Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Kykie na kleure en materiaal in Bybeltye

’n Kykie na kleure en materiaal in Bybeltye

’n Kykie na kleure en materiaal in Bybeltye

IN DIE Bybel vind ons talle verwysings na style, kleure en die materiaal waarvan die klere gemaak is wat mense eeue gelede gedra het.

Die Bybel is natuurlik nie ’n boek oor modes en style nie. Maar sulke besonderhede wat in Bybelverslae voorsien word, kan die gebeure waaroor verslag gelewer word, in die leser se verstand laat lewe.

Ons lees byvoorbeeld van die klere wat Adam en Eva aanmekaargeflans het om hulle naaktheid te bedek—lendebedekkings van vyeblare wat aanmekaargewerk is. Maar dit is later vervang deur kledingstukke wat God hulle gegee het—duursamer “lang kledingstukke van vel”.—Genesis 3:7, 21.

Ons het ook die gedetailleerde verslae in Eksodus hoofstukke 28 en 39 in verband met die kledingstukke wat Israel se hoëpriester gedra het. Dit het die volgende ingesluit: ’n linneonderkleed, ’n wit kleed, ’n geweefde lyfband, ’n blou moulose oorkleed sowel as ’n geborduurde efod en borsstuk asook ’n tulband en ’n blink plaat van goud. ’n Mens hoef net die beskrywing te lees van hoe die talle kosbare materiale saamgevoeg is om hierdie kledingstukke te maak om jou te kan voorstel hoe indrukwekkend dit gelyk het.—Eksodus 39:1-5, 22-29.

Die klere van die profeet Elia was so uniek dat mense hom onmiddellik herken het toe sy voorkoms beskryf is: “’n Man met ’n harige kleed, met ’n leergordel om sy lendene gegord.” Honderde jare later het party mense gedink dat Johannes die Doper Elia is, en een rede hiervoor was dalk omdat hulle klere so eenders was.—2 Konings 1:8; Matteus 3:4; Johannes 1:21.

Materiaal en kleure Daar is talle verwysings in die Bybel na die verskillende soorte kledingstowwe en na die kleure en kleurstowwe wat gebruik is, sowel as verwysings na spin-, weef- en naaldwerk. * Die vernaamste materiaal wat genoem word, is wol van mak diere en linne van die vlasplant. Abel is “’n skaapwagter” genoem (Genesis 4:2). Die Bybel sê nie of Abel skape vir hulle wol aangehou het nie. Die eerste keer dat fyn linne in die Bybel genoem word, is met verwysing na die kledingstukke wat Farao Josef laat aantrek het in die 18de eeu VHJ (Genesis 41:42). In die Bybel is daar feitlik geen verwysing na katoen as ’n kledingstof onder die Jode nie, maar dit is van die vroegste tye af in Midde-Oosterse lande gebruik.

Vlas sowel as wol het dun vesels gelewer wat gespin is om gare van verskillende diktes te maak. Die gare is dan tot stukke materiaal geweef. Gare en geweefde materiaal is in ’n wye verskeidenheid kleure gekleur. Die materiaal is dan na maat gesny. Kledingstukke is dikwels met borduurwerk van verskillende kleure versier, wat baie tot die voorkoms en waarde daarvan bygedra het.—Rigters 5:30.

Die Bybel maak dikwels melding van blou, purper en karmosynrooi kledingstowwe. Die Israeliete is beveel om “’n blou toutjie bo die fraiingrand” van hulle klere aan te bring om hulle te herinner aan hulle spesiale verhouding met hulle God, Jehovah (Numeri 15:38-40). Die Hebreeuse woorde tekeʹlet, ’n skakering van blou, en ’ar·ga·manʹ, wat gewoonlik as “purper” weergegee word, is die kleure wat met die hoëpriester se kledingstukke en ander versierings in die tabernakel en tempel geassosieer word.

Tabernakel- en tempeltoebehore Die tabernakel in die wildernis—en later die tempel in Jerusalem—was die Israeliete se sentrum van aanbidding. Dit is dus te verstane dat die Bybel baie besonderhede voorsien in verband met die voorbereiding en uitrusting van die tabernakel en van Salomo se tempel. Benewens inligting oor die materiaal en kleure vind ons ook besonderhede oor die weef-, kleur-, naald- en borduurwerk van die tentbedekkings en -gordyne.

Onder goddelike leiding het die bedrewe vakmanne, Besaleël en Oholiab, asook ander manne en vroue, ’n unieke toewysing getrou uitgevoer en ’n tent van samekoms opgerig wat die aanbidding van Jehovah waardig was (Eksodus 35:30-35). In hoofstuk 26 van Eksodus word die materiaal en die voorbereiding van al die dele van die tabernakel in die fynste besonderhede beskryf. Byvoorbeeld, die tabernakel se groot, kleurvolle tentdoeke is geweef van “fyn gedraaide linnedraad en blou weefgaring en purperrooigekleurde wol en karmosynrooi stof”. Die Israeliete het waarskynlik baie van hierdie materiaal tydens die uittog uit Egipte saamgeneem. Spesiale aandag is geskenk aan die kleurvolle, dik gordyn waarop figure van gerubs geborduur is, en dit het as ’n afskorting gedien tussen “die Heilige en die Allerheiligste” in die binneste deel van die tabernakel (Eksodus 26:1, 31-33). Soortgelyke besonderhede is ook aan diegene gegee wat, onder die leiding van koning Salomo, die materiaal vir die tempel in Jerusalem voorberei het.—2 Kronieke 2:1, 7

Die besonderhede wat in die Bybel opgeteken is, toon dat die eertydse Hebreërs aansienlike inisiatief en vindingrykheid aan die dag gelê het in die manier waarop hulle gebruik gemaak het van die materiaal wat tot hulle beskikking was. Die prentjie wat dit skets, is nie dié van ’n gemeenskap wat ’n saai sukkelbestaan gevoer en vaal klere gedra het wat van lelike materiaal gemaak is nie, maar eerder dié van ’n volk wat ’n verskeidenheid kleurvolle modes gehad het vir verskillende geleenthede, ooreenkomstig die seisoene van die jaar en die middele wat die gesin gehad het.

Die Bybel sê vir ons dat die Israeliete ’n goeie land as hulle tuiste ontvang het, ‘’n land wat oorgeloop het van melk en heuning’ (Eksodus 3:8; Deuteronomium 26:9, 15). Terwyl hulle die ware aanbidding van Jehovah nagestreef het, het hulle sy seën geniet. Die lewe was goed, en die volk was gelukkig en tevrede. Die Bybel sê byvoorbeeld vir ons: “Juda en Israel het in veiligheid gewoon, elkeen onder sy eie wingerdstok en onder sy eie vyeboom, van Dan tot Berseba, al die dae van [koning] Salomo.”—1 Konings 4:25.

[Voetnoot]

^ par. 7 Vir besonderhede oor hierdie prosesse, sien die bygaande vensters.

[Venster/Prente op bladsye 26, 27]

Wol en linne

In Bybeltye is skape hoofsaaklik aangehou vir hulle melk en wol. Net ’n paar skape kon ’n boer van genoeg wol voorsien vir sy gesin se klere. As ’n boer baie skape aangehou het, kon hy die surplus aan die plaaslike tekstielvervaardigers verkoop. Sommige dorpe en dorpies het hulle eie tekstielgildes gehad. Skaapskeerdery was van die vroegste tye af deel van die volk se jaarlikse werk.—Genesis 31:19; 38:13; 1 Samuel 25:4, 11.

Linne, ’n gewilde kledingstof, is van die vesels van die vlasplant gemaak (Eksodus 9:31). Die plant is geoes wanneer dit amper volgroeid was. Die stingels is toegelaat om in die son droog te word en is dan in water geweek om die houtagtige dele sag te maak. Nadat dit gedroog is, is dit uitgeslaan, en die vesels is geskei, of gesorteer, en gespin om gare vir weefwerk te maak. Koninklikes en hoë amptenare het klere verkies wat van linne gemaak is.

[Prent]

Gedroogde vlasplant voordat dit geweek is

[Venster/Prent op bladsy 27]

Spinwerk

’n Enkele vesel—soos van vlas, wol of bokhaar—is te swak en te kort om gebruik te word. ’n Aantal vesels word dus saamgedraai, of gespin, om ’n veseldraad, oftewel gare, van ’n sekere dikte en lengte te maak. Aangaande die “bekwame vrou” sê die Bybel: “Haar hande het sy na die spinstok uitgesteek, en haar eie hande gryp die spoel vas” (Spreuke 31:10, 19). Dit is ’n beskrywing van die spinproses waartydens die spinstok en die spoel, wat basies twee eenvoudige stokke is, gebruik word.

In een hand hou ’n vrou die spinstok vas waarom die vesels losweg gedraai is. Met die ander hand trek sy ’n paar vesels uit, draai dit saam om gare te maak en maak dit dan aan die een kant van die spoel aan ’n hakie of ’n keep vas. Aan die ander kant van die spoel is daar ’n swaar skyf, wat ’n spilkatrol genoem word en as ’n dryfwiel dien. Terwyl sy die spoel in die lug laat hang en dit draai, spin sy die vesels tot gare van ’n sekere dikte. Die gespinde gare word om die steel van die spoel gedraai, en dié proses word herhaal totdat al die vesels op die spinstok een lang garingdraad is, wat dan gekleur of geweef kan word.

[Venster/Prente op bladsye 28, 29]

Die kleurproses

Ná die spin- en skoonmaakproses word die wol- en vlasgare—of die geweefde materiaal—in ’n verskeidenheid kleure gekleur. Dit word etlike kere in die kleurstof geweek om dit ’n sterker kleur te gee. Aangesien die kleurstof so duur is, word die surplus kleurstof uit die materiaal gedruk nadat dit uit die kleurkuip gehaal is sodat dit weer gebruik kan word. Die gekleurde gare of materiaal word uitgesprei om droog te word.

Omdat die mense van die ou tyd geen sintetiese kleurstowwe tot hulle beskikking gehad het nie, het hulle permanente kleurstowwe uit die plant- en diereryk verkry waarmee hulle materiaal in ’n verbasende verskeidenheid van skakerings en kleure kon kleur. Byvoorbeeld, geel kleurstof is van amandelblare en granaatskil gemaak, en swart kleurstof is van die bas van die granaatboom gemaak. Rooi kleurstof is van die wortels van die krapwortel of van die kermesskildluis verkry. Blou kleurstof is van die indigoblom verkry. Die kombinasie van pigmente uit verskillende purperslakke kon skakerings en kleure voortbring wat gewissel het van koninklike purper tot karmosynrooi.

Hoeveel seeslakke was nodig om ’n kledingstuk te kleur? Elke seeslak lewer so min kleurstof dat ongeveer 10 000 seeslakke volgens een studie nodig was om genoeg kleurstof te verkry om een kleed of mantel te kleur in ’n ryk skakering van wat heel gepas koninklike purper genoem is. Gedurende die bewind van koning Nabonidus van Babilon was purpergekleurde wol na bewering 40 keer duurder as ander gekleurde wol. Omdat Tirus so ’n belangrike verskaffer van hierdie duur kleurstof was, het die kleur purper as Tiriese purper bekend geword.

[Prente]

Seeslak- skulp

Kleurkuip vir purperkleurstof uit die 2de of 3de eeu VHJ wat in Tel Dor, Israel, gevind is

[Erkenning]

The Tel Dor Project

[Venster/Prent op bladsy 29]

Weefwerk

’n Weefraam word gebruik om gespinde gare tot materiaal van ’n sekere grootte te weef waarvan klere of ander items gemaak kan word. Twee draadstelsels, die lengtedraad, oftewel kettingdraad, en die breedtedraad, oftewel inslagdraad, word onderling loodreg gekruis. Met ander woorde, die breedtedraad word telkens bo-oor en onderdeur die lengtedraad gevleg.

Die weefraam wat in Bybeltye gebruik is, was óf ’n horisontale raam, wat plat op die vloer geplaas is, óf ’n lang, regopstaande raam. In sommige regopstaande rame is gewigte onderaan die lengtedraad vasgemaak. Eertydse weefgewigte is al op baie plekke in Israel ontdek.

Weefwerk is dikwels by die huis gedoen, maar op sommige plekke het hele dorpies hierdie bedryf beoefen. In 1 Kronieke 4:21 vind ons byvoorbeeld ’n verwysing na “die huis van die vervaardigers van fyn weefstof”, waarskynlik ’n vereniging van arbeiders wat hierdie bedryf beoefen het.

[Prent op bladsye 26, 27]

“Blou weefgaring en purperrooigekleurde wol.”—Eksodus 26:1