Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg hulle geloof na

Hy het beskerm, voorsien en volhard

Hy het beskerm, voorsien en volhard

JOSEF het nog ’n vrag op die donkie gelaai. Stel jou voor hoe hy in die donkerte na die dorpie Betlehem kyk terwyl hy die stewig geboude klein pakdier op die sy klop. Hy het ongetwyfeld gedink aan die lang reis wat voorlê. Egipte! ’n Vreemde volk, ’n vreemde taal, vreemde gebruike—hoe sou sy gesinnetjie by soveel veranderinge aanpas?

Dit was nie vir Josef maklik om vir sy dierbare vrou, Maria, die slegte nuus te vertel nie, maar hy het die moed bymekaargeskraap en dit gedoen. Hy het haar van die droom vertel waarin ’n engel hierdie boodskap van God aan hom oorgedra het: Die koning, Herodes, wou hulle klein seuntjie dood hê! Hulle moes dadelik wegkom (Matteus 2:13, 14). Maria was diep besorg. Waarom sou enigiemand haar onskuldige kindjie wou doodmaak? Nie Maria of Josef kon dit begryp nie. Maar omdat hulle op Jehovah vertrou het, het hulle hulle gereedgemaak.

Terwyl Betlehem geslaap het, onbewus van die drama wat besig was om te ontvou, het Josef, Maria en Jesus die dorpie ongemerk in die donker verlaat. Terwyl Josef hulle suidwaarts gelei het en die dag in die ooste begin breek het, het hy waarskynlik gewonder wat voorlê. Hoe kon ’n eenvoudige timmerman sy gesin teen sulke groot gevare beskerm? Sou hy altyd in sy gesin se behoeftes kon voorsien? Sou hy hierdie gewigtige toewysing van Jehovah God, om vir hierdie unieke kind te sorg en hom groot te maak, met volharding kon uitvoer? Josef het voor moeilike uitdagings te staan gekom. Terwyl ons bespreek hoe hy elkeen die hoof gebied het, sal ons sien waarom vaders van vandag—en elkeen van ons—Josef se geloof moet navolg.

Josef het sy gesin beskerm

Maande vroeër, in sy tuisdorp Nasaret, het Josef se lewe vir ewig verander nadat hy aan die dogter van Heli verloof geraak het. Josef het Maria leer ken as ’n onskuldige, getroue jong vrou. Maar toe het hy uitgevind dat sy swanger is! Hy was van plan om in die geheim van haar te skei om haar teen skande te beskerm. * Maar ’n engel het in ’n droom met hom gepraat en verduidelik dat Maria deur Jehovah se heilige gees swanger was. Die engel het bygevoeg dat die seun waarmee sy swanger was “sy volk van hulle sondes [sou] red”. Hy het Josef verder verseker: “Moenie bang wees om jou vrou Maria huis toe te neem nie.”—Matteus 1:18-21.

Dit is presies wat Josef, ’n regverdige en gehoorsame man, gedoen het. Hy het ’n uiters gewigtige toewysing aanvaar: om ’n seun wat nie syne was nie, maar besonder kosbaar vir God was, groot te maak en vir hom te sorg. Later, uit gehoorsaamheid aan ’n keiserlike bevel, het Josef sy swanger vrou na Betlehem geneem om te registreer. Dit is waar die kind gebore is. *

Josef het sy gesin nie na Nasaret teruggeneem nie. Hulle het hulle eerder gevestig in Betlehem, slegs ’n paar kilometer van Jerusalem af. Hulle was arm, maar Josef het alles in sy vermoë gedoen om te sorg dat Maria en Jesus nie gebrek sou ly of sou swaarkry nie. Kort daarna het hulle in ’n nederige huis ingetrek. Toe Jesus nie meer ’n baba was nie, maar ’n klein kindjie—dalk ouer as ’n jaar—het hulle lewe weer skielik verander.

’n Groep mans het daar aangekom, sterrewiggelaars uit die Ooste, waarskynlik van verafgeleë Babilon. Hulle het ’n ster gevolg wat hulle na Josef en Maria se huis gelei het en het na ’n kind gesoek wat die koning van die Jode sou word. Die manne het diep respek getoon.

Of die sterrewiggelaars dit nou besef het of nie, hulle het die klein Jesus in groot gevaar gestel. Die ster wat hulle gesien het, het hulle eers na Jerusalem gelei, nie na Betlehem nie. Daar het hulle vir die bose koning Herodes gesê dat hulle op soek was na ’n kind wat die koning van die Jode sou word. Dit het hom rasend gemaak van jaloesie.—Sien die artikel “Ons lesers vra . . . Wie het die ‘ster’ gestuur?” op bladsy 29.

Maar gelukkig was daar magte aan die werk wat groter was as Herodes. Hoe so? Wel, die besoekers het vir die kindjie geskenke gegee en niks in ruil daarvoor gevra nie. Hoe vreemd moes dit tog vir Josef en Maria gewees het om skielik “goud en wierook en mirre”—waardevolle artikels—in hulle besit te hê! Die sterrewiggelaars was van plan om vir koning Herodes te sê presies waar hulle die kind gevind het. Maar Jehovah het tussenbeide getree. Hy het vir die sterrewiggelaars in ’n droom gesê om langs ’n ander roete huis toe te gaan.—Matteus 2:1-12.

Kort nadat die sterrewiggelaars vertrek het, het Josef hierdie waarskuwing van Jehovah se engel ontvang: “Staan op, neem die jong kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek vir jou sê; want Herodes staan op die punt om die jong kindjie te soek om hom dood te maak” (Matteus 2:13). Soos ons aan die begin gesien het, het Josef toe hierdie bevel sonder versuim gehoorsaam. Hy het sy kind se veiligheid eerste gestel en sy gesin na Egipte geneem. Omdat daardie heidense sterrewiggelaars die gesin sulke waardevolle geskenke gegee het, het hulle besittings gehad wat dalk goed te pas sou kom terwyl hulle in Egipte gebly het.

Apokriewe mites en legendes het die reis na Egipte later geromantiseer en beweer dat die klein Jesus op wonderdadige wyse die reis verkort het, hulle teen struikrowers beskerm het en selfs die dadelpalms voor sy moeder laat neerbuig het sodat sy die vrugte kon pluk. * In werklikheid was dit net ’n lang, uitputtende reis na die onbekende.

Ouers kan baie by Josef leer. Hy was bereid om sy werk te onderbreek en sy eie gemak op te offer om sy gesin teen gevaar te beskerm. Dit is duidelik dat hy sy gesin as ’n heilige pand van Jehovah beskou het. Ouers van vandag maak hulle kinders groot in ’n gevaarlike wêreld, ’n wêreld met allerhande invloede wat kinders in gevaar kan stel, kan verderf of selfs hulle lewe kan verwoes. Hoe bewonderenswaardig is die moeders en vaders tog wat, soos Josef, beslissend optree en hard werk om hulle kinders teen sulke invloede te beskerm!

Josef het in sy gesin se behoeftes voorsien

Die gesin het blykbaar nie lank in Egipte gebly nie, want die engel het Josef kort voor lank in kennis gestel dat Herodes dood is. Josef het sy gesin na hulle tuisland teruggeneem. ’n Eertydse profesie het voorspel dat Jehovah sy seun “uit Egipte” sou roep (Matteus 2:15). Josef het ’n rol gespeel in die vervulling daarvan, maar waarheen sou hy sy gesin nou neem?

Josef was versigtig. Hy het goeie rede gehad om Herodes se opvolger, Argelaus, te vrees, aangesien hy ook wreed en moorddadig was. Danksy goddelike leiding het Josef sy gesin noordwaarts geneem, weg van Jerusalem af met al sy intriges, terug na sy tuisdorp Nasaret in Galilea. Daar het hy en Maria hulle gesin grootgemaak.—Matteus 2:19-23.

Hulle lewe was eenvoudig, maar nie maklik nie. Die Bybel noem Josef ’n timmerman en gebruik ’n woord wat na baie maniere verwys om hout te bewerk, soos om bome af te kap, dit weg te sleep en te behandel sodat dit gebruik kon word om huise, bote en klein brûe te bou en waens, wiele, jukke en plaasgereedskap te maak (Matteus 13:55). Dit was harde fisiese werk. Die timmerman in Bybeltye het dikwels naby die ingang van sy eenvoudige huis of in ’n werkswinkel langs sy huis gewerk.

Josef het ’n groot verskeidenheid gereedskap gebruik. Party van daardie stukke gereedskap het hy waarskynlik van sy vader gekry. Hy het moontlik gebruik gemaak van ’n winkelhaak, ’n skietlood, ’n slaglyn, ’n handbyl, ’n saag, ’n dissel, ’n hamer, ’n houthamer, beitels, ’n boor waarmee hy gate gemaak het deur ’n boog heen en weer te trek, verskillende soorte gom en dalk ’n paar spykers, hoewel dit duur was.

Stel jou Jesus as ’n klein seuntjie voor wat toekyk terwyl sy pleegvader werk. Met groot oë het hy Josef se elke beweging aandagtig dopgehou, en hy het die krag in daardie breë skouers en sterk arms, die vaardige hande en die intelligente oë ongetwyfeld bewonder. Dalk het Josef sy jong seun begin wys hoe om eenvoudige takies te verrig soos om growwe plekkies op die hout met droë visvel af te skuur. Hy het Jesus waarskynlik geleer om te onderskei tussen die verskillende soorte hout wat hy gebruik het—onder meer hout van die wildevyeboom, eikeboom of olyfboom.

Jesus het ook uitgevind dat die sterk hande wat bome afgekap, balke gemaak en voeë aanmekaargeslaan het, ook liefdevolle hande is wat hom, sy moeder en sy broers en susters geliefkoos en vertroos het. Ja, Josef en Maria het ’n groeiende gesin gehad wat uiteindelik ten minste ses kinders benewens Jesus ingesluit het (Matteus 13:55, 56). Josef moes al hoe harder werk om in al hulle behoeftes te voorsien.

Josef het egter besef dat hy bowenal na sy gesin se geestelike behoeftes moet omsien. Hy het dus tyd daaraan bestee om sy kinders oor Jehovah God en Sy wette te leer. Hy en Maria het hulle gereeld na die plaaslike sinagoge geneem, waar die Wet voorgelees en verduidelik is. Jesus het dalk ná die tyd baie vrae gehad, en Josef het hard probeer om die seun se geestelike honger te bevredig. Josef het sy gesin ook na godsdiensfeeste in Jerusalem geneem. Vir die jaarlikse Pasga het Josef moontlik twee weke nodig gehad om die reis van ongeveer 113 kilometer af te lê, die fees te vier en terug te keer huis toe.

Christengesinshoofde volg dieselfde patroon. Hulle gee van hulleself vir hulle kinders en stel geestelike onderrigting bo alle ander belange, onder andere materiële geriewe. Hulle doen groot moeite om hulle kinders na Christelike vergaderinge, hetsy groot of klein, te neem. Soos Josef, weet hulle dat dit die beste belegging is wat hulle ten behoewe van hulle kinders kan maak.

Angstige oomblikke

Toe Jesus 12 jaar oud was, het Josef sy gesin soos gewoonlik na Jerusalem geneem. Dit was die Pasga, ’n feestelike tyd, en groot gesinne het lang karavane gevorm wat deur die groen lentelandskap gereis het. Terwyl hulle die droër gebied naby hoogliggende Jerusalem genader het, het baie die bekende liedere van die opgange gesing (Psalm 120-134). Die stad het gewemel van honderdduisende mense. Ná die tyd het die gesinne met hulle pakdiere huiswaarts begin keer. Josef en Maria, wat moontlik hulle hande vol gehad het, het aangeneem dat Jesus saam met ander in die groep, miskien familielede, reis. Eers nadat hulle ’n volle dagreis van Jerusalem af was, het hulle tot ’n verskriklike besef gekom—Jesus was nie saam met hulle nie!—Lukas 2:41-44.

Hulle het paniekbevange na Jerusalem teruggekeer. Stel jou voor hoe leeg en vreemd die stad vir hulle gevoel het terwyl hulle angstig deur die strate geloop en hulle seun se naam uitgeroep het. Waar kon hulle seun wees? Het Josef teen die derde dag van hulle soektog begin wonder of hy hopeloos misluk het in hierdie heilige toewysing wat hy van Jehovah ontvang het? Uiteindelik het hulle na die tempel gegaan. Daar het hulle gesoek totdat hulle ’n vertrek met ’n groep geleerde manne, wat met die Wet vertroud was, gevind het—en die jong Jesus het tussen hulle gesit! Dink net hoe verlig Josef en Maria was!—Lukas 2:45, 46.

Jesus het na die geleerde manne geluister en hulle gretig uitgevra. Die manne was verbaas oor die kind se begrip en sy antwoorde. Maria en Josef was verstom. In die verslag sê Josef niks nie. Maar Maria se woorde het hulle al twee se gevoelens goed uitgedruk: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”—Lukas 2:47, 48.

In net ’n paar woorde skets God se Woord ’n realistiese prentjie van wat dit behels om ’n ouer te wees. Dit kan baie stres veroorsaak—selfs wanneer die kind volmaak is! Om ’n ouer in vandag se gevaarlike wêreld te wees, kan baie “angs” meebring, maar vaders en moeders kan vertroosting put uit die feit dat die Bybel die uitdagings erken waarmee hulle te kampe het.

Gelukkig het Jesus op die een plek in die wêreld gebly waar hy die naaste aan sy hemelse Vader, Jehovah, gevoel het, en alles wat hy kon leer, gretig ingedrink. Hy het sy ouers dus in alle opregtheid geantwoord: “Waarom moes julle na my gaan soek? Het julle nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?”—Lukas 2:49.

Josef het ongetwyfeld dikwels oor daardie woorde nagedink. Miskien het dit hom laat oorloop van trots. Hy het immers hard gewerk om sy aangenome seun te leer om so oor Jehovah God te voel. Op daardie stadium van sy lewe het Jesus reeds tere gevoelens met die woord “vader” geassosieer—gevoelens wat in groot mate gevorm is deur sy verhouding met Josef.

As jy ’n vader is, besef jy watter voorreg jy het om jou kinders te help om ’n begrip te vorm van wat ’n liefdevolle, beskermende vader is? As jy eweneens stiefkinders of aangenome kinders het, moet jy Josef se voorbeeld in gedagte hou en elkeen as ’n unieke en kosbare individu behandel. Help hulle om nader aan hulle hemelse Vader, Jehovah God, te kom.

Josef het getrou volhard

Die Bybel gee nog net ’n paar besonderhede oor Josef se lewe, maar dit is die moeite werd om dit noukeurig te ondersoek. Ons lees dat Jesus ‘onderdanig gebly het aan hulle’—sy ouers. Ons lees ook dat “Jesus . . . deurentyd toegeneem [het] in wysheid en in grootte en in guns by God en die mense” (Lukas 2:51, 52). Wat openbaar hierdie woorde oor Josef? ’n Paar dinge. Die feit dat sy volmaakte seun sy gesag eerbiedig het en hom daaraan bly onderwerp het, toon dat Josef voortgegaan het om die leiding in sy huisgesin te neem.

Ons lees ook dat Jesus voortgegaan het om in wysheid toe te neem. Josef het ongetwyfeld ’n belangrike rol gespeel in sy seun se vooruitgang in hierdie opsig. Destyds was daar ’n eeue oue gesegde onder die Jode. Volgens hierdie gesegde kon slegs mense wat ’n gemaklike lewe gelei het, waarlik wys word, terwyl ambagsmanne, soos timmermanne, boere en ystersmede, “nie reg en geregtigheid kon bekend maak nie; en hulle sou nie gevind word waar mense gelykenisse spreek nie”. Later het Jesus getoon dat hierdie gesegde niks meer as leë woorde is nie. Hoe dikwels het hy tog as ’n seun gehoor hoe sy pleegvader, hoewel hy ’n nederige timmerman was, op bekwame wyse oor Jehovah se “reg en geregtigheid” onderrig het! Ongetwyfeld by verskeie geleenthede.

Ons kan ook ’n aanduiding kry van Josef se invloed op Jesus in sy fisiese ontwikkeling. Omdat daar goed in Jesus se behoeftes voorsien is, het hy ’n sterk, gesonde man geword. Josef het sy seun ook geleer om ’n vaardige werker te wees. Jesus het nie net as die timmerman se seun bekend gestaan nie, maar ook as “die timmerman” (Markus 6:3). Die opleiding wat Josef hom gegee het, was dus suksesvol. Dit sal goed wees as gesinshoofde Josef se voorbeeld navolg deur om te sien na hulle kinders se welsyn en seker te maak dat hulle eendag selfstandig kan wees.

Wanneer die Bybelverslag vertel van Jesus se doop op 30-jarige ouderdom, is Josef nie meer deel van die verhaal nie. Die getuienis dui daarop dat Maria ’n weduwee was teen die tyd dat Jesus met sy bediening begin het. (Sien die venster “Wanneer het Josef gesterf?” op bladsy 27.) Nietemin het Josef ’n uitstekende voorbeeld nagelaat—dié van ’n vader wat sy gesin beskerm het, in hulle behoeftes voorsien het en getrou tot die einde volhard het. Ongeag wie jy is—’n vader, ’n gesinshoof, of enige ander Christen—jy kan gerus Josef se geloof navolg.

[Voetnote]

^ par. 7 Destyds is verlowing so te sê in dieselfde lig as die huwelik beskou.

^ par. 8 Sien die artikel “Volg hulle geloof na—Sy het ‘in haar hart gevolgtrekkings gemaak’” in Die Wagtoring van 1 Oktober 2008.

^ par. 14 Die Bybel toon duidelik dat Jesus se eerste wonderwerk eers ná sy doop plaasgevind het (Johannes 2:1-11). Om meer uit te vind oor apokriewe evangelies, sien die artikel “Apokriewe evangelies—Verborge waarhede oor Jesus?” op bladsy 18.

[Venster op bladsy 27]

Wanneer het Josef gesterf?

Ons weet dat Josef nog gelewe het toe Jesus 12 jaar oud was. Op daardie ouderdom het baie Joodse jongmense hulle vader se ambag begin leer en vakleerlinge geword wanneer hulle 15 jaar oud was. Josef het klaarblyklik lank genoeg gelewe om Jesus te leer om ’n timmerman te wees. Het Josef nog gelewe toe Jesus sy bediening op ongeveer 30-jarige ouderdom begin het? Dit is baie onwaarskynlik. Die verslag toon dat Jesus se moeder, broers en susters almal nog op daardie tydstip gelewe het, maar Josef word nie gemeld nie. Jesus is eenkeer selfs “die seun van Maria” genoem, nie die seun van Josef nie (Markus 6:3). Maria word uitgebeeld as ’n vrou wat selfstandig opgetree en uit eie inisiatief gehandel het, sonder om ’n eggenoot te raadpleeg (Johannes 2:1-5). In Bybeltye sou dit ongewoon wees tensy sy ’n weduwee was. Uiteindelik het Jesus, net voordat hy gesterf het, die verantwoordelikheid om vir sy moeder te sorg aan die apostel Johannes toevertrou (Johannes 19:26, 27). Dit sou onnodig gewees het as Josef nog gelewe het. Klaarblyklik het Josef dus gesterf toe Jesus nog ’n redelike jong man was. As die oudste seun het Jesus ongetwyfeld sy vader se besigheid oorgeneem en tot sy doop vir die gesin gesorg.

[Prent op bladsy 24]

Josef het beslissend en onselfsugtig opgetree om sy kind te beskerm

[Prent op bladsy 25]

Josef het hard gewerk om in die behoeftes van sy gesin te voorsien

[Prent op bladsy 26]

Josef het sy gesin gereeld na die tempel in Jerusalem geneem om te aanbid

[Prent op bladsy 28]

Josef het sy seun as ’n timmerman opgelei