Sleutels tot gesinsgeluk
Hoe om weer vertroue op te bou
Steve *: “Ek het nooit gedink dat Jodi egbreuk sou pleeg nie. Ek het alle vertroue in haar verloor. Woorde kan nie beskryf hoe moeilik dit vir my was om haar te vergewe nie.”
Jodi: “Ek verstaan waarom Steve vertroue in my verloor het. Dit het my baie jare geneem om te bewys dat ek spyt is oor wat ek gedoen het.”
DIE Bybel gee slagoffers van egbreuk die reg om te besluit of hulle wil skei of nie (Matteus 19:9). * Steve, wat hierbo aangehaal is, het besluit om nie te skei nie. Hy en Jodi het hulle voorgeneem om hulle huwelik te red. Maar hulle het gou besef dat dit baie meer vereis het as om net voort te gaan om saam te woon. Waarom? Want Jodi se ontrouheid het, soos hulle kommentare toon, alle vertroue tussen hulle geskend. Aangesien wedersydse vertroue noodsaaklik is vir huweliksgeluk, sou hulle hard aan hulle verhouding moes werk.
As jy en jou maat julle huwelik probeer red ná ’n groot terugslag soos egbreuk, sal dit ongetwyfeld vir julle ’n moeilike uitdaging wees. Die eerste paar maande nadat die saak aan die lig gekom het, kan veral moeilik wees. Maar julle kan sukses behaal! Hoe kan julle weer vertroue in julle verhouding opbou? Die wysheid wat in die Bybel gevind word, kan julle help. Kyk na die volgende vier wenke.
1 Wees eerlik met mekaar.
“Noudat julle onwaarheid afgelê het, moet julle . . . die waarheid praat”, het die apostel Paulus geskryf (Efesiërs 4:25). Leuens, halwe waarhede en selfs stilswye ondermyn vertroue. Daarom is dit belangrik dat julle openhartig en eerlik met mekaar praat.
Aanvanklik sal jy en jou maat dalk te ontsteld wees om oor die ontrouheid te praat. Maar uiteindelik
sal julle openlik moet praat oor wat gebeur het. Julle sal moontlik verkies om nie al die besonderhede te bespreek nie, maar dit is onverstandig om die onderwerp heeltemal te vermy. “In die begin het ek dit ontsettend moeilik en onaangenaam gevind om oor die buite-egtelike verhouding te praat”, sê Jodi, wat hierbo aangehaal is. “Dit was iets waaroor ek opreg spyt was, en ek wou net heeltemal daarvan vergeet.” Maar hierdie gebrek aan kommunikasie het probleme veroorsaak. Waarom? Steve sê: “Omdat Jodi nie oor die ontrouheid wou praat nie, het ek agterdogtig gebly.” Jodi erken nou: “Die feit dat ek dit nie met my man bespreek het nie, het dit moeilik gemaak om die vertroue te herstel.”Enige bespreking oor die ontrouheid sal ongetwyfeld pynlik wees. Debbie, wie se man, Paul, egbreuk met sy sekretaresse gepleeg het, sê: “Ek het baie vrae gehad. Hoe? Waarom? Waaroor het hulle gepraat? Ek het ’n emosionele wrak geword; dit het my gedagtes oorheers en namate die weke verbygegaan het, het ek selfs meer vrae gevra.” Paul sê: “Die gesprekke tussen my en Debbie het natuurlik soms in hewige woordewisselings ontaard. Maar ons het mekaar altyd later om verskoning gevra. Hierdie eerlike besprekings het ons nader aan mekaar gebring.”
Hoe kan julle sulke besprekings minder gespanne maak? Onthou dat jou hoofdoel nie is om jou maat te straf nie, maar om uit die tragedie te leer en julle huwelik te versterk. Byvoorbeeld, Chul Soo en sy vrou, Mi Young, het hulle verhouding ondersoek nadat Chul Soo ontrou was. “Ek het besef dat ek te besig was met my eie belange”, sê Chul Soo. “Ek het ook te hard probeer om ander tevrede te stel en aan hulle verwagtinge te voldoen. Ek het die meeste van my tyd en aandag aan hulle bestee. Gevolglik het ek min tyd saam met my vrou deurgebring.” Hierdie insig het Chul Soo en Mi Young in staat gestel om veranderinge aan te bring wat gehelp het om hulle huwelik mettertyd te versterk.
PROBEER DIE VOLGENDE: As jy die ontroue maat is, moet jy nie verskonings maak of jou maat blameer nie. Aanvaar verantwoordelikheid vir jou dade en die hartseer wat jy veroorsaak het. As jy die veronregte maat is, moet jy nie op jou maat skreeu of skeltaal gebruik nie. As jy sulke spraak vermy, sal jy jou maat aanmoedig om aan te hou om openhartig met jou te praat.—Efesiërs 4:32.
2 Werk saam as ’n span.
“Twee is beter as een”, sê die Bybel. Waarom? “Want hulle het ’n goeie beloning vir hulle harde werk. Want as een van hulle val, kan die ander sy metgesel ophelp” (Prediker 4:9, 10). Hierdie beginsel is veral geldig wanneer julle hard werk om weer vertroue in julle verhouding op te bou.
Saam kan jy en jou maat die wantroue te bowe kom wat in julle verhouding ingesypel het. Maar julle albei moet daartoe verbind wees om die huwelik te red. As jy die probleem op jou eie die hoof probeer bied, sal dit dalk tot nog probleme lei. Julle moet mekaar as spanmaats beskou.
Dit was die geval met Steve en Jodi. “Dit het tyd geneem”, sê Jodi, “maar ek en Steve het as ’n span saam gewerk om ’n sterk huwelik op te bou. Ek was vasbeslote om hom nooit weer so seer te maak nie. En hoewel Steve seergekry het, het hy hom voorgeneem om nie ons huwelik te laat misluk nie. Ek het elke dag na maniere gesoek om hom van my lojaliteit te verseker, en hy het voortdurend getoon dat hy my liefhet. Hiervoor sal ek hom ewig dankbaar wees.”
PROBEER DIE VOLGENDE: Neem julle voor om as ’n span saam te werk om weer vertroue in julle huwelik op te bou.
3 Vervang ou gewoontes met nuwes.
Nadat Jesus sy toehoorders teen egbreuk gewaarsku het, het hy hulle die volgende raad gegee: “As daardie regteroog van jou jou dan nou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg” (Matteus 5:27-29). Kan jy, as jy die ontroue maat is, aan optrede of gesindhede dink wat jy, ter wille van julle huwelik, as ’t ware moet uitruk en weggooi?
Dit is vanselfsprekend dat jy kontak moet verbreek met die persoon met wie jy egbreuk gepleeg het (Spreuke 6:32; 1 Korintiërs 15:33). * Paul, wat vroeër aangehaal is, het sy werkrooster en sy selfoonnommer verander sodat hy niks meer met die ander vrou te doen sou hê nie. Maar ten spyte van sy pogings het hy dit nog steeds nie reggekry om alle kontak te verbreek nie. Paul was so vasbeslote om sy vrou se vertroue terug te wen dat hy uit sy werk bedank het. Hy het ook van sy selfoon ontslae geraak en net sy vrou s’n gebruik. Was die ongerief die moeite werd? Sy vrou, Debbie, sê: “Ses jaar het al verbygegaan, en soms is ek nog steeds bekommerd dat sy hom sal probeer kontak. Maar ek het nou die vertroue dat Paul nie voor die versoeking sal swig nie.”
As jy die ontroue maat is, sal jy dalk ook veranderinge in jou persoonlikheid moet aanbring. Byvoorbeeld, jy is dalk geneig om te flankeer of jy geniet dit dalk om oor romantiese verhoudings met ander persone te fantaseer. Indien wel, moet jy ‘die ou persoonlikheid met sy gebruike aflê’. Vervang ou gewoontes met nuwes wat jou maat se vertroue in jou sal opbou (Kolossense 3:9, 10). Maak jou agtergrond dit vir jou moeilik om geneentheid te betoon? Al laat dit jou aanvanklik ongemaklik voel, moet jy jou huweliksmaat vryelik van jou liefde verseker en hom of haar dikwels gerusstel. Steve vertel: “Jodi het dikwels haar geneentheid betoon deur liefdevol aan my te raak, en sy het gereeld gesê: ‘Ek is lief vir jou’.”
Dit sal dalk goed wees as jy ’n tyd lank heeltemal openhartig is oor jou daaglikse bedrywighede. Mi Young, wat vroeër gemeld is, sê: “Chul Soo het gesorg dat hy my alles vertel wat gedurende die dag gebeur het, selfs die onbenulligste dinge, om vir my te probeer wys dat hy niks wegsteek nie.”
PROBEER DIE VOLGENDE: Vra mekaar wat julle kan doen wat waarskynlik sal help om weer vertroue tussen julle op te bou. Maak ’n lys van hierdie dinge en tree in ooreenstemming daarmee op. Sluit ook bedrywighede by julle roetine in wat julle saam kan geniet.
4 Weet wanneer om met julle lewe aan te gaan.
Moenie te vinnig tot die slotsom kom dat dit tyd is om te begin lewe asof alles weer normaal is nie. Spreuke 21:5 waarsku: “Elkeen wat oorhaastig is, stuur gewis op gebrek af.” Dit sal tyd neem—dalk jare—om weer die vertroue op te bou.
As jy die veronregte maat is, gun jouself tyd om ten volle te vergewe. Mi Young sê: “Voorheen het ek dit vreemd gevind as ’n vrou nie haar ontroue man kon vergewe nie. Ek kon nie verstaan waarom sy so lank kwaad sou bly nie. Maar toe my man ontrou was, het ek verstaan waarom vergifnis moeilik is.” Jy sal waarskynlik mettertyd kan vergewe en weer kan vertrou.
Maar Prediker 3:1-3 sê dat daar “’n tyd [is] om gesond te maak”. Aanvanklik dink jy dalk dat dit veiliger is om jou emosioneel van jou huweliksmaat te distansieer. Maar as jy dit vir ’n onbepaalde tyd doen, sal dit jou nie help om weer vertroue in jou maat op te bou nie. Om die skade aan die verhouding te herstel, moet jy jou maat vergewe en dit toon deur oor jou diepste gedagtes en gevoelens met jou huweliksmaat te praat. Moedig ook jou maat aan om oor sy of haar vreugdes en bekommernisse te praat.
Waak teen verbitterdheid. Lê jou daarop toe om dit te oorkom (Efesiërs 4:32). Jy sal dit dalk nuttig vind om oor God se voorbeeld na te dink. Hy was diep seergemaak toe sy aanbidders in eertydse Israel ontrou aan hom was. Jehovah God het selfs gesê dat hy soos ’n veronregte huweliksmaat is (Jeremia 3:8, 9; 9:2). Maar hy het nie “tot onbepaalde tyd gebelg [gebly] nie” (Jeremia 3:12). Toe sy volk opregte berou getoon en na hom teruggekeer het, het hy hulle vergewe.
Wanneer julle albei uiteindelik tevrede is dat die nodige veranderinge in julle verhouding aangebring is, sal julle ’n gevoel van veiligheid in die verhouding ervaar. Dan hoef julle nie meer al julle aandag daaraan te wy om julle huwelik te red nie, maar kan julle eerder saam ander doelwitte nastreef. Nogtans moet julle gereeld tyd opsysit om julle vordering te evalueer. Moenie oorgerus word nie. Oorkom geringe terugslae, en bevestig julle verbondenheid aan mekaar.—Galasiërs 6:9.
PROBEER DIE VOLGENDE: Moenie die huweliksverhouding wat julle voorheen geniet het, probeer terugkry nie, maar lê julle eerder daarop toe om ’n nuwe en sterker verhouding op te bou.
Julle kan suksesvol wees
In tye van onsekerheid, is dit goed om die volgende te onthou: God is die Insteller van die huweliksreëling (Matteus 19:4-6). Met sy hulp kan julle dus ’n suksesvolle huwelik hê. Al die egpare wat vroeër genoem is, het die Bybel se wyse raad toegepas en kon hulle huwelik red.
Twintig jaar het al verloop sedert die krisis in Steve en Jodi se verhouding. Steve verduidelik hoe hulle hulle huwelik gered het: “Dit was nadat ons die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer het dat ons die betekenisvolste veranderinge aangebring het. Die hulp wat ons ontvang het, was van onskatbare waarde. Dit het ons in staat gestel om deur daardie moeilike tye te kom.” Jodi sê: “Ek voel dat ek ryklik geseën is omdat ons ten spyte van daardie moeilike tye bymekaargebly het. Ons het nou ’n wonderlike huwelik omdat ons die Bybel saam bestudeer en hard aan ons verhouding werk.”
^ par. 3 Name is verander.
^ par. 5 Om jou te help om ’n besluit te neem, sien die Ontwaak! van 22 April 1999, bladsy 6, en van 8 Augustus 1995, bladsye 10 en 11.
^ par. 17 As ’n mate van kontak ’n ruk lank onvermydelik is (soos by die werk), moet dit tot die absolute minimum beperk word. As jy kontak met die ander persoon moet hê, moet dit in ander se teenwoordigheid geskied en met jou maat se volle medewete.
VRA JOU AF . . .
-
Om watter redes het ek besluit om my huwelik te red ondanks ontrouheid?
-
Watter positiewe eienskappe neem ek nou in my maat waar?
-
Hoe het ek in klein dingetjies liefde betoon toe ek en my maat uitgegaan het, en hoe kan ek dit weer doen?