Ons lesers vra . . .
Het die eerste-eeuse Christene aan die politiek deelgeneem?
▪ Voor Jesus na die hemel opgevaar het, het hy sy dissipels duidelike instruksies gegee oor hoe om hulle bediening uit te voer, maar hy het geen politieke raad hierby ingesluit nie (Matteus 28:18-20). Gevolglik het Jesus se dissipels voortgegaan om volgens die beginsel te lewe wat hy hulle vroeër gegee het: “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort.”—Markus 12:17.
Hoe het hierdie beginsel Jesus se volgelinge gehelp om in die wêreld te lewe en tog geen deel daarvan te wees nie? Waar het hulle die grens gestel tussen wat aan die Staat, of die keiser, behoort en wat aan God behoort?
Die apostel Paulus het deelname aan die politiek as ’n verontagsaming van daardie grens beskou. “Paulus was bereid om sy Romeinse burgerskap te gebruik om aan te dring op die beskerming waarop hy volgens die wet geregtig was, maar hy het hom glad nie bemoei met die openbare beleidskwessies van sy dag nie”, sê die boek Beyond Good Intentions—A Biblical View of Politics.
Watter riglyne het Paulus mede-Christene gegee? Dieselfde boek sê verder: “Sy briewe aan gelowiges in belangrike stede soos Korinte, Efese en selfs Rome gee geen aanduiding dat hy in sekulêre politieke twiste belanggestel het nie.” Die boek sê ook dat Paulus hulle “beveel het om aan die staat onderdanig te wees, maar hy het nie in enige van sy talle briewe ’n enkele beleid uiteengesit wat hy wou hê die plaaslike kerk op staatsinstellings moes afdwing nie”.—Romeine 12:18; 13:1, 5-7.
Christene wat dekades ná Paulus se dood gelewe het, het hulle verpligtinge teenoor God en teenoor die Staat heeltemal afgeskeie van mekaar gehou. Hulle was altyd respekvol teenoor politieke magte, maar hulle het nie aan politieke bedrywighede deelgeneem nie. Beyond Good Intentions sê die volgende oor daardie gelowiges: “Hoewel die vroeë Christene geglo het dat hulle die heersende owerhede moet respekteer, het hulle nie geglo dat dit reg is om by politieke aangeleenthede betrokke te raak nie.”
Maar ongeveer 300 jaar ná Christus se dood, het dinge verander. Die teoloog Charles Villa-Vicencio sê: “Toe die politieke stelsel onder Konstantyn se bewind verander is, het baie Christene blykbaar in die staatsdiens begin werk, by die leër aangesluit en politieke ampte aanvaar” (Between Christ and Caesar). Wat was die gevolg? Teen die einde van die vierde eeu HJ het daardie vermenging van godsdiens en politiek gelei tot die ontstaan van die Staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk.
Vandag gaan baie godsdienste wat sê dat hulle Christus volg, voort om hulle lede aan te spoor om aan die politiek deel te neem. Maar daardie godsdienste volg nie Christus of die voorbeeld van die eerste-eeuse Christene na nie.