons waardering kan toon vir wat Jehovah en Jesus vir ons gedoen het.—Lees Johannes 3:16; 2 Korintiërs 5:14, 15.

Vir meer inligting, sien bladsye 206-208 van hierdie boek, Wat leer die Bybel werklik? uitgegee deur Jehovah se Getuies.