Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die stryd vir die goeie nuus in Tessalonika

Die stryd vir die goeie nuus in Tessalonika

Die stryd vir die goeie nuus in Tessalonika

Tessalonika, wat vandag as Tessaloníki of Salonika bekend staan, is ’n florerende hawestad in die noordooste van Griekeland. As ’n stad het dit ’n belangrike rol in die geskiedenis van die eerste-eeuse Christene gespeel, veral in die bediening van Paulus, die Christenapostel vir die nasies.—HANDELINGE 9:15; ROMEINE 11:13.

OMSTREEKS 50 HJ het Paulus en sy reisgesel, Silas, Tessalonika besoek. Dit was Paulus se tweede sendingreis en hulle eerste geleentheid om die goeie nuus oor die Christus te neem na wat vandag as Europa bekend staan.

Toe hulle in Tessalonika aankom, was hulle wedervaringe in Filippi, die hoofstad van Masedonië, waar hulle geslaan en opgesluit is, ongetwyfeld nog vars in hulle geheue. Trouens, Paulus het later vir die Tessalonisense gesê dat hy “met groot worsteling die goeie nuus van God” aan hulle verkondig het (1 Tessalonisense 2:1, 2). Sou die situasie in Tessalonika gunstiger wees? Hoe sou die predikingswerk in hierdie stad ontvang word? Sou dit produktief wees? Kom ons kyk eers van naderby na hierdie ou stad.

’n Stad met ’n onstuimige verlede

Selfs die naam Tessalonika, wat afgelei is van twee Griekse woorde wat “Tessaliër” en “oorwinning” beteken, dui op ’n stryd of ’n geveg. Daar word algemeen geglo dat die Masedoniese koning Filippus, die vader van Aleksander die Grote, ’n stam van Sentraal-Griekeland in 352 VHJ in Tessalië verslaan het. Volgens bewering het hy ter herinnering aan daardie oorwinning een van sy dogters Tessaloniké genoem, wat later getrou het met Kassander, ’n opvolger van haar broer Aleksander. Omstreeks 315 VHJ het Kassander ’n stad aan die westekant van die Khalkidhiki-skiereiland gebou en dit na sy vrou vernoem. Tessalonika is deur sy veelbewoë geskiedenis heen deur konflikte geteister.

Tessalonika was ook ’n welvarende stad. Dit het een van die beste natuurlike hawens in die Egeïese See gehad. In Romeinse tye was dit ook langs die bekende hoofweg Via Egnatia geleë. Weens Tessalonika se strategiese ligging langs see- en landroetes was dit een van die Romeinse Ryk se handelspoorte. As gevolg van die stad se welvarendheid het die Gote, Slawe, Franke, Venesiërs en Turke die stad deur die eeue heen as ’n uiters gesogte prys beskou. Party van hulle het die stad deur geweld en bloedvergieting ingeneem. Maar kom ons kyk nou na Paulus se besoek, toe die stryd vir die goeie nuus daar begin het.

Paulus kom in Tessalonika aan

Wanneer Paulus in ’n nuwe stad aangekom het, het hy gewoonlik eers die Jode genader omdat hulle die Skrif geken het, wat ’n grondslag vir bespreking voorsien het en dit vir hulle makliker gemaak het om die goeie nuus te verstaan. Een geleerde doen aan die hand dat hierdie gebruik moontlik ’n aanduiding van Paulus se besorgdheid oor sy landgenote was of dat hy dit gedoen het om die Jode en dié wat God gevrees het as ’n trapklip vir sy werk onder die heidene te gebruik.—Handelinge 17:2-4.

Nadat Paulus in Tessalonika aangekom het, het hy dus eers na die sinagoge gegaan, en hy het daar met die Jode “geredeneer en verduidelik en deur verwysings bewys dat die Christus moes ly en uit die dode moes opstaan en gesê: ‘Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, hý is die Christus.’”—Handelinge 17:2, 3, 10.

Wat Paulus beklemtoon het—die Messias se rol en identiteit—was ’n kontroversiële onderwerp. Die idee van ’n Messias wat gely het, was in stryd met die ideaal van ’n verowerende stryder-Messias wat die Jode gekoester het. Om die Jode te oorreed, het Paulus “geredeneer”, “verduidelik” en “deur verwysings” uit die Skrif bewys gelewer—die ware kenmerke van ’n doeltreffende onderrigter. * Maar hoe het Paulus se gehoor gereageer terwyl hy hierdie skat van inligting aan hulle oorgedra het?

’n Moeilike maar produktiewe bediening

Party Jode en baie Griekse proseliete sowel as “’n groot aantal van die vernaamste vroue” het Paulus se boodskap aanvaar. Die uitdrukking “vernaamste vroue” is baie gepas, aangesien vroue in Masedonië ’n hoë sosiale status geniet het. Hulle het openbare ampte beklee, eiendom besit, burgerregte geniet en handel gedryf. Monumente is selfs ter ere van hulle opgerig. Net soos die sakevrou Lidia van Filippi die goeie nuus aangeneem het, het vooraanstaande vroue van Tessalonika, waarskynlik vroue uit goeie families of vroue van hooggeplaaste burgers, ook nou positief gereageer.—Handelinge 16:14, 15; 17:4.

Maar die Jode het vol afguns geword. Hulle het “goddelose manne onder die leeglêers op die markplein saam met hulle geneem en ’n skare oproeriges gevorm en die stad in opskudding gebring” (Handelinge 17:5). Watter soort mense was hulle? Een Bybelgeleerde het hulle beskryf as “losbandiges en niksnutte”. Hy het bygevoeg: “Dit lyk nie of hulle hoegenaamd in die betrokke saak belanggestel het nie; maar dit was maklik om hulle, soos ander oproerige skares, op te sweep en tot enige gewelddaad aan te hits.”

Daardie skare oproeriges het “die huis van Jason [Paulus se gasheer] aangeval in ’n poging om hulle voor die gepeupel te bring”. Omdat hulle Paulus nie kon vind nie, het hulle hulle tot die stad se hoogste administratiewe amptenare gewend. Toe “het hulle Jason en sekere broers na die stadsheersers toe gesleep en uitgeroep: ‘Hierdie mense wat die bewoonde aarde omgekeer het, is ook hier teenwoordig.’”—Handelinge 17:5, 6.

As die hoofstad van Masedonië het Tessalonika ’n mate van onafhanklikheid geniet. As deel van sy selfbestuur het dit ’n volksvergadering, of burgerraad, gehad wat na plaaslike openbare kwessies omgesien het. Die “stadsheersers”, of politarge *, was hoofamptenare wie se plig dit was om orde te handhaaf en situasies te ontlont wat tot Romeinse ingryping en tot die verlies van die stad se voorregte kon lei. Hulle sou dus nie daarvan hou om te hoor dat die rus en orde deur hierdie “moeilikheidmakers” bedreig is nie.

Toe is ’n baie ernstige beskuldiging gemaak: “Hierdie mense handel in stryd met die verordeninge van die keiser en sê dat daar ’n ander koning is, Jesus” (Handelinge 17:7). Dit, sê een kommentaar, het “sedisie en opstand” teen die keiser geïmpliseer, wat “nie sou toelaat dat die naam van [’n ander] koning in enige van die verowerde provinsies genoem word nie, tensy hy toestemming daarvoor gegee het”. Die feit dat Jesus, wat Paulus verkondig het Koning is, juis vir sedisie deur die Romeinse owerheid tereggestel is, het verder tot die geloofwaardigheid van die beskuldiging bygedra.—Lukas 23:2.

Die stadsheersers was ontstoke. Maar aangesien daar nie grondige bewyse was nie en die beskuldigdes nie gevind kon word nie, het hulle, “eers nadat hulle voldoende borgtog van Jason en die ander geneem het, . . . hulle laat gaan” (Handelinge 17:8, 9). Hierdie reëling kan moontlik na ’n tipe borg verwys waarvolgens Jason en ander Christene verseker het dat Paulus die stad sou verlaat en nie sou terugkeer en weer die rus sou versteur nie. Dalk het Paulus na hierdie gebeurtenis verwys toe hy gesê het dat ‘Satan sy weg versper’ en hom verhinder het om na die stad terug te keer.—1 Tessalonisense 2:18.

In die lig van hierdie situasie is Paulus en Silas in die nag na Berea gestuur. Paulus se bediening was ook daar produktief, maar sy sukses het sy Joodse teenstanders in Tessalonika so kwaad gemaak dat hulle die reis van 80 kilometer na Berea afgelê het om die skare op te sweep en teenstand aan te blaas. Paulus het kort voor lank weer in die pad geval, hierdie keer na Atene, maar die stryd vir die goeie nuus sou voortduur.—Handelinge 17:10-14.

Die uitdagings van ’n nuutgestigte gemeente

’n Gemeente is wel in Tessalonika gestig, maar teenstand was nie die enigste uitdaging waarvoor die Christene daar te staan gekom het nie. Hulle het in ’n heidense, onsedelike omgewing gewoon, en dit het Paulus bekommer. Hoe sou sy broers vaar?—1 Tessalonisense 2:17; 3:1, 2, 5.

Die Christene in Tessalonika het geweet dat hulle hulle die gegriefdheid en woede van hulle voormalige vriende op die hals sou haal as hulle ophou om aan die sosiale en godsdiensbedrywighede van die stad deel te neem (Johannes 17:14). Daarbenewens was daar baie heiligdomme van gode soos Zeus, Artemis en Apollo, asook sekere Egiptiese gode in Tessalonika. Die keiserkultus was ook prominent, en alle burgers moes die rituele daarvan onderhou. Weiering om daaraan deel te neem, kon as opstand teen Rome beskou word.

Afgodsaanbidding het ’n klimaat van skaamtelose promiskuïteit bevorder. Kabirus, ’n beskermgod van Tessalonika; Dionisus en Afrodite; en Isis van Egipte het almal iets in gemeen gehad: ’n vorm van aanbidding wat uiters seksueel van aard was en deurtrek was van bandelose rituele en swelgerye. Die gebruik om byvroue te hê en prostitusie was baie algemeen. Die mense het hoerery glad nie as ’n sonde beskou nie. Hulle samelewing is deur die Romeinse kultuur beïnvloed, en een naslaanwerk sê dat “burgers gebruik kon maak van die dienste van ’n hele gemeenskap van mans en vrouens wie se doel dit was om al hulle begeertes te bevredig—en dokters het gesê dat sulke begeertes nie onderdruk moet word nie”. Dit is geen wonder dat Paulus Christene daar vermaan het om hulle te “onthou van hoerery” en om “hebsugtige geslagsdrif” en “onreinheid” te vermy nie.—1 Tessalonisense 4:3-8.

’n Suksesvolle stryd

Christene in Tessalonika moes hard stry vir die geloof. Maar ten spyte van teenstand, ontberinge en ’n heidense en onsedelike omgewing het Paulus hulle geprys vir hulle ‘getroue werk, hulle liefdevolle arbeid en hulle volharding’ sowel as vir die bydrae wat hulle gelewer het om die goeie nuus wyd en syd te verkondig.—1 Tessalonisense 1:3, 8.

In 303 HJ het wrede vervolging uitgebreek teen verklaarde Christene in die Romeinse Ryk. ’n Hoofaanstigter van die vervolging was keiser Galerius, wat in Tessalonika gewoon het en pragtige geboue daarin opgerig het. Toeriste kan nog die ruïnes van party van daardie geboue sien.

Vandag preek Jehovah se Getuies in Tessaloníki vir hulle bure, dikwels reg voor strukture wat deur daardie wrede vyand van die Christelike godsdiens opgerig is. Hoewel daar tye in die 20ste eeu was waartydens hulle hulle predikingswerk ondanks kwaai teenstand gedoen het, is daar nou ongeveer 60 ywerige gemeentes van Getuies in die stad. Hulle pogings toon dat die stryd vir die verkondiging van die goeie nuus wat soveel eeue gelede begin het, nog steeds voortgaan en nog steeds suksesvol is.

[Voetnote]

^ par. 16 Hierdie term is nie in Griekse literatuur aangetref nie. Maar inskripsies wat in die omgewing van Tessalonika gevind is, en waarvan sommige uit die eerste eeu VHJ dateer, bevat die term en bevestig dus Handelinge se verslag.

[Kaart op bladsy 18]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Via Egnatia

MASEDONIË

Filippi

Amfipolis

Tessalonika

Berea

TESSALIË

Egeïese See

ATENE

[Prente op bladsye 20, 21]

Bo: Tessaloníki vandag

Bo: booggang en Romeinse badhuis in die Agora

[Erkenning]

Twee foto’s links onder: 16th Ephorate of Prehistoric and Classical Antiquities, copyright Hellenic Ministry of Culture and Tourism

[Prente op bladsy 21]

Die koepelgebou naby Galerius se boog; ’n reliëf van Keiser Galerius; getuieniswerk naby Galerius se boog

[Erkenning]

Middelste foto: Thessalonica Archaeological Museum, copyright Hellenic Ministry of Culture and Tourism

[Foto-erkennings op bladsy 18]

Reliëf van kop: © Bibliothèque nationale de France; klipinskripsie: Thessalonica Archaeological Museum, copyright Hellenic Ministry of Culture and Tourism