Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons lesers vra . . . 

Is die Drie-eenheid ’n Bybellering?

Is die Drie-eenheid ’n Bybellering?

▪ Een van die talle definisies van die Drie-eenheid is die volgende: “Drie goddelike Persone (die Vader, die Seun, die Heilige Gees), waarvan elkeen na bewering ewig en almagtig is, geeneen groter of minder as die ander is nie, elkeen na bewering God is, terwyl hulle saam tog net een God uitmaak.” Is dit ’n Bybellering?

Daar word gewoonlik na Matteus 28:19 verwys om die leerstelling te staaf. Die Ou Afrikaanse Bybelvertaling haal Jesus soos volg aan: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.” Ja, die Vader, die Seun en die heilige gees word almal in hierdie teks genoem. Maar dit sê nie dat hulle een is nie. In hierdie teks het Jesus sy Joodse volgelinge die opdrag gegee om mense te leer en hulle in die naam van die Vader, die Seun en die heilige gees te doop. Wat het die Jode as ’n nasie geglo?

Toe die nasie Israel die Wetsverbond ontvang het, wat deel van die Bybel is, is hulle beveel: “Jy mag nooit enige ander gode teen my aangesig hê nie” (Deuteronomium 5:7). Hoeveel persone het hier gepraat? Deuteronomium 6:4 sê heel duidelik: “Luister, o Israel: Jehovah ons God is een Jehovah”—nie drie in een nie. Israel is kort tevore van Egipte bevry, waar Osiris, Isis en Horus (links)—een van ’n aantal triades van gode—aanbid is. Gevolglik is Israel beveel om net een God te aanbid. Hoe belangrik was dit dat mense hierdie bevel verstaan? Dr. J.H. Hertz, ’n rabbi, sê: “Hierdie verhewe verklaring van absolute monoteïsme was ’n oorlogsverklaring teen alle politeïsme . . . Die Sjema weerlê die drie-eenheid van die Christelike geloofsbelydenis en toon dat dit ’n skending van die Eenheid van God is.” *

Aangesien Jesus as ’n Jood gebore is, is hy geleer om hierdie bevel te gehoorsaam. Toe hy ná sy doop deur die Duiwel versoek is, het hy gesê: “Gaan weg, Satan! Want daar staan geskrywe: ‘Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig’” (Matteus 4:10; Deuteronomium 6:13). Ons kan ten minste twee dinge uit hierdie voorval leer. Eerstens, Satan het Jesus probeer verlok om iemand anders as Jehovah te aanbid, iets wat belaglik sou gewees het as Jesus deel van dieselfde God was. Tweedens, Jesus het dit duidelik gemaak dat daar net een God is wat aanbid moet word toe hy gesê het “hom alleen”, nie “ons” nie, wat hy sou gesê het as hy deel van ’n Drie-eenheid was.

Wanneer mense tot juiste kennis van God kom en hom wil dien, word hulle “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” gedoop (Matteus 28:19). Hulle verstaan en aanvaar die gesag van Jehovah en die rol van Jesus Christus in die verwesenliking van Jehovah se voorneme (Psalm 83:18; Matteus 28:18). Hulle verstaan ook die funksie en werksaamheid van God se heilige gees, wat sy werkende krag is.—Genesis 1:2; Galasiërs 5:22, 23; 2 Petrus 1:21.

Die Drie-eenheidsleer verwar mense al eeue lank. Jesus daarenteen het sy volgelinge insig gegee en hulle gerig na “die enigste ware God”, Jehovah.—Johannes 17:3.

[Voetnoot]

^ par. 5 Die belydenis van die eenheid van God soos verwoord in die Sjema, ’n gebed gebaseer op Deuteronomium 6:4, is ’n sentrale deel van sinagoge-aanbidding.

[Foto-erkenning op bladsy 23]

Musée du Louvre, Paris