Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Julle moet liefde onder mekaar hê’

‘Julle moet liefde onder mekaar hê’

‘Julle moet liefde onder mekaar hê’

“Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—JOHANNES 13:34, 35.

Wat dit beteken: Christus het vir sy volgelinge gesê dat hulle mekaar moet liefhê soos hy hulle liefgehad het. Hoe het Jesus hulle liefgehad? Sy liefde is nie ingeperk deur die volksvooroordeel en geslagsdiskriminasie wat in sy dag algemeen was nie (Johannes 4:7-10). Liefde het Jesus beweeg om sy tyd, energie en persoonlike gerief op te offer om ander te help (Markus 6:30-34). Uiteindelik het Christus die heel grootste bewys van liefde gelewer. “Ek is die goeie herder”, het hy gesê. “Die goeie herder doen afstand van sy siel ten behoewe van die skape.”—Johannes 10:11.

Hoe die vroeë Christene gevaar het: In die eerste eeu het Christene mekaar “broer” of “suster” genoem (Filemon 1, 2). Die Christengemeente het mense van alle nasies verwelkom omdat hulle geglo het dat daar “geen onderskeid [is] tussen Jood en Griek nie, want oor almal is daar dieselfde Here” (Romeine 10:11, 12). Ná Pinkster 33 HJ het die dissipels in Jerusalem “hulle besittings en eiendomme verkoop en die opbrengs onder almal verdeel, volgens elkeen se behoefte”. Waarom het hulle dit gedoen? Sodat dié wat kort tevore gedoop is, in Jerusalem kon bly en kon voortgaan “om hulle toe te lê op die leer van die apostels” (Handelinge 2:41-45). Wat het hulle beweeg om dit te doen? Minder as 200 jaar ná die dood van die apostels het Tertullianus aangehaal wat ander oor Christene gesê het: “Hoe lief het hulle mekaar tog . . . en hoe bereid is hulle tog om selfs vir mekaar te sterf.”

Wie voldoen vandag aan hierdie vereiste? Die boek The History of the Decline and Fall of the Roman Empire (1837) het gesê dat diegene wat deur die eeue heen bely het dat hulle Christene is, “mekaar baie meer leed aangedoen het as wat hulle deur die toedoen van die ongelowiges ondervind het”. ’n Onlangse Amerikaanse studie het getoon dat daar ’n sterk verband bestaan tussen godsdienstige mense—waarvan die meeste sê dat hulle Christene is—en rassevooroordeel. Kerkgangers in een land het dikwels geen verbintenisse met mense van dieselfde kerk in ’n ander land nie en is dus nie in staat of bereid om medegelowiges te help wanneer hulle hulp nodig het nie.

In 2004, nadat Florida binne twee maande deur vier orkane getref is, het die voorsitter van Florida se Komitee vir Rampnoodleniging nagegaan of hulle voorraad reg gebruik word. Hy het gesê dat geen ander groep so goed georganiseer is soos Jehovah se Getuies nie, en hy het aangebied om die Getuies enige voorraad te gee wat hulle nodig het. Vroeër, in 1997, het ’n noodlenigingspan van Jehovah se Getuies met medisyne, kos en klere na die Demokratiese Republiek van die Kongo gereis om hulle Christenbroers en ander wat hulp nodig gehad het, te help. Mede-Getuies in Europa het voorraad ter waarde van R7 980 000 geskenk.