Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat is verkeerd met spiritisme?

Wat is verkeerd met spiritisme?

Wat is verkeerd met spiritisme?

Van jongs af het Barbara * visioene gesien, stemme gehoor en was sy oortuig dat sy kontak met afgestorwe familielede het. Sy en haar man, Joachim, het boeke oor die okkulte gelees en het bedrewe daarin geword om tarotkaarte te lees. Die kaarte het aangedui dat hulle baie geld sou maak, wat hulle wel reggekry het deur sake te doen. Eendag het die kaarte hulle gewaarsku dat gevaarlike mense na hulle huis sou kom, en dit het vir hulle gesê hoe hulle hulle moet beskerm.

HOEWEL dit dalk lyk of geloof in die okkulte ouderwets is, is belangstelling in die paranormale baie algemeen. Mense regoor die wêreld dra gelukbringers, gebruik ouijaborde en raadpleeg geestemediums om hulle toekoms te voorspel of om hulle teen boosheid te beskerm. In ’n artikel met die titel “Skootrekenaar en Lucifer” het die Duitse tydskrif Focus gesê: “Die Internet veroorsaak ’n oplewing in die toorkuns.”

Het jy geweet dat die Bybel van spiritisme praat? Wat dit oor die onderwerp sê, sal jou dalk verbaas.

Wat die Bybel oor spiritisme sê

Die wet wat God sy volk in eertydse Israel gegee het, het gesê: “Daar mag niemand onder jou gevind word wat . . . van waarsêery gebruik maak, die toorkuns beoefen of voortekens soek of wat ’n towenaar is nie, of wat ’n towerspreuk oor ander uitspreek of ’n geestemedium of ’n beroepsvoorspeller van gebeure om inligting vra of die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir Jehovah verfoeilik” (Deuteronomium 18:10-12). Waarom neem die Bybel so ’n sterk standpunt in teen spiritistiese gebruike?

Soos die ondervinding aan die begin van hierdie artikel toon, glo baie dat die lewendes met die dooies kan kommunikeer en dat inligting wat deur middel van okkulte gebruike verkry is, van die dooies kom. Sulke opvattings spruit voort uit wat baie godsdienste leer—dat wanneer mense sterf, hulle in die geesteryk voortlewe. Maar in teenstelling met hierdie lering sê die Bybel uitdruklik: “Wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks” (Prediker 9:5). Dit sê dat die dooies as ’t ware diep slaap, heeltemal onbewus van wat om hulle gebeur (Matteus 9:18, 24; Johannes 11:11-14). * Aangesien dit die geval is, wonder jy dalk: Hoe verklaar ons die paranormale ondervindinge wat mense het? Wat is die bron van sulke kommunikasie?

Kommunikasie met die geestewêreld

Die Evangelieverslae toon dat Jesus met die geestewêreld te doen gehad het toe hy op aarde was. Markus 1:23, 24 sê dat “’n onrein gees” vir Jesus gesê het: “Ek weet presies wie jy is.” Die geeste weet ongetwyfeld ook wie jy is. Maar weet jy wie hulle is?

Voordat God mense geskep het, het hy ’n menigte geesseuns, of engele, geskep (Job 38:4-7). Die engele is ’n hoër lewensvorm as mense (Hebreërs 2:6, 7). Hulle is magtig en hoogs intelligent, en hulle is geskep om God se wil te doen. Die psalmis het gesing: “Loof Jehovah, o sy engele, magtig in krag, wat sy woord uitvoer.”—Psalm 103:20.

Die Bybel openbaar dat party van die engele mettertyd ongemagtigde kontak met mense gemaak het. Wat was die doel hiervan? Die eerste een wat dit gedoen het, het van misleiding gebruik gemaak om die eerste mense, Adam en Eva, weg te keer van hulle God en Skepper. Deur dit te doen, het hy homself Satan die Duiwel gemaak, ’n lasteraar en ’n teenstander van God.—Genesis 3:1-6.

Later het ander engele “hulle eie gepaste woonplek [in die hemel] verlaat”, menslike liggame aangeneem en saam met aantreklike vroue op aarde begin woon (Judas 6; Genesis 6:1, 2). Daardie afvallige engele en hulle basternageslag het die mensdom so erg geterroriseer dat die aarde “vol geweld geraak” het. Jy is waarskynlik vertroud met die Bybelverslag van hoe God daardie gewelddadige en goddelose geslag deur middel van die Vloed in Noag se dag vernietig het.—Genesis 6:3, 4, 11-13.

Die vloedwater het die geeste gedwing om hulle menseliggame af te lê en na die geesteryk terug te keer. Maar die Skepper het hulle nie toegelaat om na hulle oorspronklike “woonplek” terug te keer nie. Hulle is eerder beperk tot ’n verlaagde toestand wat met “kuile van dik duisternis” vergelyk word (2 Petrus 2:4, 5). Die Bybel noem opstandige engele “demone” (Jakobus 2:19). Hulle is die mag agter spiritisme.

Wat die demone wil hê

Die oogmerk van bose geeste wat met mense kommunikeer, is eerstens om te verhinder dat hulle die ware God, Jehovah, aanbid. Die gawes of vermoëns wat baie beoefenaars van die okkulte beweer hulle het, is bloot afleidings om mense daarvan te weerhou om juiste kennis van God op te doen en ’n verhouding met hom aan te kweek.

Die demone se tweede oogmerk kan duidelik gesien word uit wat Satan, hulle leier, met Jesus probeer doen het. Satan het Jesus “al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid” aangebied. Wat wou Satan in ruil daarvoor hê? ‘Val neer en verrig ’n daad van aanbidding teenoor my’, het hy gesê. Ja, Satan en die demone wil aanbid word. Maar Jesus het die gedagte verwerp om God en ware aanbidding te verloën.—Matteus 4:8-10.

Bose geeste maak selde vandag so ’n direkte aanbod. Hulle probeer eerder die onbehoedsames verstrik deur middel van skynbaar onskadelike afleidings, soos kristalballe, teeblare, tarotkaarte, pendulums en horoskope. Moenie deur sulke gebruike mislei word nie! Dit is nie poorte na die onbekende deur middel van die een of ander geheimsinnige natuurkrag nie. Bose geeste gebruik belangstelling in die okkulte om mense te lok en te verstrik met die doel om hulle van die aanbidding van Jehovah af weg te keer. Wanneer bose geeste nie hulle doel op hierdie wyse bereik nie, teister hulle dikwels diegene wat in hulle web verstrengel raak en maak hulle hulle ongelukkig. As jy in hierdie situasie is, wat kan jy doen om jou van hulle invloed te bevry?

Spiritisme—Hoe om jou daarvan te bevry

Een ding is seker, geeste wat met mense kommunikeer, is vyande van God, wat tot vernietiging gedoem is (Judas 6). Hulle is bedrieërs en leuenaars wat hulle as dooies voordoen. Hoe sou jy voel as jy uitvind dat ’n vermeende vriend ’n bedrieër is en daarop uit is om jou skade te berokken? Hoe sou jy reageer as jy ontdek dat jy onwetend ’n verhouding met ’n seksjagter op die Internet aangeknoop het? Om by die demone betrokke te raak, is selfs gevaarliker. Jy moet alles in jou vermoë doen om die kontak te verbreek. Wat kan jy doen?

Nadat party van die inwoners van eertydse Efese uitgevind het wat die Skrif oor spiritisme leer, het hulle besef dat hulle hulle boeke oor die towerkuns moet vernietig, al was die boeke duur. Hulle het dit “voor almal verbrand” (Handelinge 19:19, 20). Vandag sluit voorwerpe wat met die okkulte verband hou nie net boeke, gelukbringers, ouijaborde en soortgelyke dinge in nie, maar ook materiaal van elektroniese bronne. Wend jou af van enigiets wat soos ’n poort na spiritisme lyk.

Dink aan die egpaar wat aan die begin van hierdie artikel genoem is. Met behulp van hulle tarotkaarte het hulle afgelei dat gevaarlike mense na hulle huis gaan kom, maar dat hulle nie na hulle moet luister of enigiets by hulle moet neem nie. Toe Connie en Gudrun, twee Getuies van Jehovah aan hulle deur klop en sê dat hulle oor die goeie nuus oor God praat, het Joachim en Barbara besluit om te luister. Hulle het oor spiritisme begin praat, en Connie en Gudrun het vir hulle akkurate inligting daaroor uit die Skrif gegee. Dit het tot gereelde Bybelbesprekings gelei.

Kort voor lank het Joachim en Barbara besluit om alle kontak met die demone te verbreek. Die Getuies het verduidelik dat dit die geeste waarskynlik ongelukkig sou maak. Trouens, Joachim en Barbara het moeilike tye deurgemaak en skrikwekkende demoonaanvalle ondervind. Hulle was ’n ruk lank elke aand vreesbevange, maar het verligting gekry toe hulle verhuis het. Deur die beproewing heen het hierdie egpaar vertroue behou in die woorde van Filippense 4:13: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.” Jehovah het hulle vasbeslotenheid geseën, en die geeste het uiteindelik opgehou om hulle te teister. Vandag is Joachim en Barbara gelukkige aanbidders van die ware God, Jehovah.

Die Skrif gee almal wat Jehovah se seën wil ontvang, die volgende raad: “Onderwerp julle . . . aan God; maar staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug. Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:7, 8). As jy van demooninvloed bevry wil word, kan en sal Jehovah God jou help. Wanneer Joachim en Barbara terugdink aan hoe hulle van spiritisme bevry is, stem hulle heelhartig saam met die woorde van Psalm 121:2: “My hulp is van Jehovah.”

[Voetnote]

^ par. 2 Die name is verander.

^ par. 7 Vir ’n breedvoerige bespreking van die toestand van die dooies, sien hoofstuk 6, “Waar is die dooies?”, in die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 21]

Okkulte gebruike verhinder dat mense ’n goeie verhouding met God het

[Lokteks op bladsy 22]

“Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”—JAKOBUS 4:8