Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Opregte gelowige en verantwoordelike burger—Hoe om albei te wees

Opregte gelowige en verantwoordelike burger—Hoe om albei te wees

Opregte gelowige en verantwoordelike burger—Hoe om albei te wees

WAT was twee kenmerke van Jesus se bediening? Eerstens, Jesus het mense se harte probeer verander, nie politieke instellings nie. Kyk byvoorbeeld na wat Jesus in sy Bergpredikasie beklemtoon het. Net voordat hy gesê het dat sy volgelinge soos sout en lig moet wees, het hy vir sy gehoor gesê dat ware geluk aan diegene behoort wat “bewus is van hulle geestelike behoefte”. Hy het bygevoeg: “Gelukkig is die saggeaardes, . . . dié wat suiwer van hart is, . . . die vredeliewendes” (Matteus 5:1-11). Jesus het sy volgelinge gehelp om te besef hoe belangrik dit is om hulle denke en gevoelens aan te pas by God se standaard van wat goed en sleg is en hoe belangrik dit is om God heelhartig te dien.

Tweedens, wanneer Jesus menselyding gesien het, het sy medelye vir sy medemens hom beweeg om hulle lyding te verlig. Maar hy het hom dit nie ten doel gestel om alle lyding uit die weg te ruim nie (Matteus 20:30-34). Hy het siekes genees, maar siekte het deel van die lewe gebly (Lukas 6:17-19). Hy het verligting gebring aan die onderdruktes, maar onregte het nog steeds lyding veroorsaak. Hy het honger mense gevoed, maar hongersnode het voortgegaan om die mensdom te teister.—Markus 6:41-44.

Hy het harte verander en lyding verlig

Waarom het Jesus hom daarop toegelê om harte te verander en lyding te verlig, maar nie om instellings te verander of lyding uit die weg te ruim nie? Jesus het geweet dat dit God se voorneme is om alle menseregerings en die oorsake van alle lyding deur middel van Sy Koninkryk in die toekoms tot niet te maak (Lukas 4:43; 8:1). Toe die dissipels Jesus eenkeer aangespoor het om meer tyd daaraan te bestee om die siekes te genees, het Jesus gevolglik vir hulle gesê: “Laat ons êrens anders heen gaan, in die nabygeleë dorpe in, sodat ek ook daar kan preek, want daarvoor het ek uitgegaan” (Markus 1:32-38). Jesus het baie mense se fisiese lyding verlig, maar hy het voorkeur daaraan gegee om God se Woord aan ander te verkondig en te leer.

Jehovah se Getuies probeer Jesus navolg in die predikingswerk wat hulle vandag doen. Hulle word beweeg om lyding te verlig deur praktiese hulp aan behoeftiges te verleen. Maar die Getuies probeer nie om die onregte in die wêreld uit die weg te ruim nie. Hulle glo dat God se Koninkryk die oorsake van alle lyding tot niet sal maak (Matteus 6:10). Soos Jesus, probeer hulle harte verander, maar nie politieke instellings nie. Hierdie benadering is realisties, want die mens se grootste probleme is nie polities nie, maar sedelik.

Verantwoordelike burgers

Terselfdertyd glo Jehovah se Getuies dat dit hulle Christelike verantwoordelikheid is om goeie burgers te wees. Gevolglik eer en respekteer hulle regeringsowerhede. Deur middel van hulle publikasies en hulle getuieniswerk moedig hulle hulle bure aan om wetsgehoorsaam te wees. Maar wanneer ’n regering se eise lynreg in stryd is met wat God beveel, weier die Getuies om dit na te kom. Hulle is “eerder aan God as heerser gehoorsaam . . . as aan mense”.—Handelinge 5:29; Romeine 13:1-7.

Jehovah se Getuies besoek almal in hulle gemeenskap om vir hulle gratis Bybelonderrig aan te bied. Danksy hierdie onderrigting is miljoene harte al verander. Elke jaar word honderdduisende mense gehelp om skadelike gebruike soos rook, dronkenskap, dwelmmisbruik, dobbelary en geslagsonsedelikheid te bowe te kom. Hulle het burgers geword met ’n sedelike verantwoordelikheidsin omdat hulle geleer het om Bybelbeginsels in hulle lewe toe te pas.—Sien die artikel “Die Bybel verander lewens” op bladsy 18 van hierdie tydskrif.

Daarbenewens help Bybelonderrig gesinslede om groter respek vir mekaar te hê en om kommunikasie te verbeter—tussen huweliksmaats sowel as tussen ouers en kinders, asook tussen die kinders. Dit is faktore wat gesinsbande versterk. Sterker gesinne lei weer tot sterker gemeenskappe.

Noudat jy die punte in hierdie artikels oorweeg het, wat dink jy: Keur die Bybel diegene goed wat godsdiens en die politiek vermeng? Die antwoord is duidelik; dit keur dit nie goed nie. Maar moet ware Christene verantwoordelike burgers wees? Ja, hulle moet. Hoe kan hulle dit regkry? Deur Jesus se opdrag te gehoorsaam om soos sout en soos lig in die wêreld te wees.

Diegene wat hierdie praktiese riglyne probeer volg wat Christus ons gegee het, sal hulleself en hulle gesinne—sowel as die gemeenskap waarin hulle woon—tot voordeel strek. Jehovah se Getuies in jou omgewing sal jou graag meer inligting gee oor die Bybelonderrigtingsprogram wat tans in jou gemeenskap aangebied word. *

[Voetnoot]

^ par. 12 As jy wil, kan jy ook met Jehovah se Getuies in aanraking kom by www.watchtower.org/af

[Lokteks op bladsy 10]

Jesus het harte probeer verander, nie politieke instellings nie

[Lokteks op bladsy 11]

Jehovah se Getuies glo dat dit hulle verantwoordelikheid is om goeie burgers te wees