Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Gesprek met ’n buurvrou—Is Jesus God?

’n Gesprek met ’n buurvrou—Is Jesus God?

’n Gesprek met ’n buurvrou—Is Jesus God?

JEHOVAH SE GETUIES geniet dit om die Bybel met mense te bespreek. Is daar ’n spesifieke Bybelonderwerp waaroor jy al gewonder het? Is daar enige van die opvattings of godsdiensgebruike van Jehovah se Getuies waarvan jy meer wil weet? Moet dan nie huiwer om daaroor te vra wanneer jy weer ’n Getuie teëkom nie. Hy of sy sal dit graag met jou bespreek.

Hier volg ’n tipiese gesprek tussen een van Jehovah se Getuies en ’n buurvrou. Kom ons stel ons voor dat ’n Getuie met die naam Karen besoek aflê by die huis van ’n vrou met die naam Samantha.

Is dit waar dat julle nie in Jesus glo nie?

Samantha: My predikant sê dat Jehovah se Getuies nie in Jesus glo nie. Is dit waar?

Karen: Ek kan jou verseker dat ons wel in Jesus glo. Om die waarheid te sê, ons glo dat ’n mens geloof in Jesus moet beoefen om gered te word.

Samantha: Dit is ook wat ek glo.

Karen: Dit is dus iets wat ons in gemeen het. Terloops, my naam is Karen, wat is jou naam?

Samantha: Samantha. Aangename kennis.

Karen: Ek is ook bly om jou te ontmoet, Samantha. Jy wonder dalk: ‘As Jehovah se Getuies wel in Jesus glo, waarom sê mense dan dat ons nie in hom glo nie?’

Samantha: Ja, dit is nogal ’n goeie vraag.

Karen: In ’n neutedop, ons het baie sterk geloof in Jesus, maar ons glo nie alles wat mense oor hom sê nie.

Samantha: Kan jy vir my ’n voorbeeld gee?

Karen: Ja. Party mense sê dat Jesus net ’n goeie mens was. Maar ons stem nie daarmee saam nie.

Samantha: Ek ook nie.

Karen: Dit is dus nog iets wat ons in gemeen het. ’n Tweede voorbeeld is dat Jehovah se Getuies nie met leringe saamstem wat in stryd is met wat Jesus self oor sy verhouding met die Vader gesê het nie.

Samantha: Wat bedoel jy?

Karen: Baie godsdienste leer dat Jesus God is. Dalk is dit wat jy geleer is.

Samantha: Ja, my predikant sê dat God en Jesus een is.

Karen: Maar sou jy nie saamstem dat die beste manier om die waarheid oor Jesus te leer, is om te ondersoek wat hy oor homself gesê het nie?

Samantha: Ja, ek stem saam.

Wat het Jesus gesê?

Karen: Kom ons kyk na ’n Bybelteks wat lig werp op hierdie saak. Let asseblief op wat Johannes 6:38 sê. Jesus het gesê: “Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van hom wat my gestuur het.” Hierdie woorde sal nogal verwarrend wees as Jesus God is, nie waar nie?

Samantha: Wat bedoel jy?

Karen: Wel, let op dat Jesus gesê het dat hy nie uit die hemel neergedaal het om sy eie wil te doen nie.

Samantha: Ja, hy het gesê dat hy gekom het om die wil te doen van die Een wat hom gestuur het.

Karen: Maar as Jesus God is, wie het hom dan gestuur? En waarom het Jesus hom aan die wil van daardie Een onderwerp?

Samantha: Ek verstaan wat jy bedoel. Maar ek is nie so seker dat hierdie een teks bewys dat Jesus nie God is nie.

Karen: Kyk egter na wat Jesus by ’n ander geleentheid gesê het. Hy het ’n soortgelyke verklaring in die volgende hoofstuk van Johannes gemaak. Sal jy asseblief Johannes 7:16 lees?

Samantha: Ja. “Hierop het Jesus hulle geantwoord en gesê: ‘Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het.’”

Karen: Dankie, Samantha. Het Jesus volgens hierdie teks sy eie idees geleer?

Samantha: Nee, hy het gesê dat sy leringe aan die Een behoort wat hom gestuur het.

Karen: Dis reg. Weer eens moet ons vra: ‘Deur wie is Jesus gestuur? En wie het vir hom die waarhede gegee wat hy geleer het?’ Is daardie Een nie groter as Jesus nie? Die een wat stuur, is immers groter as die een wat gestuur word.

Samantha: Dis interessant. Ek het hierdie teks nog nooit gelees nie.

Karen: Kyk ook na Jesus se woorde in Johannes 14:28: “Julle het gehoor dat ek vir julle gesê het: Ek gaan weg en ek kom terug na julle toe. As julle my liefgehad het, sou julle bly wees dat ek na die Vader toe gaan, want die Vader is groter as ek.” Met hierdie teks in gedagte, hoe sal jy sê het Jesus homself ten opsigte van die Vader beskou?

Samantha: Wel, hy het gesê dat die Vader groter as hy is. Hy het God dan seker as sy meerdere beskou.

Karen: Presies. Vir nog ’n voorbeeld, let op wat Jesus vir sy dissipels gesê het volgens Matteus 28:18. Dit sê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee.” Het Jesus gesê dat hy altyd alle gesag gehad het?

Samantha: Nee, hy het gesê dat dit aan hom gegee is.

Karen: Maar as Jesus God is, hoe kon hy meer gesag gegee word? En wie het dit aan hom gegee?

Samantha: Ek sal daaroor moet dink.

Met wie het hy gepraat?

Karen: Daar is iets anders wat nogal verwarrend is as Jesus regtig God is.

Samantha: Wat is dit?

Karen: Dit is wat ons oor Jesus se doop lees. Kyk na die verslag in Lukas 3:21, 22. Sal jy dit asseblief lees?

Samantha: “En toe al die mense gedoop is, is ook Jesus gedoop, en terwyl hy gebid het, is die hemel geopen en het die heilige gees in liggaamlike gedaante soos ’n duif op hom neergedaal, en ’n stem het uit die hemel gekom: ‘Jy is my Seun, die geliefde; ek het jou goedgekeur.’”

Karen: Het jy opgelet wat Jesus gedoen het terwyl hy gedoop is?

Samantha: Hy het gebid.

Karen: Ja. Dit laat natuurlik die vraag ontstaan: ‘As Jesus God is, tot wie het hy gebid?’

Samantha: Dis ’n goeie vraag. Ek sal my predikant moet vra.

Karen: Let ook op dat iemand uit die hemel gepraat het nadat Jesus uit die water opgekom het. Het jy opgelet wat daardie Een gesê het?

Samantha: Hy het gesê dat Jesus Sy Seun is, dat Hy hom liefhet en dat Hy hom goedgekeur het.

Karen: Dis reg. Maar as Jesus God is, wie het hierdie dinge uit die hemel gesê?

Samantha: Ek het nog nooit so daaraan gedink nie.

Waarom “Vader” en “Seun”?

Karen: Hier is nog iets om aan te dink: Ons het gelees dat Jesus van God gepraat het as sy hemelse Vader. En toe Jesus gedoop is, het ’n stem uit die hemel na hom as Sy Seun verwys. Trouens, Jesus het homself God se Seun genoem. As jy my wou leer dat twee persone gelyk is, watter familiebetrekking sou jy gebruik om dit te illustreer?

Samantha: Ek sou moontlik die voorbeeld van twee broers gebruik.

Karen: Presies—miskien selfs dié van ’n identiese tweeling. Maar Jesus het na God as die Vader en na homself as die Seun verwys. Watter gedagte dink jy het Jesus dus oorgedra?

Samantha: Ek sien jou punt. Volgens Jesus se beskrywing is die een ouer en het hy groter gesag as die ander.

Karen: Presies. Dink hieraan: Jy het aan ’n baie gepaste illustrasie gedink om gelykheid te verduidelik, dié van broers of ’n identiese tweeling. As Jesus werklik God is, dink jy nie dat Jesus, as die Groot Leermeester, aan dieselfde, of selfs aan ’n beter illustrasie sou gedink het om gelykheid toe te lig nie?

Samantha: Natuurlik.

Karen: Maar hy het eerder die woorde “Vader” en “Seun” gebruik om sy verhouding met God te beskryf.

Samantha: Dit is ’n interessante gedagte.

Wat het Jesus se vroeë volgelinge gesê?

Karen: Voordat ek gaan, sal ek graag nog ’n aspek van hierdie onderwerp met jou wil bespreek as jy nog tyd het.

Samantha: Ja, ek het ’n paar minute.

Karen: As Jesus werklik God is, sou jy nie verwag dat Jesus se dissipels uitdruklik so sou gesê het nie?

Samantha: Dit klink redelik.

Karen: En tog lees ons nêrens in die Skrif dat hulle dit geleer het nie. Inteendeel, let op wat een van Jesus se vroeë volgelinge, die apostel Paulus, geskryf het. In Filippense 2:9 beskryf hy wat God ná Jesus se dood en opstanding gedoen het: “God [het] hom [Jesus] tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is.” Wat het God, volgens hierdie teks, vir Jesus gedoen?

Samantha: Dit sê dat God hom tot ’n hoër posisie verhef het.

Karen: Ja. Maar as Jesus aan God gelyk was voordat hy gesterf het en God hom later tot ’n hoër posisie verhef het, sou dit Jesus nie hoër as God maak nie? Hoe kan enigiemand hoër as God wees?

Samantha: Niemand kan hoër as God wees nie. Dis onmoontlik.

Karen: Ek stem saam. As ons al hierdie bewyse in ag neem, sou jy sê die Bybel leer dat Jesus God is?

Samantha: Nee, dit wil nie so voorkom nie. Die Bybel sê dat hy God se Seun is.

Karen: Dis reg, Samantha. Maar ek kan jou verseker dat Jehovah se Getuies baie hoë agting vir Jesus het. Ons glo dat sy dood as die beloofde Messias redding vir alle getroue mense moontlik maak.

Samantha: Ek glo dit ook.

Karen: Jy wonder dalk: ‘Hoe kan ons ons waardering toon vir die feit dat Jesus sy lewe ten behoewe van ons afgelê het?’ *

Samantha: Ek het al daaroor gewonder.

Karen: Dalk kan ek terugkom en die Bybel se antwoord met jou bespreek. Sal jy volgende week dieselfde tyd tuis wees?

Samantha: Ja, ek sal hier wees.

Karen: Goed, sien jou dan.

[Voetnoot]